Nuus > Gasskrywers > Moeilike besluite deur die regering benodig waar SA op die rand van ’n fiskale afgrond staan

Suid-Afrikaners het verlede maand nog ’n somber waarskuwing oor die haglike toestand van sy staatsbeheerde instellings ontvang, toe die nasionale tesourie aankondig Eskom benodig oor die volgende twee fiskale jare finansiële steun ter waarde van R59 miljard (R26 miljard in 2019/20 en R33 miljard in 2020/21) om te verseker dat die kragvoorsiener ’n lopende saak bly, skryf Jana van Deventer, hoof van finansiële markte by ETM Analytics. Jana is ‘n gereelde gasskrywer vir Sakeliga.

OUTEUR: JANA VAN DEVENTER, ETM ANALYTICS

Staatsondernemings lê die ekonomie lam

Die aansienlike kontantinspuiting wat Eskom benodig, kom op ’n tydstip waar die staatsbeheerde instelling met skuld van sowat R440 miljard sukkel, terwyl die jongste finansiële resultate toon die maatskappy het in die boekjaar tot einde Maart 2019 ’n verlies van R20.7 miljard gely.

Nog meer kommerwekkend is dat geen spesifieke voorwaardes aan die jongste reddingspakket gekoppel is nie, en by die skryf hiervan is Suid-Afrikaners steeds in die duister oor die strategieë wat in werking gestel gaan word om Eskom se volhoubaarheid in die toekoms te verseker.

Die nasionale tesourie kanaliseer meer geld (wat die land nie het nie) na die bodemlose put wat Eskom is, met geen teken dat fundamentele veranderings in die onderliggende strukture in werking gestel sal word nie.

Geen tasbare vordering is gemaak om die enorme staatsonderneming in drie afsonderlike entiteite (opwekking, transmissie en verspreiding) te ontbondel nie en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het in Augustus aangedui die nuwe herstruktureringskantoor se primêre verantwoordelikheid sal wees om die maatskappy se skuld (eerder as die entiteit self) te herstruktureer.

Die kantoor sal ook help met die formulering van ’n witskrif – wat bestem is om middel September uitgereik te word – wat na verwagting die stappe sal uitstippel wat nodig is om Eskom te herstruktureer. Intussen bly Eskom die enkele grootste risiko wat Suid-Afrika se reeds oorspanne fiskus bedreig.

Die koste van beleid wat wanbestuur word

Een van die belangrikste dinge waaraan ons Jacob Zuma se vertoning as president van die land meet, is die geleidelike dog beduidende insinking in fiskale dinamiek wat tydens sy ampstermyn plaasgevind het.

Waar die land op die punt staan om ’n kredietgradering van volslae rommelstatus te ontvang, is dit byna onmoontlik om te dink minder as ’n dekade gelede het Suid-Afrika ’n kredietgradering van ’n hele paar kerwe hoër as beleggingsgraad gehad.

Die verval in die land se kredietgradering het met ’n geleidelike opbou in skuld saamgeval, ’n tendens wat steeds voortduur. In die 2019/20 fiskale jaar sal Suid-Afrika se skuld-tot-BBP-verhouding baie naby aan 60% wees, wat wesenlik hoër is as die vlakke van sowat 26,5% van die BBP destyds in 2008.

Die teensikliese fiskale stimulus wat aanvanklik ingestel is om die nagevolge van die wêreldwye finansiële krisis te probeer versag, het lank ná die krisis in plek gebly. Suid-Afrika het vervolgens in ’n land verander wat ver bo sy vermoë geld uitgee, wat tot ’n aansienlike en wesenlike opbou van skuld gelei het.

Om dit beter te verstaan: nominale besteding groei teen vlakke digby 8,0% per jaar, terwyl die ekonomie beswaarlik teen 1,0% per jaar uitbrei. Ondanks die talle belastingverhogings wat die afgelope jare in werking gestel is, het die nasionale regering se begroting daarom voortdurend verder agteruitgegaan; die fiskale tekort sal na verwagting vanjaar op meer as 6,0% van die BBP inkom.

Staatskaping het die agteruitgang van die begroting natuurlik vererger, aangesien ’n wesenlike deel van die begrotingsgeld weens korrupsie en grootskaalse wanadministrasie verlore gegaan het.

Waarheen volgende?

Die geleidelike skuldtoename het gemaak dat Suid-Afrika in onlangse jare aan die ontvangkant van veelvuldige kredietafgraderings was, met twee van die drie groot kredietgraderingsagentskappe wat ons staatskuld op onder beleggingsgraad takseer.

Net Moody’s hou ons gradering op beleggingsgraad, maar SA is op die randjie van volslae rommelstatus aangesien ons slegs ’n enkele kerf weg is van ’n gradering onder beleggingsgraad.

Ná die jongste aankondiging van nog ’n enorme reddingsboei aan Eskom, het al drie graderingsagentskappe waarskuwings uitgereik oor die land se verslegtende krediettoestand.

Fitch het die vooruitsig vir die land se skuldgradering van BB+ van stabiel na negatief verander.  Intussen het Moody’s bevestig die voorstel om die finansiële steun wat Eskom ontvang meer as te verdubbel, is kredietnegatief vir die land, terwyl S&P verklaar het dat Eskom voortgaan om aansienlike risiko in te hou en dat verdere reddingspakkette die land se skuldsyfers onder druk sal plaas.

Die oorhoofse narratief beklemtoon hoe Suid-Afrika gevaar loop om verder afgegradeer te word – ’n gevaar wat verwerklik sal word tensy hervormings deurgedruk word.

Die meegaande grafiek – wat ’n samevoeging van kredietgraderings (omgekeer) teenoor die skuld-tot-BBP-verhouding uitstippel – beklemtoon hoe die agteruitgang in ons kredietgradering saam met die geleidelike toename in skuld gematerialiseer het.

Dit suggereer ook dat tensy die regering en nasionale tesourie ’n oplossing kan bewerkstellig wat fiskale konsolidasie waarborg deur die skuld te stabiliseer, verdere afgraderings tot dieper in die gebied onderkant beleggingsgraad nie buite die kwessie is nie.

Die uurglas is besig om leeg te loop vir Suid-Afrika en ’n klompie moeilike besluite sal geneem moet word om verdere fiskale agteruitgang te keer. Opsies is daar egter min, want die regering is waarskynlik by die punt waar hy nie uit die private sektor veel meer kan tap in terme van belasting nie.

Om nog skuld uit te reik, hou intussen die gevaar in dat dit Suid-Afrika oor die fiskale afgrond kan laat tuimel.

President Ramaphosa het by verskeie geleenthede aangedui dat die gedeeltelike privatisering van staatsondernemings nie op die agenda is nie; tog het finansminister Tito Mboweni self vroeër vanjaar aangedui dat gedeeltelike privatisering ’n opsie behoort te wees om die land se finansieel beleërde semi-staatsinstellings te red.

Dus, terwyl politieke inmenging tot nou toe verhinder het dat moeilike besluite uitgevoer word, het Suid-Afrika bes moontlik ’n punt begin bereik waar dié besluitnemingsprosesse gedepolitiseer moet word. Die alternatief vir die neem van dié moeilike besluite sal tot die hele land se nadeel wees.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF