Beleidsradar: IMF-aanbevelings vir SA beleidshervorming

pexels-photo-416312

Die Internasionale Monetêre Fonds het onlangs ’n Artikel IV-besoek aan Suid-Afrika afgesluit. Die IMF lê gewoonlik jaarliks sulke besoeke aan lidlande af. Die IMF-konsultasie is in November 2019 afgesluit en is gevolg deur ’n Artikel IV-verklaring en verslag wat op 30 Januarie 2020 vrygestel is. Die volledige persverklaring, IMF-personeelverslag en uitvoerende verklaring is hier beskikbaar.

Die verklaring is noemenswaardig veral vir die wyse waarop die plaaslike ekonomie voorgestel word en die hervormings wat die IMF dink nodig is om SA se ekonomie om te keer. Die verslag gee ons as’t ware ’n kykie in ‘IMF-denke’. Sou SA se regering ooit besluit om die IMF te nader vir enige lenings om by te staan met die betalingsbalans, of finansiële bystand vir strukturele aanpassing, is dit waarskynlik dat die IMF se huidige “aansporings” in die verslag vinnig in leningsvoorwaardes sou kon verander. (Of die ANC ooit die IMF sou nader voor hulle ’n aantal ander skadelike opsies, soos ‘voorgeskrewe bates’, sou uitput, is ’n oop vraag.)

Vir die doeleindes van hierdie bespreking sal ons fokus op die IMF se perspektief op die SA regering se ekonomiese beleid. Ons fokus op ’n paar voorstelle vir ekonomiese hervorming wat deur die IMF gemaak is. Ons sal daardie voorstelle inkleur met ’n klompie van ons eie oorwegings. Laastens sal ons afsluit met kommentaar op die hervormingsprioriteite wat tans deur die regering self beklemtoon word (sien die tabel hier onder). In die lig van die IMF se assessering en ons oorwegings dink ons nie dat die regering se huidige hervormingspogings ver genoeg gaan nie.

Die kern van die IMF se verklaring

Die kern van die IMF se uitvoerende raad se onlangse verklaring is klaarblyklik ’n “aansporing” vir die regering om “sterk fiskale konsolidasie en staatsondernemingshervormings te implementeer om skuldvolhoubaarheid te verseker, vergesel deur besliste strukturele hervormingsmaatreëls om privaatsektorgeleide, inklusiewe groei te bevorder” [beklemtoning bygevoeg].

Fiskale oorwegings         

Die verklaring is gemaak onder toestande van ernstige druk op die regering se begroting. Dit was alte sigbaar in die skoknuus oor regeringskuld in die Oktober 2019 mediumtermyn-begroting, waar ’n verstommende verswakking gesien is  in die skuld-tot-BBP-uitkyk.

Die klem op die noodsaak om staatsfinansies onder beheer te kry is, alles in ag genome, nie regtig ’n verrassing nie. Fiskale verslegting is nou al etlike jare aan die kom. Die IMF se aansporing om “skuldvolhoubaarheid oor die mediumtermyn te onderhou” is beslis redelik.

Die IMF se fiskale aanbevelings vir die regering sluit in om die staatskuld op volhoubare vlakke te anker, verdere “fiskale verrassings” wat vanuit van staatsondernemings voortspruit te vermy en die doeltreffendheid van openbare besteding te verhoog. Volgens die IMF moet staatsondernemings meer soepel, doeltreffend en mededingend gemaak word.

Dit is beslis goeie idees. Die hoofstruikelblokke lê ongelukkig nie in die van die probleem nie, maar in die uitvoering van oplossings in ’n ekonomie wat gekniehalter word deur politiek.

Belastingmaatreëls is ook voorgestel. Sulke maatreëls is klaarblyklik in lyn met die gemengde-ekonomiefilosofie van die IMF en beklemtoon ’n sterker belastingadministrasie en die beperking van sogenaamde “basiserosie” en “winsverskuiwing”.

Die verslag gee ook die volgende mening: “Gegewe die sleutelrol van besteding in groter tekorte, die relatiewe belasting-tot-BBP-verhouding, die onsekere uitkomste van belastingmaatreëls in ’n swak ekonomie, en die grootliks inkomstegebaseerde pogings om te konsolideer van die afgelope paar jaar, word ’n bestedingsgebaseerde aanpassing aanbeveel.”

Dit is ’n tegniese manier om die regering te sê om besteding nou te besnoei en om nie belasting te verhoog nie.

Beoordeling van “Strukturele Hervormings”

Die belangrikste oorweging is moontlik die IMF se idees oor strukturele beleidshervormings. Heelwat van hierdie hervormings, hoewel moontlik nie almal nie, is in lyn met ons gedagtes rondom hervorming. Die kern van hulle “aansporings” is oproepe tot strukturele hervormings wat “die koste van besigheid doen verlaag en privaat belegging ’n hupstoot gee.”

Meer nog, om belegging aan te spoor, raai die IMF die regering aan om “vertroue-ondermynende beleidsaankondigings”, soos rondom onteiening, “te verminder”. Die verslag maak hierdie punt duideliker deur te verduidelik: “… die beleid [van onteiening sonder vergoeding] gee egter aanleiding tot eiendomsregkwessies onder huidige en toekomstige grondeienaars.”

In die konteks van strukturele hervormings noem die IMF-verslag dat mededinging verbeter moet word in verbruikersmarkte (produktemarkte). Dit kritiseer ook elemente van die huidige arbeidswet en industriële beleid. Die IMF voel ook dat “beperkings op  verkryging” en “arbeidsregulasies” die ekonomie ernstig belemmer.

