Nuus > In die media > Aankondiging: AfriSake sal gratis regsaksie dryf vir eerste lid wat sonder vergoeding onteien word

AfriSake het vandag aangekondig dat dit gratis regsaksie sal instel namens sy eerste lid wat ’n slagoffer word van onteiening sonder vergoeding weens ’n wysiging van die eiendomsklousule in die Grondwet. Alle lede van AfriSake, sowel persone as maatskappye, sal hierdie beskerming geniet.

Dít volg op die aanvaarding van die EFF se mosie op 27 Februarie 2018 in die parlement om die proses te begin om die Grondwet te wysig om grond sonder vergoeding te onteien. En dit volg ook op die opmerkings gister by die sogenaamde Nasionale Forum vir Dialoog, waar Maite Nkoana Mashabane, die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, aangekondig het dat haar departement reeds grond vir onteiening sonder vergoeding geïdentifiseer het. “Sy berei voor vir ’n toetssaak om grond sonder vergoeding te onteien,” is berig.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, sê die sakeregtewaghond sal nie huiwer om regsaksie in hierdie verband in te stel nie. “Ons is gereed om regsaksie namens die eerste AfriSake-lid in te stel wie se eiendom ingevolge ’n wysiging van die eiendomsklousule in die Grondwet sonder vergoeding onteien word en sal die regskoste daarvoor te dra.”

Le Roux sê verder dat AfriSake nie by só ’n onreg sal berus net omdat dit in die Grondwet ingeskryf word nie. “Onteiening sonder vergoeding is diefstal, ongeag of dit grondwetlik gemaak word of nie.”

“Boonop sal die verwatering van eiendomsreg in Suid-Afrika tot ernstige ekonomiese skade en maatskaplike ontwrigting lei – dit sal glad nie in openbare belang wees nie. Dit sal die vordering met grondrestitusie sedert 1994 omkeer, en die enigste twee bronne van suksesvolle grondhervorming – welwillendheid en die vryemark – belemmer, en laat Suid-Afrika dan met slegs regeringsgrondhervorming. En om skande by skade te voeg, wys alle aanduidings dat die ANC en EFF van plan is om die staat die kurator of eienaar van grond te maak, wat sal lei tot selfs minder swart, bruin en Indiër eienaars as wat tans bestaan. Enige ondermyning van die eiendomsreg van wit grondeienaars sal ten koste van die eiendomsreg van alle rasgroepe in Suid-Afrika ook geskied.”

Benewens die voorbereiding op ’n regsaak werk AfriSake ook aan ’n omvattende plan vir die beskerming van eiendomsreg. Hierdie plan sal in die besonder fokus op die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet, maar ook op die beskerming van eiendomsregte in die algemeen. Meer hieroor sal eersdaags bekend gemaak word.

*AfriSake is ’n sake-organisasie wat eiendomsreg en vrye markte bevorder. Dit dien die openbare belang waar sy lede ook al sake doen, sowel as die belange van sy 12 000 lede op die gebiede van openbare beleid, sakedienste en sake-infrastruktuur.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN