Nuus > In die media > Eerste sakekamer affilieer by Sakeliga

Die sake-organisasie Sakeliga kondig vandag met trots aan dat die Waterberg Sakekamer gisteraand die eerste plaaslike sakekamer geword het om by Sakeliga te affilieer. Dit vorm deel van Sakeliga, voorheen bekend as AfriSake, se strategiese uitbreiding op plaaslike vlak om gesamentlik die sterkste sakegemeenskap in Suid-Afrika te vorm.

Ingevolge die memorandum van verstandhouding tussen die twee organisasies word in die vooruitsig gestel dat die Waterberg Sakekamer na ‘n oorgangsperiode as die Waterberg Sakeliga bekend sal staan.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die doel van affiliasie is tweeledig: “Eerstens bevorder dit samewerking tussen verskillende plaaslike sakegemeenskappe, wat vir te lank geïsoleer was. Kyk byvoorbeeld na die huidige elektrisiteitskrisisse in plaaslike munisipaliteite, waar die mantel telkens op plaaslike sakelui se skouers geval het om die krag aan te hou. Met beter koördinering kan die regs- en ander koste van sulke aksies verlaag en die doeltreffendheid daarvan verhoog word.”

“Tweedens,” sê Le Roux, “dra affiliasies oorkoepelend by tot ‘n gunstige sake-omgewing. Saam is sakelui meer invloedryk, om sterker te staan teen staatsinmenging soos onteiening sonder vergoeding. Saam is sakelui se koopkrag groter, om afslag vir strategiese produkte en dienste te bekom. En saam kan sakelui privaat ekonomiese infrastruktuur skep en aanmoedig, daar waar die staat tekortskiet – van elektrisiteit tot privaat geskilbeslegting. Niks hiervan is maklik of vinnig nie, maar dit alles voorbeelde van wat sowel moontlik as nodig is. En dit is boonop, per slot van sake, in die openbare belang.”

Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg Sakekamer, sê sy lede en bestuur sien uit na die verhouding met Sakeliga: “Ons is trots daarop om die eerste plaaslike sakekamer te wees wat by Sakeliga affilieer. Die tyd is ryp dat plaaslike sakekamers weer met mekaar koördineer. Ons moedig ander sakekamers aan om ook in te skakel, sodat ons saam kan bou aan die grootste sakegemeenskap wat die land nog gesien het. Ons moet saamwerk vir ‘n gunstige sake-omgewing op plaaslike én nasionale vlak, nie net in sakelui se belang nie, maar bepaald ook in die openbare belang.”

Die aankondiging het plaasgevind by ‘n glansfunksie van die Nyliefees, vir borge, lede en hooggeplaastes van die Modimolle plaaslike munisipaliteit en groter Waterberg-streek. Die Nyliefees, ‘n plaaslike kunsvlyt-, musiek- en sakeskou, vind plaas vanaf 14 tot 16 September by die Hoërskool Nylstroom en is ‘n inisiatief van die Waterberg Sakekamer.

Etlike ander sakekamers

Sedert die aankondiging in Julie van Sakeliga se beoogde affiliasieprogram het etlike sakekamers Sakeliga met die oog op inskakeling genader. Benewens Waterberg Sakekamer is Sakeliga tans reeds met agt ander plaaslike sakegroepe in gesprek.

As deel van die affiliasieprogram onderneem Sakeliga tans uitbreidings aan sy administratiewe stelsels, ten einde dit aan voornemende plaaslike sakeliga’s vir hul eie administrasie beskikbaar te stel. Die beoogde uitbreidings behels onder meer toegang vir plaaslike sakeliga’s tot ledebestuurstelsels, kommunikasie stelsels en geoutomatiseerde invordering van ledebydraes.

Vir meer inligting en oor hoe ander sakekamers en sake-organisasies ook by Sakeliga betrokke kan raak, klik hier.

 

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN