Nuus > Sakewenke > Beleidsradar-blog: Minister van arbeid beoog strenger Regstellende Aksie

Thulas Nxesi, die minister van Indiensneming en Arbeid, het in ’n onlangse antwoord op ’n parlementêre vraag sy voorneme bevestig om ’n strenger toepassing van regstellende aksie op ondernemings af te dwing.

Die minister beoog om voor die einde van die jaar wetgewing voor te lê wat Artikel 53 van die Wet op Diensbillikheid in werking sal stel. Hierdie bepaling sal vereis dat ondernemings wat met die staat sake doen, spesifiek ‘aangewese werkgewers’, ’n sertifikaat van voldoening ten opsigte van diensbillikheid en regstellende aksie sal moet voorlê. Die departement sal waarskynlik hierdie sertifikate van voldoening uitreik.

Ondernemings wat nie aan dié bepalings voldoen nie, sal uitgeskakel kan word van regeringskontrakte. Dit sal gevolglik beteken dat swart ekonomiese bemagtiging (BEE) en regstellende aksie (AA), soos in die Wet op Diensbillikheid bepaal word, nouer sal saamwerk op die gebied van ekonomiese beleid.

Die minister wil verder bykomende bepalings in werking stel wat aan hom die mag sal gee om numeriese AA-teikens vir regstellende aksie op verskillende sektore af te dwing.

Tot dusver is algemene AA-teikens eng aan die proporsionele verteenwoordiging van die verskillende populasiegroepe in die ekonomies aktiewe populasie (EAP) gemeet.

Hierdie antwoord van die minister bevestig net verder wat Sakeliga al lank sê, dat ’n strenger en meer bestraffende benadering tot die ANC-regering se program van rassetransformasie in proses is.

Ingevolge die voorgestelde maatreëls beoog die minister basies om rasindiensnemingsteikens vir bedrywe, soos die finansiëledienstesektor, te kan voorskryf.

Ten slotte, in sy antwoord, stel die minister ’n uitdruklike voorneme om die hamer te laat val, selfs op ondernemings wat nie met die staat sake doen nie. Hy stel dit soos volg:

“Noteworthy is that, even those non-compliant organisations that do not necessarily depend on state contracts for their business, will still have to face consequences by being referred to the Labour Court for a penalty to be levied against them as per Schedule 1 of the EEA [Employment Equity Act].”

Dit is ook so dat Suid-Afrika se wanfunksionele onderwysstelsel klaarblyklik nie die vaardighede produseer wat die ekonomie benodig nie. Hierdie gebrek, meen ons, dra grootliks by tot ’n ongelykheid van vaardighede. Sodanige ongelykheid sal klaarblyklik nie erken word as ’n rede om nie aan AA-teikens te voldoen nie – tog maak die beskikbaarheid van vaardighede vir ondernemings saak.

Volgens president Ramaphosa self word dit tans oorweeg om visums vir buitelanders met spesiale vaardighede makliker bekombaar te maak. Daardeur sal vaardige buitelanders makliker aan die plaaslike ekonomie kan deelneem. Dit word voorgehou as een van die ‘Ramaphosa-hervormings’. In die hedendaagse ekonomie is daar basies min fout daarmee om buitelandse vaardighede in te voer.

Tog is dit ironies dat vaardighede nou makliker ingevoer moet word terwyl aktiewe maatreëls ingestel bly, en klaarblyklik verskerp gaan word, wat vaardige landsburgers wat ‘wit’ is se toegang tot sekere poste bemoeilik. Ongeag sprake deur die Ramaphosa-administrasie om sake te vergemaklik, tree die departement van arbeid en indiensneming nou in met voorstelle vir bykomende rompslomp en koste vir ’n groot aantal werkgewers in die formele arbeidsmark.

Dit is natuurlik so dat die minister met hierdie soort maatreëls bepaalde uitkomste in die ekonomie sal kan skep. Hy sal met die strafhamer die ekonomie nader kan timmer aan die soort ‘verteenwoordiging’ wat die ANC-regering, uiteindelik, bloot as verteenwoordiging volgens ras geïnterpreteer het.

Met genoeg dwang en ingrypende staatsregulering is baie dinge sekerlik moontlik, maar teen watter koste? Is persentasies en proporsies dan werklik al wat saak maak? Of, ná alles, kan die ‘persentasies’ op die oog af reg lyk, maar ander ekonomiese uitkomste, soos uitset, produktiwiteit en ekonomiese vooruitgang, benadeel word? En wat is dan die gevolge daarvan vir die gemeenskappe in Suid-Afrika, veral vir die armes?

Is daar dan nie denkbare gevolge van hierdie soort dwangingrypings by die mark nie? Daar moet tog wees. ’n Aansienlike denkbare gevolg hiervan is natuurlik ’n groot burokratisering van die ekonomie. Om hierdie soort beleide te kan uitvoer, moet die regering sy burokrasie en hekwagterrolle oral in die ekonomie verskerp. Dit neem die ekonomie verder weg van marktoedeling en nader aan politieke-burokratiese toedeling.

Allerminste word ’n bykomende voldoeninglas daardeur op maatskappye gelaai wat uiteindelik maar neerkom op ’n koste (oftewel ’n soort ‘belasting’). So ’n koste verteenwoordig ekonomiese afruilings. Ons moet dan wonder waarop maatskappye andersins, sonder hierdie soort inmenging, hul hulpbronne sou kon bestee het?

BEE en AA maak dit ongetwyfeld moeiliker om sleutelposte te vul, maar wat is die gevolg daarvan? Heel waarskynlik beteken hierdie rompslomp ’n hindernis tot ondernemings se bedrywighede. Om in ’n globale ekonomie sake te doen, is reeds ’n groot uitdaging. Sake en ondernemerskap is hier weens hierdie voldoeningslaste moeiliker en duurder as wat dit hoef te wees. Duurder en moeiliker sake het tog uiteindelik ook ’n impak selfs op verbruikers.

Dit is dan uiteindelik wat BEE en AA is: ’n toedeling van arbeid en ekonomiese hulpbronne, buite vryemarkprosesse en entrepreneursoordeel, deur die voorskrifte van politici en burokrate.

Diegene wat in die verdienstelike werking van markte glo, is nie verbaas wanneer hierdie vorm van toedeling swak en ondoeltreffende uitkomste meebring nie. Daar is baie redes vir SA se huidige swak ekonomiese prestasie; tog kan ons met reg wonder wat die aandeel van hierdie inmenging op die sakesektor daarin is.

Luister gerus na die Beleidsradar se gesprek met prof. Peter Klein oor hierdie onderwerp.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF