Inperking: 50% kan binne drie maande bankrot speel – Sakeliga-peiling

pexels-cottonbro-3943716

Meer as 50% van die 706 deelnemers wat in die eerste gedeelte van Mei aan die sakegroep Sakeliga se jongste Covid-19-ondernemingsimpakpeiling deelgeneem het, se ondernemings gaan binne drie maande bankrot wees as die huidige vorm van die inperking voortgaan. Verder verwag meer as agt uit elke 10 van die respondente reusagtige dalings in hulle onderneming se totale verkope (omset). Byna 82% van diegene wat deelgeneem het, verwag dalings van 25% of meer vir 2020. Sowat 48% van respondente sê dat weinig gedoen kan word om die skade te beperk.

Hoewel inperkingsreëls reeds van vlak 5 na vlak 4 verslap is, kan byna vyf uit elke tien besighede steeds nie hulle aktiwiteite hervat nie. Boonop rapporteer omtrent agt uit elke tien deelnemers wat wel tans handel dryf, dat insette tot bedrywighede in Mei baie moeiliker of ietwat moeiliker was om te bekom as wat die geval was voordat die Covid-19-beperkinge ingestel is.

“Die ekonomie is ’n geheel met inmekaar geweefde kettings van diensbaarheid en interafhanklikheid. Soos ons vanuit die staanspoor verwag het, bemoeilik die huidige inperkingsreëls, wat die omstrede permit- en lisensiëringsvoorwaardes insluit, selfs die bedrywighede van die sogenaamde noodsaaklike en ander pas toegelate ondernemings,” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sal die sakegroep binnekort voor die Hooggeregshof verskyn om ’n wye verskeidenheid lisensiëringsvoorwaardes wat deur die loop van die Ramptoestand in ingestel, is tersyde te stel, asook om besighede, organisasies sonder winsoogmerk en werknemers te beskerm teen onregmatige belemmering en inhegtenisneming.

Sakeliga beklemtoon dat die land nie kan bekostig dat besighede wat hulle aktiwiteite begin hervat, verder belemmer word nie. Die resultate van die onlangste peiling onderstreep die dringendheid van die saak.

Nie net het ’n oorwig van die deelnemers aan die peiling ’n akute verswakking in hulle onmiddellike saketoestande teenoor ’n voorafgaande sewe dae aangedui nie, maar meer as ’n derde (36%) van die respondente verwag dat vooruitsigte nie oor die komende 12 maande sal verbeter nie. Dit staan teenoor minder as 22% wat dink dat vooruitsigte oor 12 maande sal verbeter. Daarby word groot onsekerheid oor die toekoms onder die respondente gesien.

Sakeliga het ’n beroep op sakegemeenskappe en die publiek gedoen om hulle mandaat en steun vir die hofsaak te gee op Sakeliga se webtuiste.

Sakeliga se volledige verslag kan hier gelees word.
Grafieke is op aanvraag in JPEG-formaat beskikbaar.

Agtergrond

  • Altesaam 706 respondente het aan die derde Covid-19-peiling in Mei 2020 deelgeneem. Die vraelys is per e-pos onder Sakeliga se ledebasis en breër netwerk versprei.
  • Die vraelyste is oor die tydperk 6 tot 11 Mei 2020 ingevul. Die meerderheid van die respondente was vanuit Gauteng en die Wes-Kaap.
  • Omtrent sewe uit elke 10 respondente was van klein ondernemings met minder as 10 persone in diens. Meer as nege uit elke 10 respondente was van ondernemings met minder as 50 persone in diens.
Archives