Hoe om oop te bly tydens die ramptoestand (regsmenings ingesluit)

JtVH5Khvihib7dBDFY9ZDR

Heelwat verwarring heers tans onder sakelui oor die hantering van die lewering van noodsaaklike dienste en -produkte. Hierdie skrywe bevat skakels na regsmenings en kan die verwarring help opklaar vir:

• ondernemings (bv. eenmansake) wat sukkel om as “noodsaaklike ondernemings” by die CIPC te registreer;
• ondernemings wat werknemers en/of eksterne diensverskaffers vir die lewering van noodsaaklike goedere en dienste benodig;
• sekuriteitsdienste (soos veiligheidsmaatskappye en buurtwagte) met vrae oor wetstoepassing; en
• regslui (soos prokureurs) wat hul kliënte wil adviseer.

Sakeliga het op Donderdag 26 Maart voorlopige riglyne bekendgemaak vir die hantering van noodsaaklike dienste. Klik hier vir die stappe om te volg.

Sakeliga het intussen verdere regsadvies by senior advokate bekom. Die advies ondersteun die riglyne soos tevore deur Sakeliga uitgereik. Hierdie dokument vul dit egter aan.

1. Regsmening oor permitte aan werknemers én ander verskaffers

a. Die uitreik van permitte is nie slegs tot werknemers beperk nie – dit behoort deur noodsaaklike ondernemings (wat sekere dienste of produkte vereis) uitgereik te kan word aan enigeen wat noodsaaklike dienste of produkte aan hulle moet voorsien, werknemers en andersins.
b. Klik hier vir ’n regsmening deur adv. B Bester oor hoe om die noodsaaklikedienstekwessie te interpreteer.

2. Regsmening oor CIPC-permitstelsel

a. Verskeie probleme met die CIPC-permitstelsel vir ondernemings om as noodsaaklike entiteite te registreer. Boonop maak die stelsel tans nie vir      eenmansake en sekere ander regsvorme voorsiening nie.
b. Sakeliga is van regsmening deur senior advokate bedien dat besighede ingevolge die nuwe regulasies nie vir sodanige permit hoef te wag ten einde aan te hou om noodsaaklike goedere en dienste te lewer nie.
c. Alhoewel ons regsadviseurs skepties is oor die afdwingbaarheid van die proses voorgeskryf deur die departement van handel en nywerheid en CIPC, kan dit voordelig wees om die permitsertifikaat te gebruik indien wetstoepassers onder instruksie verkeer om aan te dring dat sulke permitte aan hulle vertoon moet word. Ons stel voor dat so ’n permitsertifikaat – indien moontlik – vanaf die CIPC by www.bizportal.gov.za/essential_service.aspx bekom word en by die permitte wat u as werkgewer aan u werkernemers uitreik, aangeheg word.
d. Klik hier vir ’n uittreksel uit ’n regsmening deur adv. P Ellis SC en adv. B Bester.

3. Regshulp

a. Ons beveel aan dat elke ondernemer sy regsverteenwoordiger nader vir regsadvies oor die interpretasie van die regulasies. Voel egter vry om die inligting wat ons voorsien aan hulle deur te gee.
b. Ons prokureurs by Kriek, Wassenaar en Venter is reeds op hoogte van die regsmening en regulasies (www.kwv-inc.com/tuis). (Nota: Indien daar ander prokureursfirma’s is wat ook hierdie tipe advies kan lewer en aan Sakeliga se lede deurgegee wil word, stuur asseblief ’n e-pos na [email protected].)

4. Wetstoepassing

a. Sakeliga is tans in korrespondensie met die polisie en weermag om hulle met die korrekte interpretasie van die regulasies by te staan.
b. Ons beveel aan dat sekuriteitsmaatskappye, buurtwagte en soortgelyke organisasies ook hul werknemers en lede bystaan ten einde te verseker dat wetstoepassers nie hul magte oorskry nie.

5. Stappe deur Sakeliga

a. Dit kom ongelukkig voor asof meeste wetstoepassers onseker is oor die korrekte toepassing van regulasies.
b. Sakeliga het sy regspan opdrag gegee om met die Minister van Polisie, die Minister van Handel en Nywerheid en ander ministeries soos nodig hieroor in verbinding te tree.

6. Lys van alle regulasies

a. Sakeliga het ’n biblioteek van alle regulasies, insluitende vir verskillende sektore, beskikbaar gemaak by www.sakeliga.co.za/covid19.
b. Ons vul dit deurlopend aan, so vinnig en goed ons kan. Laat weet ons asseblief as daar iets is om by te voeg.

7. Probleme?

a. Indien jou onderneming belemmer word in die lewering van ’n noodsaaklike diens, laat weet Sakeliga by [email protected]. Ons ontvang tans baie navrae en probeer om te help so ver ons kan.

Voorsien gerus die regsmenings soos ons dit hier beskikbaar gemaak het aan jou eie regsadviseurs om in jou geval die korrekte oordeel toe te pas. Laat weet ons asseblief indien hulle met ons uiteensettings of regsadvies wat ons ontvang het saamstem, verskil, of kan aanvul.

Archives