Nuus > In die media > ’n Vryer mark vir elektrisiteit is stap een vir ’n volhoubare regrukstrategie vir SA se kragkrisis – Sakeliga

As Nersa die Suid-Afrikaanse kragkrisis wil oplos, sal hy moet begin deur stappe te doen om elektrisiteitvoorsiening te desentraliseer en die land se afhanklikheid van Eskom as primêre koper en produsent van elektrisiteit te verminder. Saam met ’n weiering om ’n groot verhoging in elektrisiteitstariewe toe te staan, sal die toetrede van privaat kragprodusente risiko’s vir die land verminder.

Dit is van die kommentaar deur die onafhanklike sakeorganisasie Sakeliga voor Nersa se raad oor Eskom se MYPD-4-aansoek vir ’n elektrisiteitsprysverhoging van meer as 15% per jaar oor drie jaar tot finansiële jaar 2022. Sakeliga het sy kommentaar vandag namens sy 12 500 lede voorgelê en sy kommer uitgespreek oor die impak van hoër insetpryse op die sakegemeenskap en die KMO-mark in die besonder.

“Eskom se besigheidsmodel is fundamenteel onstabiel. Voortdurende skerp stygings in elektrisiteitstariewe kan vir belangrike eindgebruikers groter aansporing bied om verdere afhanklikheid van Eskom se elektrisiteitvoorsiening te vermy. Sakeliga is dus van mening dat verdere tariefverhogings waarskynlik skadelik sal wees vir die ekonomie en vir ons lede, maar, baie belangrik, ook vir Eskom se eie besigheidsmodel. Gevolglik het ons Nersa vandag versoek om tariewe nie te verhoog nie, en in die lig van die moontlike sensitiwiteit rondom prysverhogings sal hy dalk selfs reële tariefverlagings moet oorweeg,” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga.

Volgens Sakeliga sal die beste oplossing in hierdie stadium wees om die verkoop van elektrisiteit deur privaat kragmaatskappye direk aan munisipaliteite te bevorder. “Die Departement van Energie het reeds in hierdie rigting beweeg met sy program van onafhanklike kragprodusente (IPP). Dit is egter hopeloos ontoereikend aangesien die produsente steeds wetlik verplig word om hulle krag deur Eskom te verkoop, wat neerkom op niks anders nie as nog ’n ondoeltreffende en burokratiese tenderproses. Nersa moet weier om enigsins voorsiening vir bykomende IPP-ooreenkomste deur Eskom te maak.  Pleks daarvan moet die Minister die bestaande reguleringsmaatreëls gebruik om doeltreffender en meer markgerigte gedesentraliseerde koopreëlings moontlik te maak,” volgens Daniel du Plessis, regsontleder by Sakeliga.

Sakeliga is van mening dat die beste oplossing op die lange duur sou wees om die elektrisiteitsmark heeltemal oop te stel vir deelname deur die privaat sektor. Intussen, volgens Du Plessis, is daar baie wat reeds gedoen kan word om in hierdie rigting te beweeg. “Ingevolge die  Wet op die Regulering van Elektrisiteit kan die Minister feitlik onmiddellik begin om die situasie te verbeter. Privaat kragprodusente kan genooi word om direk by munisipaliteite te tender – en as die goedkoopste en beste aanbiedinge gekies word, kan die Minister versoek word om die koop ingevolge die Wet goed te keur.”

As Nersa die skerp tariefverhogings goedkeur waarvoor Eskom aansoek doen, sal Eskom se ondoeltreffende besigheidsmodel voortbestaan, wat broodnodige hervormings in die elektrisiteitsektor sal vertraag. “Suid-Afrikaners sal mededingende elektrisiteitspryse, groter stabiliteit en beter elektrisiteitsvoorsiening ontsê word, en ekonomiese groei sal kragteloos bly,” aldus Van Onselen.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF