Nuus > In die media > Aankondiging: AfriSake word Sakeliga

Die sake-organisasie, AfriSake, het vandag aangekondig dat dit sy naam verander na Sakeliga. Die besluit vorm deel van ‘n volgende fase vir die organisasie, waarin dit sy strategie uitbrei: van sakeregtewaghond na sakegemeenskap.

In sy nuwe fase sal Sakeliga onder meer gekenmerk word aan ‘n netwerk van plaaslike sakekamers en ander affiliasies, sowel as inisiatiewe vir selfregulering en om sy lede so bestand moontlik teen skadelike staatsinmenging te maak.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, voorheen bekend as AfriSake, sê die naamsverandering lui ‘n nuwe fase in: “Van ‘n klein begin met senior sakelui in 2011 het AfriSake gegroei tot die primêre sakeregtewaghond in Suid-Afrika. Met 12 500 lede is dit vandag die grootste Afrikaanse sake-organisasie ooit. Terselfdertyd het die omvang van die probleme in Suid-Afrika só toegeneem dat die staat skynbaar óf onwillig óf eenvoudig onbekwaam is om sakeregte, vrye markte en ‘n konstitusionele orde in stand te hou. Danksy die saadkapitaal van ons ondersteuners kan ons ons strategie uitbrei: AfriSake, die sakeregtewaghond word Sakeliga, die selfstandige sakegemeenskap.”

Le Roux vervolg: “Sakeliga bevorder voorspoed, vrye markte en ‘n konstitusionele orde in die belang van sy lede en in die gemeenskaplike belang waar ook al sy lede sake doen. Waar ons dit, as sakeregtewaghond, in die verlede veral gedoen het deur voorspraak te lewer en te beding vir ‘n beter sake-omgewing, mobiliseer ons nou ons lede se kapitaal vir bykomende oogmerke.”

Sakeliga se strategie vir ‘n selfstandige sakegemeenskap is drieledig:

  • Antisipeer politieke risiko’s en staan lede by om so staatsbestand moontlik te wees, sodat sakelui waarde kan bly toevoeg ongeag staatsinmenging;
  • Beding met die regering vir ‘n gunstige sake-omgewing, vrye markte en ‘n konstitusionele orde; en
  • Skep ‘n selfstandige sake-omgewing, waarbinne ‘n netwerk van sakelui met behulp van selfregulering en privaat infrastruktuur kan bly sake doen en voorspoed skep ongeag die sake-omgewing wat die staat skep.

Le Roux sê die naam, Sakeliga, is afgelei uit die naam van die grootste sake-organisasie wat die wêreld nóg geken het, die Hanseliga: “Die Hanseliga was ‘n sakegemeenskap wat dieselfde drie oogmerke as ons gehad het en vir etlike eeue ‘n sleutelrol in die ekonomiese opbloei van Europa gespeel het. Dit het voorspoed en skoonheid geskep nie net vir sy lede nie, maar vir alle gemeenskappe waar ook al sy lede sake gedoen het. Dit het nie eenkant gestaan nie, maar was wél selfstandig en kon daarom waarde toevoeg ongeag die eksterne politieke omgewing. Gaan besoek vandag die stede en streke waar die Hanseliga was en jy sien steeds die blywende invloed daarvan: Van kerke tot universiteite, van paaie tot hawens, van kuns tot handel. Dit dien vir ons tot inspirasie.”

Le Roux spreek ‘n besondere woord van dank teenoor AfriForum uit: “Nadat AfriSake in 2011 gestig is het ons in 2013 met AfriForum ‘n vyfjaar-ooreenkoms gesluit ingevolge waarvan AfriForum, as deel van die Solidariteit Beweging, AfriSake met kundigheid en bedryfsondersteuning in die oprigting van ‘n ondersteunersgefinansierde organisasie sonder winsoogmerk gehelp het. Ek wil my besondere dank aan AfriForum vir hul bystand in die periode uitspreek. Die probleme in Suid-Afrika is groot en kan slegs te bowe gekom word as burgerlike organisasies mekaar ondersteun en samewerking opsoek – só in die verlede en só ook in die toekoms.”

Aanwending en oorgangsreëlings

Die verandering na die naam Sakeliga, sowel as veranderinge in logo en ander visuele elemente op kommunikasieplatforms, tree op 24 Julie 2018 om 10:00 in werking. Sommige elektroniese platforms sal vir ‘n oorgangstydperk nog die naam AfriSake vertoon, maar sal so gou doenlik omgeskakel word.

Die naam, Sakeliga, sal in alle tale as ‘n onvertaalde handelsmerk gebruik word, met vertaling van die beskrywing “selfstandige sakegemeenskap” soos gepas. In ‘n Engels teks sal dit, byvoorbeeld, gebruik word as “Sakeliga, an independent business community …”

Hoëgehalte weergawes van die logo en ander visuele elemente is op aanvraag by diens@sakeliga.co.za  beskikbaar.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN