Nuus > Sakewenke > Beleidsradar-blog: Jongste oor mededingingsregulering – ‘n Vryemarksiening

Die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel het op 10 Oktober 2019 voorgestelde regulasies oor prysdiskriminasie en aankoperkrag (‘buyer power’) vir kommentaar gepubliseer.

Hierdie regulasies sal ingevolge die Wet op Mededinging (89 van 1998) ingestel word. Kommentaar moet teen die 7de November 2019 aan die departement gestuur word.

Wie word geraak?

Hierdie regulasies sal van toepassing wees op ondernemings wat kragtens die wet as dominant beskou word en waar sulke ondernemings sake doen met klein-en-medium ondernemings of ondernemings wat besit of beheer word deur “Voorheen Benadeelde Persone (VBP)”. Dit sal geld in sektore wat deur die minister aangewys is.

‘n Aangewese VBP-onderneming is volgens die voorgestelde regulasies waar ‘n VBP-onderneming 20% of minder van betrokke goedere of dienste (gewoonlik belangrike insette) van ‘n ‘dominante’ onderneming aankoop.

Sien die regulasies by die volgende skakel.

Die mededingingskommissie het ‘n bykomende beleidsdokument opgestel as riglyn vir die toepassing van die bogenoemde prysdiskriminasieregulasies. Hierdie riglyne sal deur die Kommissie gebruik word om klagtes oor prysdiskriminasie te beoordeel. Riglyne oor aankoperkrag behoort te volg.

Sien die voorgestelde riglyne hier. Let daarop dat die Kommissie ook kommentaar op hierdie dokument versoek.

Die impak in ‘n neutedop: Eenvoudig gestel, ondernemings wat as ‘dominant’ beskou word se prys- en handelsgedrag sal weens hierdie regulasies deur die kompetisie-owerhede ondersoek kan word vir die impak daarvan op klein-en-medium ondernemings of ondernemings in besit/beheer van Voorheen Benadeelde Persone (VBP).

Die maatstaf wat gebruik sal word is of prys- en handelsgedrag aangewese SME/VBP-ondernemings se vermoë om “doeltreffend aan ‘n mark te kan deelneem” verminder.

Nog eenvoudiger gestel, die kommissie sal pryse (en handelsvoorwaardes) wat sekere firmas aan verskillende aangewese voorsieners voorskryf vergelyk om te bepaal of ‘n dominante onderneming sy aangewese voorsieners ‘te min’ betaal vir die aankope van sekere insette.

Indien daar bevind word dat ‘n dominante onderneming teen ‘n aangewese ondernemings se vermoë om ‘doeltreffend deel te neem’ indruis sal die Kommissie administratiewe boetes van 10% tot 25% van die dominante ondernemings se omset kan hef.

Die Kommissie sal uiteraard ná die inwerkingtreding van die regulasies nog sterker by die mark kan inmeng.

Regskenners wys daarop dat die bewyslas by hierdie soort litigasie/ondersoeke nou omgekeer is. In geval van ‘n prima facie-saak sal ‘n dominante firma moet bewys dat hulle nie teenstrydig met hierdie bepalings opgetree het nie.

Soortegelyke ondersoeke sal ingevolge die Regulasies op Aankoperkrag kan plaasvind oor sogenoemde “onregverdige handelsvoorwaardes”. Die Kommissie sal beoordeel of ‘dominante ondernemings’, volgens hul oordeel, “onregverdige” risiko en koste op aangewese SME- en VBP- ondernemings afdwing.

Sektore word reeds afgebaken

In die 10 Oktober 2019 se regulasies word die sektore vir kleinhandel-kruideniersware, landbouverwerking en aanlyn intermediêre dienste aangewys. Die impak van hiervan kan ingrypende wees en ondernemings wat in hierdie sektore handeldryf moet veral die moontlike impak op hul ondernemings nagaan.

Voorlopige ontleding

Ek, as een van Sakeliga se ontleders oor hierdie onderwerp, is van die staanspoor af meer skepties oor mededingingswetgewing as baie ander op die ekonomiese gebied. Gevolglik maak ek hierdie ontleding as ‘n sterk ondersteuner van geen tot minimale inmenging deur mededingingsowerhede.

Maar dit is geensins my doel om hierdie onderwerp as eenvoudig te bestempel nie. Daar is kwessies oor mededinging wat ernstig opgeneem moet word. Tog reken ek dat die standpunte oor markvryheid ook in die gebied van mededinging minstens oorweeg moet word. Die belangrike ding om te benadruk is dat die regulatoriese ‘medisyne’ wat hier voorgeskryf word nie die gewenste uitwerking mag hê nie.

Om te begin, waar mededingingskwessies werklik ‘n probleem is, is waar regulasies, lisensiëring en wetgewing uitsluitlike marktoegang bewerkstellig (dink bv. aan ‘n Eskom).

In aanvanklike definisies het die woord ‘monopolie’ op ‘n enkelverkoper gedui in gevalle waar ‘n onderneming ‘n uitsluitlike voorreg van ‘n owerheid ontvang het om te mag handel dryf.  Waar sulke voorregte in markte bestaan mag vrae oor mededingingskwessie vir seker gevra word.

Verder moet ons oorweeg dat die manier wat hierdie unieke markingrypings toegepas word oor jurisdiksies sal verskil – nie net in aard nie, maar ook in graad. Soos ons gereeld op die beleidsfront sien neem die plaaslike toepassing van hierdie soort beleide ook ‘n unieke SA-karakter aan.

