Sakeliga nooi ondernemings om belemmering deur wetstoepassers aan te meld

pexels-fauxels-3183197

Die sakegroep Sakeliga berei tans voor op litigasie met die doel om die permitstelsel vir besigheid te verwyder of te versag. Die doel is om die reg op werk en op besigheid te herstel deur, waar die regering of wetstoepassers onregmatig permitte en papierwerk vereis, arres en verwante belemmering te voorkom.

Sakeliga nooi ondernemings en organisasies sonder winsoogmerk om gevalle van permit- en papierwerkverwante obstruksie deur wetstoepassers by [email protected] te rapporteer. Die betrokke insidente moes tussen 11 en 15 Mei 2020 plaasvind en verband hou met permitte wat nie deur ‘n hof uitgereik is nie, soos CIPC-sertifikate, munisipale permitte, permitte om oor munisipale of provinsiale grense te beweeg, permitte vir informele handelaars, welwillendheidspermitte soos koshulp, ens.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê hul regspan wil graag ‘n aantal van die mees skreiende gevalle by die litigasie insluit, ter ondersteuning van interdikte en ander hulp wat van die hof gevra word: “Ondersteunende verklarings kan ons saak versterk en ons versoek graag die publiek se bystand.”

CIPC terugkrabbeling

Soos Sakeliga nou reeds telkemale uitgewys het, en in teenstelling met polisie-optrede en die indruk geskep deur die regering, is daar geen vereiste vir organisasies om in besit van ‘n CIPC-sertifikaat te wees nie. In ‘n omsendskrywe gedateer 11 Mei 2020 gee adv. Rory Voller, ‘n CIPC-kommissaris, toe: “… die CIPC noodsaaklike dienstesertifikaat STEL NIE ‘n permit of toestemming om noodsaaklike goedere of dienste te voorsien daar nie… Hierdie opsie is nie-verpligtend …”
Sakeliga is deur senior advokate geadviseer dat wetstoepassers geen reg het om die aktiwiteite van ‘n organisasie vanweë die beskikbaarheid of nie van ‘n CIPC-sertifikaat te beperk nie.

“Om ‘n CIPC-sertifikaat te bekom is vir meeste besighede onmoontlik, maar selfs met die sertifikaat het besighede weinig beskerming teen vervolging. Ons versoek in besonder ondernemings en organisasies sonder winsoogmerk om insidente, waar wetstoepassers van hulle vereis het om CIPC-sertifikate te toon of waar hulle met verwysing na die afwesigheid of nie van CIPC-sertifikate belemmer is, aan ons te rapporteer,” sê Le Roux.

Onoorkombare nakomingsversperring

“Ons het in die afgelope aantal weke gesien hoe die regering, strydig met die vereistes van konstitusionalisme, ‘n nuwe, ondeursigtige en arbitrêre regulatoriese raamwerk opstel. Ingevolge hierdie nuwe stelsel is basies alles wat nie uitdruklik deur die regering toegelaat word nie – en op een of ander wyse met ‘n permit bestempel nie – verbode. Die regulasies sentraliseer alle mag in die hande van die uitvoerende gesag, met die regering en wetstoepassers wat eensydig as regter, wetmaker en toepasser optree.”

Op meer as ‘n duisend bladsye vorm die ramptoestandregulasies nou ‘n “onoorkombare en duur nakomingsversperring vir sakelui en die publiek, wat die voorgehoue status daarvan – as regmatige beperkings op optrede – in gedrang bring. Geen normale persoon kan op hoogte van hierdie voorskrifte bly nie,” sê Le Roux. “Dit is noodsaaklik dat ons, terwyl die herinnering aan merendeels regmatige en konstitusionele optrede deur die regering nog lewendig is, die howe met ‘n versoek om regshulp teen die permitstelsel en die sentralisering van mag in die uitvoerende deel van die staat nader.

Litigasiestrategie

Sakeliga se litigasiestrategie is om kernbelangrike onregmatige en skadelike regulasies of intervensies te teiken wat, eenmaal uit die weg geruim, so veel as moontlik vryheid om te werk, handel en mekaar onderling by te staan sal herstel,” sê Le Roux. “Ons litigasiespan beweeg so vinnig as wat hulle kan, wetende dat ons met ‘n regering werk wat sy regulasies in die hardloop aanpas om by sy onaanvaarbare optrede te pas, in stede daarvan om sy gedrag aan te pas na vereistes van regmatigheid, redelikheid en konstitusionalisme. Die regering se regulatoriese knip-en-plakkery bemoeilik die poging, maar ons het deurlopend vordering gemaak en versoek nou die publiek om gevallestudies by te dra.”

Le Roux merk op dat Sakeliga se litigasie aanhangig gemaak word na herhaaldelike gebreke en onregmatige dade deur die regering: “Die regering is nou in gebreke om te antwoord op ons skrywes, betekenisvolle raadpleging te onderneem, saam te werk wanneer ons die mediasie wat dit voorgeskryf het versoek, en om verifieerbare regverdiging vir sy ramptoestandmaatreëls te voorsien. Die regering is klaarblyklik nie tot reaksie in staat nie. Selfs voormalige sleutel ANC-ministers soos mnr. Trevor Manuel spreek hulself nou in die openbaar teen die regulasies uit. Die veelvuldige gevalle van litigasie wat tans teen die regering onderneem word is ‘n welkome verwikkeling.”

Tweeledige strategie

“Alhoewel litigasie belangrik is, wil ek beklemtoon dat verandering aan die amptelike regulatoriese omgewing slegs een deel van ‘n voldoende strategie vir die herstel van ‘n konstitusionele orde en openbare welstand in Suid-Afrika kan wees,” sê Le Roux. “Die tweede – en meer belangrike – deel is vir gemeenskappe, ondernemings, individue en selfs provinsies en plaaslike munisipaliteite om op vindingryke wyses hul lewens te hervat en hul ekonomieë oop te stel. Dit vereis dat hulle hul blootstelling aan die nou-bekende risiko’s van staatsverval en regulatoriese vergrype beperk. Die uitvoer hiervan is in persoonlike sowel as openbare belang, ongeag Covid19 en bly onmisbaar vir die welstand van alle gemeenskappe in Suid-Afrika.”

Archives