Nuus > In die media > Hof verbied Eskom om krag af te skakel

In ‘n oorwinning vir betalende elektrisiteitsverbruikers het die Hoëhof in Pretoria Vrydag ‘n dringende tussentydse interdik teen kragonderbrekings deur Eskom toegestaan.

Ingevolge die bevel word Eskom verbied om krag na die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit af te skakel, hangende ‘n hersieningsaansoek wat teen 29 Junie ingestel moet word.

Die aansoek is gebring deur besorgde inwoners van die plaaslike munisipaliteit, verteenwoordig deur Andreas Peens Prokureurs en advokate H van Eeden SC, DH Wijnbeek en KT Mathopo. AfriSake ondersteun die applikante finansieel, as deel van sy veldtog om ‘n dreigende ekonomiese krisis in plaaslike munisipaliteite landswyd af te weer.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake het sy gelukwensinge uitgespreek: “Ons wens die betalende inwoners van Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit en hul regspan geluk met die oorwinning. AfriSake bestudeer tans die uitspraak met die oog op benutting daarvan in ander plaaslike munisipaliteite en vir ondersteuning in die komende hersieningsaansoek. Hierdie was ‘n belangrike veldslag, maar daar is nog baie wat gedoen moet word om te verseker dat elektrisiteitsverbruikers kry waarvoor hulle betaal.”

Die aansoek volg op kennisgewings deur Eskom na inwoners van die gebied dat hul krag onderbreek sou word in die lig van die plaaslike munisipaliteit se agterstallige elektrisiteitsrekeninge. Eskom wou hierdie onderbrekings instel ongeag die feit dat baie elektrisiteitsgebruikers in die gebied op datum met hul rekeningbetalings, of selfs vooruit reeds vir hul elektrisiteit betaal het.

Landswye veldtog

AfriSake tree tans in om ekonomiese krisisse landswyd af te weer, met verskeie plaaslike munisipaliteite wat elektrisiteitsafsluitings deur Eskom in die gesig staar. Dit is AfriSake se standpunt dat Eskom, nieteenstaande agterstallige munisipale elektrisiteitsrekeninge, in wese onbillik optree met elektrisiteitsweerhouding van besighede en ander eindgebruikers met opbetaalde rekeninge of selfs voorafbetaalde elektrisiteit.

AfriSake nooi sy lede en die publiek uit om bewyse van Eskom se voorneme om elektrisiteit af te sluit, insluitend kennisgewings en kort beskrywings van die situasie, op sy webblad in te dien.

Ander dorpe en munisipaliteite wat moontlik geraak kan word, sluit onder andere in Koster en Swartruggens (Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit), Naboomspruit/Mookgophong (Modimolle Plaaslike Munisipaliteit), Barkly-Wes (Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit), Vryburg (Dr Ruth Segomotsi Mompati Distriksmunisipaliteit) en Secunda (Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit).

Le Roux sê dat Eskom se optrede administratief gebrekkig, onbillik en teenproduktief is. “Eskom is ’n monopolie beskerm deur regeringsregulasies wat vrye kompetisie verhoed, iets wat ondernemings en ander verbruikers van alternatiewe elektrisiteitsverskaffers sou voorsien. Verder word mense gedwing om Eskom te betaal via wanbetalende plaaslike owerhede, wat in wese as Eskom-invorderaars optree, maar wat dan terselfdertyd nalaat om die geld aan Eskom oor te betaal. Nou wil Eskom elektrisiteit weerhou, nie net van verbruikers wat op datum met hul rekeninge is nie, maar selfs van diegene wat voorafbetaalde elektrisiteit gekoop het.”

Die skade aan plaaslike ekonomieë sal aansienlik wees en sal sulke munisipaliteite in ’n neerwaartse spiraal dompel. “En dit is om nie eens te praat van die humanitêre nagevolge, wanneer hospitale, skole, rioolaanlegte, verkeersligte en ander openbare infrastruktuur sonder elektrisiteit sit nie,” sluit Le Roux af.

TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!