Media-uitnodiging: Sakeliga more in hof teen BEE-vereistes in staatsverkryging 

Die sakegroep Sakeliga sal môre in die Hoogste Hof van Appèl (HHA) teen sekere nuwe swart ekonomiese bemagtigingsvereistes (BEE) in staatsverkryging argumenteer. Die saak het betrekking op die absolute, vooraf en rasgebaseerde uitsluiting van kontrakteurs ten opsigte van verskaffing aan die staat en staatsondernemings soos Eskom.

Sakeliga verwelkom en ondersteun die aansoek van die South African Property Owners Association (SAPOA) om as amicus curiae tot die saak toegelaat te word. SAPOA argumenteer ook teen die vooraf-diskwalifikasie-kriteria.

Sakeliga doen by die HHA aansoek om verlof tot appèl nadat sodanige verlof in Junie 2019 nie deur die Suid-Gautengse Hooggeregshof toegestaan is nie. Die saak handel oor regulasies wat in 2017 kragtens die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid, 5 van 2000, ingestel is deur die Departement van Finansies onder die destydse Minister van Finansies, Pravin Gordhan. Sakeliga het geappelleer teen ’n ongunstige uitspraak in Desember 2018, waarin die regulasies gehandhaaf is.

Die gewraakte regulasies behels ‘n klein, maar buitengewoon skadelike uitbreiding van BEE-wetgewing. Dit skenk aan staatsondernemings soos Eskom en staatsorgane soos munisipaliteite ’n nuwe bevoegdheid, naamlik om hulle eie diskresionêre en arbitrêre minimum BEE-vereistes te stel waaraan ’n kontrakteur moet voldoen as hy enigsins net oorweeg wil word vir sake met ’n staatsentiteit.

“Ironies genoeg,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, “is dit nou die geval dat minister Pravin Gordhan, wat hierdie regulasies in 2017 geïmplementeer het, as Minister van Openbare Ondernemings weer die vrugte daarvan pluk. Ingevolge sy regulasies het staatsentiteite die afgelope jare dikwels voornemende kontrakteurs by voorbaat gediskwalifiseer as hulle nie 51% in swart besit is nie. Met ander woorde, hulle is vanuit die staanspoor gediskwalifiseer selfs sonder dat hul prys- en waardeproposisie oorweeg is.”

Voor die regulasies sou staatsbeheerde entiteite bloot punte aftrek vir tenders wat nie aan sekere SEB-kriteria voldoen nie. Nou is hulle egter by magte om tenders wat nie aan arbitrêre SEB-drempels voldoen nie, vooraf te diskwalifiseer. ’n Tender is wél steeds veronderstel om toegeken te word aan die diensverskaffer met die hoogste telling, maar net soos gekies uit die geledere van diensverskaffers wat nie vooraf op grond van ras gediskwalifiseer is nie.

Le Roux gaan voort: “Met ander woorde, maatskappye en mense wat sou kon help om munisipaliteits, Eskom of enige ander staatsorgaan regtig te laat werk en geld spaar, is die deur gewys op grond van ras. Dit is nie ’n kleinigheid nie. Deur kontrakteurs op grond van ras te diskwalifiseer, ontsê die staat – op ’n kritieke tyd vir die ekonomie en die samelewing – die publiek die volle verskeidenheid kostedoeltreffende kundigheid wat op die mark beskikbaar is. Op die ou einde verloor verbruikers en belastingbetalers, want die verkeerde norm word toegepas. Tenders moet toegeken word volgens waarde vir geld vir verbruikers (en belastingbetalers), nie volgens die ras van ’n kontrakteur se aandeelhouers of die vermoë van ’n kontrakteur om spesiale behandeling te kry nie.”

Le Roux sluit af: “Sakeliga bly daarvan oortuig dat die regulasies strydig met die Wet self is en dat die promulgering en aanvaarding van die regulasies van 2017 ongeldig verklaar en tersyde gestel behoort te word. Voorts beskou Sakeliga dit as onaanvaarbaar vir die staat en staatsbeheerde entiteite om absolute uitsluitings op grond van ras te stel vir maatskappye wat met hom wil sake doen. Ons sien daarna uit om ons saak in die hof te stel en die openbare belang te dien.”

No products in the cart.