Die klem op die aard van regulasies moet in ag geneem word. Dit lyk asof sommige plaaslike kommentators uitsluitlik fokus op kwessies van ‘beleidsonsekerheid’ sonder om die vorm van die regering se ekonomiese beleide in ag te neem.

Byvoorbeeld, die ANC-regering mag alte bly wees om “konsentrasie” deur mededingsmaatreëls te takel, wat in lyn sou wees met die IMF-verslag se voorstelle en praktyke in ander wettige regsgebiede. Dit moet egter oorweeg word dat die presiese vorm wat beleidsmaatreëls hier aanneem kan verskil van ander regsgebiede – en meer of minder skade aan die funksionering van ’n markekonomie kan aanrig.

Mededinging

In sy verslag lewer die IMF ’n pleidooi dat “verwringende regulasies” in produktemarkte en maatreëls om “mededinging ’n hupstoot te gee” oorweeg word. Ons meen dat regulasies en gevolglike voldoeningsvereistes (koste) dikwels die presiese struikelblokke skep wat klein besighede wat nie kan hoë voldoeningskoste/vereistes kan bekostig nie verhinder om deel te neem aan die ekonomie.

Vreemd genoeg lyk dit asof die IMF oningelig is oor die onlangse ontwikkelings in die toepassing van plaaslike mededingingsbeleid met ‘openbare belang’- en ‘VBP-bemagtiging’-stipulasies. Dit is belangrik omdat dit iets sê oor die tipe mededingingsmaatreëls wat ons kan verwag om te sien.

Byvoorbeeld, in een mededingingsaak is ’n samesmelting eers goedgekeur op die voorwaarde dat die maatskappy wat die aankoop verkry (Astron) ’n R220 miljoen-bemagtigingsfonds opstel. Dit is gedoen in lyn met sogenaamde ‘openbare belang’-oorwegings.

Ons sou argumenteer dat sulke inmenging in die mark nie werklik besig is om te beweeg in die rigting van vryer markte of nie-intervensionisme nie. Op die allerminste sou dit ongetwyfeld belegging in Suid-Afrika kon ontmoedig deur samesmeltings duurder te maak.

Arbeidsmarkhervormings

Die verslag noem die behoefte aan arbeidsmarkhervormings en vra vir meer “buigsaamheid” in arbeidsmarkte. Dit sien die huidige toepassing van  kollektiewe bedinging, en die uitbreiding van kollektiewe ooreenkomste, as problematies. Arbeidsmarkbuigsaamheid, so het die IMF in ’n vorige verslag geargumenteer, kan verhoog word deur gesentraliseerde kollektiewe bedinging te hersien.

Privaatsektordeelname

Die verslag lewer ook ’n pleidooi vir privaatsektordeelname in netwerkindustrieë, soos elektrisiteitsvoorsiening. Sakeliga lewer dikwels ’n pleidooi vir ’n hersiening van elektrisiteitsregulering (ERW) met die doel om groter privaatsektorelektrisiteitsvoorsiening toe te laat.

Industriële beleid

Die IMF het ook plaaslike industriële beleid gekritiseer deur te sê, “… meer algemeen behoort die industriële beleid wat in plek is oor te skakel van subsidies en belastingtoegewings vir geselekteerde sektore na die fasilitering van gunstige sake-omstandighede om enige firmas wat in globale marke kan meeding, te lok.”

Na ons mening is dit korrek. Deur industriële beleid tree die regering te veel op soos ’n entrepreneur soos wat dit probeer om sekere sektore te identifiseer en ondersteun as deel van ’n industriële strategie. Terwyl sulke beleide algemeen is in heelwat lande, sou ons argumenteer dat dit vanuit ’n vryemarkperspektief problematies is om bepaalde sektore te subsidieer en invoerbelasting te eis. Na ons oordeel behoort ekonomiese beleid eerder daarop te fokus om, breedweg, belemmerings en hindernisse in die pad van handel en sake te verwyder.

Bemagtiging

Interessant genoeg let die IMF-verslag daarop dat “Die owerhede [SA regering]… die inherente doeltreffendheid-ekwiteitopweging erken [het] wat spruit uit die regulatoriese vereistes wat daarop gemik is om burgerlike deelname in die ekonomie te verbreed en die ontluiking van industrieë deur lokalisasie te ondersteun.”

Dit verwys na BEE- en lokalisasiebeleide. Die klaarblyklike erkenning deur die regering dat BEE-eienaarskapoordragte doelmatigheid van die ekonomie kan belemmer is welkom. Indien die regering inderdaad inherente opwegings erken, sou ’n logiese volgende stap wees om te vra of die verliese (koste) nie in der waarheid groter is as die voordele nie.

Die regering se huidige hervormingspogings

Die IMF-verslag sit ook in ’n tabel die vernaamste huidige hervormingsprioriteite uiteen wat deur die Suid-Afrikaanse regering self voorgelê is. Dit is as’t ware die regering se eie doelwitte vir beleidshervorming.

Ons verskaf die tabel hier onder met verdere gedagtes oor hervorming in die laaste kolom.

Ons aanbevelings sal hoogs markvriendelik voorkom, en, toegegee, in hierdie stadium polities moeilik om te implementeer. Ons hoop egter om ’n teengewig te bied teen die huidige hoogs intervensionistiese beleidskontinuum in Suid-Afrika. Op die allerminste sal ons aanbevelings dui op die rigting wat hervormings moet inslaan om as meer markvriendelik gesien te word.

Archives