Sakeliga skenk geld vir noodleniging en regsaksie teen die staat se kaping van welwillendheid

rye-vir-hulp

Die sakegroep Sakeliga en sy lede het vandag ‘n verdere R200 000-skenking aan die welwillendheidsorganisasie Solidariteit Helpende Hand aangekondig. Die geld word geoormerk vir noodleniging en, indien nodig, regsaksie ter voorkoming van die staat se kaping – oftewel nasionalisering – van welwillendheid.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die geld is vir privaat welwillendheid en mag nie aan die staat oorgedra word nie: “Danksy ledebydraes kan Sakeliga nog R200 000 aan Helpende Hand beskikbaar stel, naas die R100 000 wat verlede maand geskenk is. Ons skenk hierdie R200 000 vir noodleniging aan mense wat onder die inperkingsregulasies ly. Ons voorwaarde is dat die geld of hulp wat daarmee gekoop word nie aan die staat oorhandig mag word nie, maar direk in gemeenskappe aangewend moet word.”

Intussen het dit in die afgelope dae geblyk dat dele van die staat hulself die alleenreg op die verskaffing van welwillendheid probeer toe-eien. Na berigte word van organisasies vereis om kospakkies en ander hulp vir verspreiding aan die staat te oorhandig.

“Die staatskaping en -sentralisering van noodleniging kom neer op die nasionalisering van welwillendheid,” sê Le Roux. “Dit is onaanvaarbaar – welwillendheidsorganisasies moet onafhanklik wees en vervul juis ‘n rol wat die staat nie kan of wil vervul nie. Daarom mag Helpende Hand die R200 000 ook, indien nodig, gebruik in regsaksie ter beskerming van welwillendheidsorganisasies se onafhanklikheid. Welwillendheidsorganisasies mag sonder toestemming of inmenging van die staat hul eie hulpprogramme aanbied.”

“Dis staat kan nie eens sy SASSA-stelsel behoorlik administreer nie, hoe kan dit dan nou die hele land se welwillendheid wil oorneem?,” sluit Le Roux af.

Archives