Is jou besigheid staatsbestand?

7-1

Is jou besigheid staatsbestand?

Die nege mees gevreesde woorde in die Engelse taal, volgens die voormalige president van die VSA, Ronald Reagan, is “I’m from the government and I’m here to help.” Dit is presies ook die geval in Suid-Afrika, soos ons in Februarie 2020 by drie onaangename geleenthede herinner is.

Daar is baie min wat ek en jy self aan hierdie geleenthede kan doen – dit is buite ons beheer. Wat ons wel kan verander, is hoe ons daarop reageer en hoe ons die impak daarvan op ons lewe verminder of maniere kry om munt daaruit te slaan.

Die President se toespraak

Die eerste onaangename geleentheid was president Cyril Ramaphosa se Staatsrede. Die haglike stand van die Suid-Afrikaanse fiskus en ekonomie het fundamentele hervorming van regeringsbeleid vereis. Pleks daarvan het hy voet by stuk gehou met ’n toespraak wat twee fundamentele wanbegrippe toon.

Eerstens het hy die oorsaak van die erge toestand van die ekonomie en die fiskus verkeerd gediagnoseer deur die skuld daarvoor op korrupsie en staatskaping te pak. Hoewel laasgenoemde twee erg skadelik is, vorm dit slegs bydraende faktore tot die land se probleme – en word dit verdwerg deur die skade aangerig deur hoë belastings, minimumlone, burokratiese rompslomp, SEB, mededingingsbeleid, en onteiening sonder vergoeding.

Tweedens het mnr Ramaphosa nagelaat om te erken dat welvaart nie deur burokrate en politici geskep word nie, maar wél deur sakeondernemings in markekonomieë. Dit blyk uit sy beklemtoning van “ekonomiese meesterplanne” en “maatskaplike konsensus” in sy strategie vir ekonomiese groei. Hy het selfs ’n staatsfonds en ’n staatsbank aangekondig.

Mnr Ramaphosa het sy toespraak afgesluit deur te sê “’n Nuwe era het begin.” Dit is verkeerd. Hy het sakeondernemings en die publiek die versekering gegee dat sy regering tot intervensionistiese beleidsrigtings verbind bly – hy wil net hê dit moet korrupsievry geskied.

Die Minister van Finansies se toespraak

Die tweede onaangename geleentheid was die begrotingsrede van die Minister van Finansies, Tito Mboweni. Ook hier was daar sprake van hervorming – soveel so dat mens in die versoeking is om die openbare lof te herhaal wat die Minister ontvang het vir voorstelle soos om die loonrekening van die openbare sektor te verklein. Ongelukkig, as jy die toespraak buite rekening laat en na die syfers kyk, is daar inderwaarheid geen hervorming nie.

Onthou jy nog Malusi Gigaba as Minister van Finansies? In sy 2018-begrotingsrede het hy die verdere verhoging van skuld, tot wat toe as onvolhoubare vlakke beskou is, voorgestel. Hy is daarvoor deeglik oor die kole gehaal en almal het gejuig toe mnr Ramaphosa mnr Gigaba met mnr Mboweni vervang het.

Maar wat as ek vir jou sê mnr Gigaba se begrotingstekort is ‘n vulletjie teen die skuldperd waarmee mnr Mboweni ons opsaal? In die komende fiskale jaar gaan mnr Mboweni op die gekonsolideerde begroting 80% meer skuld aangaan as wat mnr Gigaba twee jaar gelede voorgestel het, en 50% meer as wat mnr Mboweni self verlede jaar voorgestel het.

Tot sy krediet het mnr Mboweni nie belasting verhoog nie – en dalk wil hy regtig die groei van die openbare sektor se salarisrekening verlangsaam. Maar dit alles beteken niks as hy nie totale besteding verminder nie. Feitlik al die beweerde en verwagte “besparings” op lone is stilletjies aan ander uitgawe-items toegewys. Boonop is praatjies van besparings misleidend – in die meeste gevalle word uitgawes glad nie verminder nie, maar bloot teen ’n laer koers verhoog as wat voorheen beplan is.

As jy dus die retoriek met ’n knippie sout neem en eerder na die syfers kyk – wat deurslaggewend is – is dit duidelik dat die fiskale krisis in Suid-Afrika teen ’n versnellende tempo oploop en dat daar geen planne is om dit in bedwang te bring nie. Ons kan verwag om in die komende jare toenemende druk op mnr Lesetja Kganyago van die Reserwebank te sien om fiskale probleme met monetêre beleid op te los – iets wat hy tot dusver sy bes doen om teen te staan.

Die ekonomie is laaste, maar nie lekkerste nie

Die derde onaangename geleentheid was die aankondiging van ’n inkrimping van 1,4% in BBP in die vierde kwartaal van 2019. Nie dat ons juis statistici nodig het om vir ons te sê hoe moeilik dinge daar buite is nie, maar tog.

Hoe het dit gebeur? Hoekom het die ekonomie gekrimp?

Nie omrede die internasionale finansiële krisis nie. Nie omdat mense in Suid-Afrika opgehou het om hard te werk of omdat daar nie geleentheid vir investering was nie. Die huidige ekonomiese situasie is nie ’n natuurramp nie – dit is mensgemaak.

Mense is werkloos en goedere en dienste is duur as gevolg van die regering se strategie om die ekonomie te laat groei en te “transformeer”.

Wat dit vir my en jou beteken

Daar is vandag baie kommentators wat skryf oor wat die regering anders moet doen. Baie van hulle vestig hul hoop op hervorming deur mnr Ramaphosa of mnr Mboweni. En hulle smeek jou om jou gewig ook agter mnr Ramaphosa se uiteindelike sukses in te gooi, omdat die alternatief byna te erg is om aan te dink.

Ek wil ’n ander strategie voorstel: staatsbestandheid.

Staatsbestandheid is reeds die meeste van die tyd ’n goeie idee, maar in Suid-Afrika is dit vinnig besig om noodsaaklik te word. Dit behels drie dinge:

Eerstens, pleks daarvan om toegang tot ’n welwillende regering te veronderstel, moet jy veronderstel dat die regering ten beste onbetrokke gaan wees (maak nie saak of dit deur gebrek aan goedgesindheid of gebrek aan vermoë is nie).

Tweedens, moet jy sakeplanne ontwikkel wat nie op die regering se goedgesindheid aangewese is vir sukses nie. Trouens, jy kan selfs probeer munt slaan uit regeringsmislukking. Antisipeer die mislukking en probeer dan om daar te wees wanneer dit gebeur, met waarde-vir-geld-alternatiewe.

Derdens, moet jy op tasbare wyse volgens hierdie planne optree, soos om inkomstestrome in buitelandse valuta te ontwikkel, staatskontrakte af te skaal, nie aan die SEB-klug deel te neem nie, gemeenskapsorganisasies te steun, privaat liefdadigheidsorganisasies op die been te bring, en nog baie meer.

Waar ek hier as uitvoerende hoof van Sakeliga skryf, het ek natuurlik sakestrategie in gedagte, maar as jy hierdie stuk as ’n werknemer of afgetredene of student lees, is die beginsels eweneens geldig.

As die doel is om persoonlike rykdom en maatskaplike welvaart te skep, gaan jy dit moet doen op sowel ’n wins- as ’n niewinsgrondslag, sonder hulp van die regering. Vir jouself, vir jou gemeenskap en vir alle gemeenskappe rondom jou.

Voorblad artikel soos gepubliseer op 11 Maart 2020 deur Newshorn

Archives