Nuus > In die media > ANC-verkiesingsmanifes: Strenger SEB sleg vir sake – Sakeliga

Die sakeorganisasie Sakeliga het vandag verskeie skadelike planne in die ANC se 2019-verkiesingsmanifes uitgelig. Te oordeel na sy manifes, beoog die ANC om Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) uit te brei deur middel van nog knellender bepalings oor eienaarskap en selektiewe afdwinging van mededingingswetgewing. Sy planne vir staatsgeleide investering bedreig die vermoë van privaatsektorinvesteerders om hulle geld na goeddunke aan te wend. Voorgestelde maatreëls om staatsbeheer geweldig uit te brei, sluit in mededingingswetgewing om groter diskresionêre beheer oor die bestuur en bedryf van Suid-Afrikaanse ondernemings uit te oefen.

Dit blyk dat die ANC reken dat politici, en nie entrepreneurs nie, ekonomiese groei kan dryf. Reël vir reël onthul die manifes ’n onkunde van die funksies van entrepreneurskap, eienaarskap en ook die markstelsel by die toewysing van ekonomiese hulpbronne.

“Die manifes ontbloot die ANC se diepgewortelde minagting van die privaat sektor en die rol wat hierdie sektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel. Deur sy verontagsaming van die sakesektor se omvangryke vermoë tot maatskaplike opheffing en openbare welsyn het die ANC dit duidelik gemaak dat hy voornemens is om sy beheer oor die Suid-Afrikaanse ekonomie verder uit te brei en te verstewig,” aldus Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga.

Van Onselen sê: “Strydig met basiese ekonomiese beginsels probeer die ANC om die ekonomie in die beperkings van idiosinkratiese politieke planne in te dwing. Dit is asof die ANC van ’n entrepreneurlose ekonomie beoog, waar entrepreneursoordeel en kapitaaltoewysing in die Suid-Afrikaanse ekonomie deur politieke verordening en kapitaaltoe-eiening vervang word.”

Sakeliga lig die ANC se ironiese wanbegrip van monopolie uit: “Die ANC se eiesinnige definisie van ‘monopolieë’ bied rede tot kommer – veral by gebrek aan enige beloftes om ’n einde te maak aan staatsmonopolieë en regulering wat vrye mededinging aan bande lê,” sê Daniel du Plessis, regsontleder by Sakeliga.

Die ANC het sy manifes gebruik om sy voorneme duidelik te stel om beleidsmaatreëls ter bevordering van sosiopolitieke oogmerke te gebruik. Die party het byvoorbeeld belowe om “ondersoek in te stel na die instelling van voorgeskrewe bates op finansiële instellings se fondse om fondse in ’n reguleringsraamwerk vir sosiaal produktiewe investerings te mobiliseer”.

Volgens Du Plessis sal hierdie beleid waarskynlik ernstige gevolge vir investering in Suid-Afrika hê. “Dit kom in werklikheid neer op die toe-eiening van privaat persone se geld om die talle ydelheidsprojekte, sukkelende staatsbeheerde ondernemings en korrupte instellings wat die kenmerk van die Suid-Afrikaanse openbare sektor is, aan die gang te hou. Hierdie skema loop saam met die ANC se alomteenwoordige beloftes van grondonteiening sonder vergoeding, en dui op ander onteieningsbeleide wat in die toekoms kan volg.”

“In die geheel dui die manifes op groter politieke beheer oor die Suid-Afrikaanse ekonomie, en dit bied nie ’n oplossing vir die land se ekonomiese probleme nie,” sê Du Plessis.

 

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF