Tyd om die staat te herstruktureer, nie die ekonomie nie 

anc-2156-1120

Wanneer begrotingstekorte meer as verdubbel na 16%, sonder ‘n afname in staatsbesteding, is dit tyd om die staat te herstruktureer en nie die ekonomie nie.

So sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van die onafhanklike sakegroep, Sakeliga, in reaksie op die noodbegroting vandag voorgelê in die Parlement deur Minister Tito Mboweni.

“In teenstelling met President Cyril Ramaphosa se bewerings laas week dat Covid19 ‘n geleentheid bied om die ekonomie te transformeer en herstruktureer, is dit eerder die staat wat herstrukturering benodig. Dít is waar sy klem behoort te val, maar hierdie noodbegroting demonstreer geen gewaarwording van daardie besef nie.”

“Om die waarheid te sê, die noodbegroting verbind die staat dubbel en dwars aan skuldmaak en onrealistiese aannames van toekomstige belastingherstel. Na verwagting sal die tekort vir 2021 nou bykans vier maal wees wat mnr Gigaba in 2018 voorsien het en dubbeld wat mnr Mboweni in Februarie gesê het. Dit dui op ‘n versnelde fiskale verbrokkeling, wat voortduur lank na die presidensie van mnr Zuma.”

“Voeg hierby net enige van ‘n verskeidenheid gevaartekens – mnr Ramaphosa wat aandring dat SEB hier is om te bly, die herbevestiging van rassekwotas deur die howe, die uitbreiding van staatsinstellings en staatsindiensname, sektorale “meesterplanne” en die voortdurende aanslag op die Reserwebank – en meng dit met die ANC se rekord van openbare administrasie en die staat se toekoms word duidelik.”

“By oorweging van die staat se skraal kanse op hervorming beskou ons dit as noodsaaklik vir georganiseerde sakegroepe om ‘n alternatiewe koers te ontwikkel. As georganiseerde besigheid behoort ons agenda die volgende sleutelpunte in te sluit: kompensering vir staatsverval in infrastruktuur plaaslik en nasionaal; die vermoë om sonder staatsondersteuning sake te doen; en om die bates, besighede en indiensname van onsself, ons kliënte en klante, en van alle gemeenskappe waar ons sake doen, staatsbestand te maak.”

“Miskien het ons die rolle vir te lank omgekeer gehad: in die finale instansie is dit dalk nie die staat se verantwoordelikheid om ‘n gunstige omgewing vir besigheid te skep nie, maar georganiseerde besigheid s’n. Hierdie skeiding van magte – hierdie paradigmaskuif – is die ekonomiese herstrukturering waarom Suid-Afrika vra, vir almal se beswil. Dit is makliker gesê as gedaan, maar dit is wat gedoen moet word.”

Die begroting in grafieke:

Archives