Afrikaners is nie gronddiewe nie – AfriSake

Jan 12, 2016 | Alle Nuus, Featured Artikels, Nuus

“Indien u poog om ʼn groep mense wat nie eers 8% van die bevolking uitmaak nie, van diefstal te beskuldig, dan is u ʼn baie desperate man, mnr. Jacob Zuma.” Dit is die mening van Armand Greyling, regs- en beleidsanalis verbonde aan AfriSake.

Dit volg nadat president Zuma op 8 Januarie 2016 in Rustenburg met ANC-ondersteuners vergader het tydens die regerende party se 104de verjaarsdagvieringe. Hy het benadruk dat die oorsprong van armoede, werkloosheid en ongelykheid toegeskryf kan word aan die feit dat grond van inheemse groepe “gesteel” is.

“Hierdie is ʼn duidelike teken van hoe desperaat die ANC besig is om te raak om eenvoudig mag te behou. Die ANC het nog nooit sedert 1994 sulke taal gebruik om na grondhervorming te verwys nie, maar indien die ANC se huidige leierskap asook die feit dat opposisiepartye besig is om werklike bedreigings vir sy heerskappy in te hou, in ag geneem word, is hierdie tipe opmerkings naderend,” het Greyling bygevoeg.

Artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 beskryf die reg op eiendom en dat niemand van eiendom ontneem mag word behalwe in terme van die wet op algemene toepassing nie, en dat geen wet arbitrêre ontneming daarvan mag toelaat nie. Dit verklaar ook dat eiendom onteien mag word in terme van die wet op algemene toepassing vir openbare doelwitte of in openbare belang, maar onderworpe aan vergoeding.

AfriSake sal nie staan en toekyk hoe die regering boelie-taktiek gebruik om homself in ʼn magsposisie te vestig nie. Die sakeregte-waghond daag die ANC dus uit om met sy dreigemente oor grondhervorming voort te gaan, aangesien hulle teen vinnige en aggressiewe opposisie te staan sal kom.