Hofuitspraak: Oorwinning vir sakevryheid in Suid-Afrika

close-up-court-courthouse-534204

Dit staan sakeondernemings nou vry om met slegs hul self-uitgereikte permitte, sonder regeringslisensies te make met die ramptoestand, handel te dryf. Geen wetstoepasser mag ‘n CIPC-sertifikaat of enige ander lisensie vereis wat nie reeds verpligtend was voor die ramptoestand nie. (Skakel na hofuitspraak volg onder.)

Hoewel talle tipes ondernemings, soos aangekondig in die vlak 3 regulasies, steeds verbode bly, staan dit alle ander besighede vry om sake te bedryf sonder om eers een of ander nuwe regeringslisensie van nasionale, provinsiale of plaaslike regering, of enige ander staatsorgaan, te bekom.

Hierdie is die situasie ná Sakeliga se oorwinning in die hof vandag, sowel as ná Minister Ebrahim Patel en die CIPC se onttrekking (by voorbaat) van die CIPC-sisteem Sondag. In die uitspraak word die ononttrekte regulasies uitgevaardig deur die minister van kleinsakeontwikkeling uitdruklik ter syde gestel en die onwettige status van moontlike pogings tot afdwinging van CIPC-sertifikate bevestig. Uitspraak is gegee met kostes.

“Hierdie saak is ‘n oorwinning vir sakevryheid in Suid-Afrika. Onder die dekmantel van ‘n mediese krisis het die staat gepoog om ‘n algemene sisteem van besigheidslisensiëring in Suid-Afrika in te stel,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Met onsekerheid en burokratiese rompslomp het die regering drasties inbraak op besighede se vermoë om hul sake te bedryf gemaak, selfs waar alte dikwels arbitrêre en skadelik regulasies dit wél toegelaat het. Ondernemings wat in besonder benadeel is sluit in dié wat nie by die CIPC geregistreer is nie (die meerderheid van besighede in Suid-Afrika), veral klein en mediumgrootte ondernemings soos die volle verskeidenheid van eenmansake, insluitend informele handelaars.

Met verwysing na die onttrekking van die CIPC-sertifikate Sondag het die hof bevind dat daar geen regsplig bestaan om nóg oor ‘n CIPC-sertifikaat te beskik, nóg een aan wetstoepassers voor te lê nie: “Daarom is geen wetstoepasser daarop geregtig om te eis dat ‘n CIPC-sertifikaat deur enige besigheid getoon word nie, ongeag die aard van daardie besigheid, en tree sodanige wetstoepasser onregmatig op as hy of sy enige persoon arresteer, beboet, of enige ander stappe by versuim om sodanige sertifikaat te toon neem.”

Le Roux voer aan dat besigheidslisensiëring net so onaanvaarbaar nou is as wat dit was in 2013 toe minister Rob Davies gepoog het om ‘n Wet op Besigheidslisensiëring in plek te stel. “Net soos daar geen regverdiging is vir ‘n vereiste om regeringstoestemming voor verbruik te bekom nie, so is daar geen regverdiging vir ‘n vereiste om regeringstoestemming voor produksie te bekom nie.”

“Ongelukkig is daar selfs ná hierdie uitspraak steeds in die ramptoestandregulasies baie dinge wat arbitrêr en skadelik is,” sê Le Roux. “Verskeie soorte besighede word steeds onredelik verhoed om sake te doen. Hierdie en vele meer moet nog reggestel word, deur litigasie en andersins – iets waarvoor talle organisasies en persone tans onverpoosd werk. Ons wens hulle alles van die beste toe en sal voortgaan om ook ons bes te doen.”

Sakeliga wys daarop dat – soos die staat se regspan ook tydens die hofgeding toegegee het – besighede en individue wat vanweë onregmatig vereistes, soos die toon van ‘n CIPC-sertifikaat, skade ly, of gely het, sou kon oorweeg om vir skadevergoeding te dagvaar.

“Sakeliga is dank verskuldig aan sy lede, die publiek en alle sakelui wat hierdie aansoek ondersteun het, in besonder dié wat ondersteunende verklarings gelewer het. Uiteindelik behoort hierdie oorwinning aan hulle.”

Klik hier vir die uitspraak soos gelewer.

Archives