Sakeliga loods grondverskuiwende saak oor inperking

Scales of justice and Gavel on sounding block, object and law book to working with judge agreement in Courtroom, Justice and Law concept.
Scales of justice and Gavel on sounding block, object and law book to working with judge agreement in Courtroom, Justice and Law concept.

Die sakegroep Sakeliga het regsaksie van stapel gestuur wat beloof om die inperking, regoor sy verskillende vlakke, ingrypend te verander. Die saak het te make met die onregmatigheid van permitte en ander regeringslisensiëring van besighede.

Sakeliga versoek die Hoë Hof om ‘n wye reeks van lisensiëringsvoorwaardes wat deur die loop van die Ramptoestand in die lewe geroep is tersyde te stel, asook om besighede, organisasies sonder winsoogmerk en werknemers te beskerm teen onregmatige belemmering en arres.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê “die publiek staar vanweë die regering se onredelike en onregmatige grendelbenadering humanitêre, maatskaplike en ekonomiese katastrofe in die gesig. 19% van ondernemings in ‘n onlangse Sakeliga-peiling verwag om binne ‘n maand bankrot te speel. Geen stimulusbedrag kan dit regstel nie, veral nie die soort waar die regering ideologie bo nood stel nie. Die ekonomie moet heropen en alle nie-gesondheidsnoodsaaklike grendelregulasies behoort tersyde gestel te word.”

Die hof word versoek om te beveel dat die regering nie opdrag kan gee aan staatsorgane om ingevolge die ramptoestand lisensies, permitte of sertifikate uit te reik nie, en ook nie van besighede vereis om dit te hê nie, afgesien van die permitte wat besighede self uitreik. Die hof word ook versoek om spesifiek te beveel dat nie die polisie of enige ander wetstoepassers by magte is om ‘n CIPC-sertifikaat, permit of lisensie vir noodsaaklike of toegelate produkte en dienste te eis nie, behalwe vir self-uitgereikte permitte.

Le Roux sê nie alleen beskik die regering nie oor die reg om sodanige permitte, lisensies en sertifikate te vereis nie, maar het dit ook nie die implementeringsvermoë nie. “Soos aangedui in ons betoog aan die hof – en soos reeds algemene kennis is – kan meeste besighede nie sertifikate by die CIPC te verkry nie, en so ook nie munisipale permitte van wanfunksionele munisipaliteite af nie. Selfs wanneer dit wél bekom word, is CIPC-sertifikate en munisipale permitte geen waarborg teen onregmatige arrestasie en inmenging deur wetstoepassers nie.”

Sakeliga vra ook die hof om die skeiding van magte tussen nasionale, provinsiale en plaaslike regerings te herbevestig, asook om die nasionale regering te verbied om provinsiale en plaaslike regerings te beveel om besigheidslisensiëring toe te pas.

Van verdere belang is dat Sakeliga die hof in besonder vra om ook regulasies, gepromulgeer deur deur minister van kleinsakeontwikkeling op 12 Mei, tersyde te stel. Die regulasies bepaal dat verskeie tipes ondernemings, insluitende sogenaamde (en tog ongedefinieerde) klein bakkerye, snuisterye, en hardewarewinkels, sowel as informele en mikro-restaurante en shisanyamas, en handelaars en ambagsondernemings, nie sonder ‘n lisensie vanaf ‘n munisipaliteit sake mag doen nie.

Ondersteunende beëdigde verklarings vanaf besighede

Verskeie sake-eienaars het, ter stawing van Sakeliga se saak, ondersteunende beëdigde verklarings gelewer om voorvalle van inbreuk op hul regte en waardigheid sowel as benadeling van hul ondernemings en klante uiteen te sit. Lede van die media en ander belangstellendes word verwys na bladsye 123 tot 145 van Sakeliga se betoog vir hierdie beëdigde verklarings.

Le Roux spreek sy dank teenoor die outeurs van die ondersteunende beëdigde verklarings uit. “Ek bedank die sake-eienaars wat, in die openbare belang, na vore getree het en bereid was om die saak te ondersteun, ondanks die risiko’s wat dit vir hulle persoonlik inhou. Ons kon uiteindelike ‘n aantal van die gevalle by die saak insluit.”

“Gegewe die dringendheid van die saak en die aantal korrespondensie wat ons ontvang het, was ons nie in staat om alle gevalle na te gaan en op te volg nie. Hoewel ons dokumente nou reeds op die respondente beteken is, verwelkom ons enige verder openbare ondersteuning.”

Partye wat belangstel in samewerking binne die bestek van die hofsaak word versoek om Sakeliga se prokureurs, Kriek Wassenaar & Venter (www.kwv-inc.com), te kontak.

Om die grendelbenadering om te keer

In sy hofdokumente verklaar Sakeliga dispuut met die regering se benadering tot die grendelmaatreëls, wat behels dat bykans alle aktiwiteit buite die huis by verstek onwettig is, tensy daar eksplisiete magtiging van die regering ontvang word. In sy funderende beëdigde verklaring argumenteer Le Roux: “Ek voer aan dat die gewone grammatikale betekenis van “aanwysing” is “’n instruksie van hoe om ‘n bestemming te bereik of hoe om iets te doen”. ‘n Aanwysing kan derhalwe nie ‘n instruksie insluit van wat gedoen mag word en wat nie gedoen mag word nie. Ek voer verder aan dat die “hoe” gegewe artikel 36 van die Grondwet beperkend gelees moet word, dit wil sê: dit moet oor ‘n negatiewe karakter beskik wat spesifieke onaanvaarbare gedrag verbied, in stede van ‘n positiewe karakter wat alle optrede verbied, behalwe dit waartoe ‘n persoon beperk of verplig is.”

Hofstukke is op die partye beteken op Vrydag 15 Mei. Klik hier vir ‘n (deursoekbare) kopie.

Lisensiëring van besighede ook gepoog in 2013

Die huidige pogings om algemene besigheidslisensiëring te implementeer herinner sterk aan soortgelyke pogings deur die eertydse Minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, in 2013. Hoewel daar uiteindelik van afgesien is, was die Wetsontwerp op die Lisensiëring van Besighede ‘n poging om die Wet op Besighede van 1991 te herroep en ‘n nasionale register vir besighede te skep. Ingevolge die Wetsontwerp sou dit onwettig wees om sake te bedryf en te handel sonder om lisensieer en gelys op die nasionale register te wees, strafbaar met boete en tronkstraf.

“Regeringslisensiëring vir alle besighede is ‘n oorbodige, skadelike en gevaarlike oefening,” sê Le Roux. “Dit was ‘n slegte idee en onregmatig in 2013, net soos dit ook nou is. Nóú, sonder dat lisensiëring enige gesondheidsvoordele inhou, is die regering met die rampregulasies tóg besig om daardie raamwerk te skep, asof die Ramptoestand dit daardie reg gee.”

“Net soos wat niemand van die regering toestemming nodig het om ‘n verbruiker te wees nie, só ook het niemand toestemming nodig om te produseer nie. In die reg is die vraag van verbruik en produksie dieselfde – en geeneen vereis vooraf goedkeuring deur ‘n burokrasie nie. Besigheidslisensiëring skaad nie net alle besighede en verbruikers nie, maar hou boonop ‘n besondere gevaar in veral vir kleiner besighede, wat hoër kostes vir nakoming en meer risiko vergeleke met groter besighede in die gesig staar.”

Archives