Ons kan met redelike sekerheid verwag dat hierdie jongste regulasies met BEE en RA sal saamspan.  Dit behoort geensins ‘n vreemde gedagte te wees nie, want selfs in die aanhef van die Wet op Mededinging maak die doelwitte van die wet duidelik:

(e) to ensure that small and medium-sized enterprises have an equitable opportunity to participate in the economy: and

(f) to promote a greater spread of ownership in particular to increase the ownership stakes of historically disadvantaged persons.

Vryemark vraagtekens?

Kom ek stel ‘n vraag om verdere insae in ons denke hieroor te gee. Gestel ‘n groot besigheid betaal inderdaad te ‘min’ vir sy aankope by ‘n sekere voorsiener. Gestel hierdie gedrag duur voort oor ‘n aansienlike tydperk en dat daar werklik ‘n ‘prysdifferensiaal’ geskep waarvolgens die voorsiener ‘te min’ rande vir sy produkte ontvang.

Dit is presies dié soort geval waar die Kommissie sal wil intree, maar wat verhoed ander entrepreneurs om nie die dominante firma se voorsieners te af te rokkel deur net eenvoudig ‘n effe beter prys en bietjie beter handelsvoorwaardes aan te bied nie? Dit klink mos of hier iewers geld op die tafel gelaat word.

Die punt is dat sulke differensiale, wat uitspeel as ekonomiese wins, vir ‘n firma met ‘n groot markaandeel in dinamiese regte markte ‘n rol sal speel (of ‘n rol behoort te speel) om gedrag aan te pas terug na ‘n redelike ‘balans’ op die mark.

In die markproses, waar entrepreneurs gedurig winsgeleenthede soek, word hulpbronne na hul hoogste ekonomiese doel gebie. In die markproses neig markpryse na die redelikste ekwilibrium soos gemeet aan verbruikers se voorkeure. Vir gewone ondernemings is dit ontsettend moeilik om ‘n onregverdigbare prysdifferensiaal vir lank te handhaaf.

Selfs die blote vrees dat nuwe toetreders mag toetree het gewoonlik ‘n impak op ’n  ‘dominante’ firmas se gedrag wat druk skep om pryse laag te hou.

Die vraag is dan uiteindelik of enige iemand vry is om tot ‘n mark toe te tree. En indien nie, hoekom nie? Bemoeilik regulasies, lisensies, en ander vereistes miskien marktoetrede?

Dink aan die regulatoriese vereistes wat byvoorbeeld aan Supermarkte gestel word. Watter denkbare impak het hierdie voorwaardes op nuwe marktoetreders?

Dit is eenvoudig so dat hewige regulasies ook perke tot toetrede stel en ‘n mark op ‘n bepaalde manier vorm. Sulke perke kan dan sekerlik teenmededingende gedrag moontlik maak, veral wanneer perke beteken dat minder toetreders kan toetree.

Dit mag die geval wees, maar waarop moet dan eintlik ‘ingegryp’ word?  By die dominante onderneming se gedrag of by die regulering wat onregverdigbare voorregte bewerkstellig en toetreding bemoeilik. Vryemarkontleders is gewoonlik ten gunste van laasgenoemde, die Kommissie blykbaar vir eersgenoemde.

Dit is sekerlik belangrik om sulke vrae te oorweeg, maar dit is gewoonlik nie wat ingevolge die mededingingswetgewing en regulasies hoef te gebeur of gebeur nie.

Die Wet op Mededinging reken byvoorbeeld eenvoudig dat ‘n persentasie markaandeel genoegsame bewys van ‘dominansie’ is. Die oorsprong van dominansie, wat blote uitnemendheid van produk of diens kan wees, word nie oorweeg nie.

‘n Ander vraag is of verbruikers werklik uit gedrag van ondernemings skade ly. Die impak op verbruikers word gereeld in hierdie wette geïgnoreer. In die bogenoemde riglyne sien ons weereens ‘n geval waar die impak op verbruikers buite berekening gelaat word deurdat aangewese voorsieners die hoof fokus is. Sien 8.2.1 van die riglyne:

The inquiry [on “effective partcipation”] does not in the Commission’s view require an assessment of the effects on consumers but rather on the designated class of supplier.

Die Wet verbied byvoorbeeld ook ‘horisontale’ gedrag oftewel ‘samespanning’ deur firmas, maar wat as samespanning tot ‘n doeltreffender samesmelting sou lei wat verbruikers sou baat?, wonder diegene soos vryemarkekonoom prof. Dominique Armentano.  So ‘n verweer word nie in die howe toegelaat nie.

Hierdie wetgewing is dus vanuit ‘n bepaalde perspektief oor  mededingingskwessies opgestel, selfs al is daar kritiese vrae oor die benadering tot mededingingsbeleid in die algemeen.

Terug by die voorgestelde regulasies. Die regulasies en riglyne skep uiteindelik ‘n metode vir verdere owerheidsinmenging by markte en sal aansporings op markte verander.

Dit gaan waarskynlik saam met BEE en RA die toepassing van rassetransformasie in die sakesektor verskerp. Dit sal waarskynlik sommige firmas ontmoedig van uitbreiding om sodoende nie as ‘dominant’ geklassifiseer te word nie. Dit kan selfs ander aangewese voorsieners aanmoedig om die regstelsel te misbruik en hulle markgedrag aan te pas om hieruit te kan baat.

Hoewel dominante ondernemings ongevolge die Wet nie aangewese voorsieners mag vermy nie, sal stappe geneem word om risiko’s te verminder. Dit kom neer op ‘n koste en opwegings. Soos die geval met alle inmeningingswette gaan heelwat ondernemings nou meer energie spandeer op voldoening en minder aan dinge soos die uitbreiding van sake.

Uiteindelik is die vraag dan of produksie in geheel aangemoedig of ontmoedig sal word.

Luister ook na die volgende Beleidsradar-gesprek oor mededingingsbeleid.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF