Nuus > In diepte > In gesprek met Ton Vosloo

Deur Tian Alberts

Ons gaan binne tien tot twaalf jaar in ‘n geheel ander wêreld leef wat ontwikkeling betref as gevolg van die impak van kunsmatige inligting (AI) en gedrukte media gaan kwyn tot omtrent niks. Afrikaans gaan weens globalisering nie voortbestaan in die sakewêreld nie, maar wel nie ‘n kombuistaal word nie.  Dít is sommige van die voorspellings wat Ton Vosloo, gewese voorsitter van Naspers, in ons onderhoud gemaak het.

Ton se meer as eeu-oue Victoriaanse huis staan teen die voet van Tafelberg op die kop van Oranjezicht in die Kaap. Moderne glasdeure voor die ou houtvoordeur geïnstalleer om inbrake te verhoed vergestalt Naspers se filosofie van aanpassing en vernuwing waaroor Ton later met trots gesels. Met die lui van die klokkie verskyn ‘n vriendelike, toeganklike mens by die voordeur, en wys die weg na ‘n studeerkamer met honderde boeke en ‘n televisiestel wat aansienlik kleiner is as wat ‘n mens sou verwag om in die huis van die vader van betaaltelevisie in Suid-Afrika aan te tref.

Ton moedig jongmense ten sterkste aan om in Suid-Afrika te bly en hier sukses te behaal. Hy meen dat hier soveel geleenthede is.

“Ek vind altyd as ek na ‘n plek soos Nederland gaan is als so gevestig en amper burokraties ingestel dat dit moeilik is om in te kom vir ‘n jongmens. Maar nie in Suid-Afrika nie. Hier is baie geleenthede in Suid-Afrika.”

In die dae toe Ton Vosloo grootgeword het, het geleenthede nie vanself gekom nie. Hy vertel hoe hy soggens half vyf in sy Uitenhage-ouerhuis opgestaan het om by die Baai uit te kom by die dagblad waar hy ‘n redaksielid was. Saans het hy soms eers 11-uur klaargemaak en moes dan die pad huis toe vind. Op skool het hy reeds vir koerante geskryf – oor sport.

“Ek wou ‘n joernalis word vandat ek my verstand gekry het, so ek moes dit maar net doen,” lag hy en trek sy skouers op.

Ton het baie om te sê oor joernalistiek in Suid-Afrika en die wêreld vandag. Volgens hom is die sleutel tot die toekoms van joernalistiek ondersoekende joernalistiek. “Mak storetjies wat sommer oorvertel word” moet liefs geïgnoreer word. Hy het groot waardering vir die feit dat die verspreiding van demokrasie en toeganklikheid tot inligting die afhanklikheid van die media versterk het. Mediagroepe hoef nou nie meer so sterk verknog te wees aan ‘n politieke beweging nie.

Ton se joernalistieke loopbaan het in 1984 tot ‘n einde gekom toe hy as besturende direkteur van Nasionale Pers aangestel is. Nasionale Pers het ‘n baie ou tradisie gehad dat die sakehoof uit die joernalistieke geledere moes kom.
“Ek het gedink as ek ‘n redaksie van 110 mense kon bestuur, ek ook ‘n maatskappy met 5000 werknemers kon bestuur.”

As sakeman het Ton in die manier waarop hy Nasionale Pers bestuur het, gewaak teen selfvoldaanheid en stagnasie. Die maatskappy moes voortdurend groei en vernuwe om tred te hou met nuwe ontwikkelinge in die mark en in die wêreld. In 1985 het die maatskappy betaaltelevisie in Suid-Afrika bekendgestel en die SAUK-televisiemonopolie sodoende geknak.

Ton skryf sy sukses in die sakewêreld grootliks toe aan die ongelooflike kollegas waarop hy kon staatmaak. Hy benadruk spanwerk as die sleutel tot sukses. Met Nasionale Pers se uitbreiding tot digitale media het Ton gesteun op die advies van hoogs bekwame finansiële kollegas.
“Jy kan nie ‘n besigheid bedryf sonder bekwame, eerlike mense met integriteit wat finansieel kundig is nie. Dit is ‘n vervlegting van dissiplines wat jy moet hanteer”.

Op die vraag oor of suksesvolle en gevestigde sakelui ‘n verpligting teenoor jong, opkomendes het in terme van die voorsiening van geleenthede, kapitaal en mentorskap merk Ton op dat Naspers (voorheen Nasionale Pers) se verspreiding tot 130 lande in die wêreld grootliks die toedoen van “nuwe jongmense” was wat ‘n geleentheid ontvang en benut het.

Enige maatskappy ontwikkel en moet kyk na voorstelle van jong sakelui en vir hulle kanse gee, meen hy. Ton het self baie maatskappye gestig na aanleiding van jong geesdriftiges wat hom genader het. Koos Bekker – vandag een van Afrika se mees suksesvolle sakelui en besturende direkteur van Naspers – was een van hulle. Bekker het in 1984 as student vir Ton Vosloo vanuit Amerika gebel met ‘n idee oor betaaltelevisie, en vandaar die stigting van M-Net.

Maar sommige idees misluk ook – en Ton moes baie jongmense al wegwys.
“Diegene wat die slimste is en beste toegerus is, se idees sal seëvier”.

Ton glo dat Suid-Afrika die beste plek is om met nuwe idees nuwe suksesstories te skryf, want hier is geweldig baie geleenthede. Maar jongmense sal deurlopend slimmer, skerper en meer hardwerkend moet word. Al is daar agterstande vir baie jongmense, is die spel nou oop vir almal.

Die opgewondenheid en optimisme van die jong seun wat in die 1940’s op Uitenhage koerante verkoop het met die oog daarop om ook daarin te skryf, is nog met Ton Vosloo. Hierdie gesindheid verduidelik baie oor die merkwaardige sukses van ‘n maatskappy wat Suid-Afrika op die voorpunt van media in die wêreld kon posisioneer.

Ton Vosloo was besturende direkteur van Nasionale Pers van 1984 tot 1992, uitvoerende voorsitter van 1992 tot 1995 en daarna nie-uitvoerende voorsitter tot 2015. Hy het onlangs sy outobiografie “Oor Grense” gepubliseer.

 

*Tian Alberts is hoofredakteur van Nova Mentis. Hierdie artikel is deur Nova Mentis verskaf.

 

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN