Grendelstaat ‘n ramp in wording

pexels-anna-shvets-3962259

Besighede wat hul deure sluit en werkers wat in die toue van die werkloses aansluit is besig om die kenmerke van hierdie grendelstaat te word. Dit is ‘n ekonomiese, maatskaplike en humanitêre ramp in wording.

Van die besighede wat aan ‘n onlangse peiling deur Sakeliga deelgeneem het, verwag 19% om binne die volgende maand bankrot te gaan – en 32% in die volgende drie maande. Desnieteenstaande het President Cyril Ramaphosa vanaand sy regering se voorneme herbevestig om die inperking te verleng en die ramptoestand onbepaald voort te sit.

Nogmaals is geen onafhanklik verifieerbare kriteria vir hoe en wanneer die inperking beëindig sal word aan die publiek of sakesektor verstrek nie.

Inperking verleng

Die verlenging van die inperking, minstens tot einde Mei, was aan die kern van mnr. Ramaphosa se toespraak vanaand. Hy het ook aangekondig dat sekere dele van die land, vermoedelik dele van die Wes-Kaap en Gauteng, egter daarna steeds in Fase 4 van die inperking sal bly.

Dit is boonop duidelik dat mnr. Ramaphosa impliseer dat die Ramptoestand hernu sal word voor dit teen omtrent 15 Junie, sowat 90 dae nadat dit aanvanklik verklaar is, verval. In hierdie stadium, gegewe die regering se versuim om die amptelike modelle, maatstawwe en afwegings beskikbaar te stel, staar Suid-Afrika ‘n inperking van onbepaalde duur in die gesig.

Mens sou kon aanvaar dat mnr. Ramaphosa gerusstellend wou wees oor die voortgesette ekonomiese en sosiale verwoesting wat die bestaande regulasies saai. Tog behoort ons egter daarby verby te kyk – na waartoe hy in effek sy regering verbind het. Afgesien van die bogenoemde, sluit mnr. Ramaphosa se beloftes die volgende in:

  1. Om eers in Junie sekere dele van die land na vlak 3 van die inperking af te wentel, maar sonder enige aanduiding van wat regulasies op daardie vlak sou behels
  2. Voortgesette skaafwerk aan die regering se onnakombare vlak 4-regulasies, eerder as afstanddoening van die huidige Kafka-agtige mikrobestuurbenadering,
  3. Meer burokratiese rompslomp, onsekerheid en strafregtelike risiko’s vir die publiek, deur uitbreiding aan die regulasies bo-op die bestaande 91 gepromulgeerde dokumente, wat reeds meer as ‘n duisend bladsye beslaan

Einde-Mei is doodeenvoudig te laat. Die inperking moet nou verlig word – en die regering se mikrobestuur moet van afgesien word. Die enigste haalbare oplossing sou wees om op te hou om te definieer wat mense toegelaat word om te doen. Ooreenkomstig hiermee sou die regering eerder duidelik omskrewe en beperkte regulasies kon uitreik wat ontoelaatbare aktiwiteite en gedrag verbied. Samelewings kan nie funksioneer wanneer alles by voorbaat onwettig is totdat dit wettig bewys is nie en so ‘n eksperiment behoort nie op die publiek afgedwing te word nie.

Sakeliga se verbintenisse

Ons het vanaand gehoor wat die regering onderneem – maar hierdie is wat Sakeliga onderneem: In die korttermyn sal ons ons hulpbronne aanwend om die inperking te verlig en die impak daarvan te versag. In die langtermyn beywer ons onsself vir ‘n wêreld waarin sakeondernemings en gemeenskappe sterk, onafhanklik en bestand teen politieke risiko is – in staat daartoe om in hul gesondheid en welstand te voorsien, met óf sonder die regering se bystand.

‘n Kern deel van ons korttermynstrategie om skadelik inperkingsregulasies teen te werk is ‘n eersdaagse hofsaak teen die regering se onwettige en skadelike permit-stelsel vir besighede. Ons is tans besig om funderende beëdigde verklarings van lede en die publiek in te win en sal daarna verdere stappe bekend maak.

Sakeliga se peiling

Ten einde die impak van Covid-19 en die staat se reaksie op lede en sakelui in die algemeen te bepaal het Sakeliga gereelde peilings onderneem. In die mees onlangse peiling, wat op 11 Mei afgehandel is, het 65% van die meer as 700 respondente aangedui dat hul onderneming nie eens in die korttermyn die huidige vergrendelde staat van handel sal oorleef nie. Sorgwekkend is dat meer as 50% van respondente nie hul ondernemings vir langer as nog drie maande sien oorleef nie.

Archives