Kommentaar op die Konsepwetsontwerp op die Ontwikkeling van Stroomop-petroleumhulpbronne, 2019

view-of-factory-against-blue-sky-257700

Sakeliga het onlangs sy kommentaar op die Konsepwetsontwerp op die Ontwikkeling van Stroomop-petroleumhulpbronne, 2019 voorgelê aan die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie. In ons kommentaar het ons die departement aangemoedig om versigtig te oorweeg watter vorm van petroleumwetgewing dit besig is om te ontwikkel. Ons het verder spesifiek kommer oor Artikels 38 en 39 van die wetsontwerp uitgespreek.

Artikel 38 gee ’n staatsonderneming ’n 20%-deelnamebelang in petroleumopsporing- en ontwikkelingsondernemings. Verder pas Artikel 39 BEE toe op opsporingsaktiwiteite, en maak selfs voorsiening vir 100% afbakening van petroleumblokke.

Sakeliga is van mening dat sulke ingrypings addisionele koste sou beteken vir firmas wat beoog om petroleumhulpbronne in Suid-Afrika te ontwikkel. Gevolglik mag sulke vereistes petroleumopsporing en -ontwikkeling verhinder. Indien sulke vereistes sou lei tot ekonomiese ondoeltreffendheid, sou dit minder ontwikkeling van petroleumhulpbronne kon beteken as wat vrylik moontlik sou wees.

Ons voorstel aan die departement is om die Artikel 38- en 39-vereistes aan ’n onafhanklike en objektiewe ekonomiese impakstudie (EIS) te onderwerp as deel van die vereiste sosio-ekonomiese impakstudies waaroor die nasionale tesourie opdrag gegee het. Die EIS behoort die waarskynlike ekonomiese koste en -opwegings om petroleumhulpbronne te ontwikkel versigtig te oorweeg.

Lees ons kort voorlegging aan die departement by die volgende skakel.

Argiewe