Onveranderde inperking doen meer kwaad as goed terwyl ekonomiese ineenstorting dreig

Apr 16, 2020 | Alle Nuus, Featured Artikels, Mediaverklarings, Nuus

Onveranderde inperking doen meer kwaad as goed terwyl ekonomiese ineenstorting dreig

* 66% van Sakeliga se respondente verwag nou meer as 25% daling in omset in 2020 *

Dit moet gesê word: Die inperking in sy huidige vorm doen meer kwaad as goed. Die wysigings aan die inperkingsregulasies wat op 16 April 2020 aangekondig is, is heeltemal te min vir die hervatting van veilige sakebedrywighede en openbare welstand.

Sakeliga aanvaar dat dit die regering se bedoeling is om openbare gesondheid te beskerm. Ons moet nou egter met respek aanvoer dat die huidige benadering se ernstige uitwerking op materiële welstand en maatskaplike stabiliteit dit juis bedreig. Slegs in enkele opsigte is verdere voorsiening vir veilige sakebedrywighede gemaak, terwyl sommige bepalings selfs strenger gemaak is. Boonop word nadelige verbooie soos dié op gemeenskapsbuurtwagte, normale informele voedselverkope en e-handel gehandhaaf. Dit hoef nie so te wees nie.

Verdere ekonomiese skade met al die nadelige gevolge daarvan kan voorkom word terwyl dieselfde vlak van openbare gesondheid gehandhaaf of selfs verbeter word. Dit sal vereis dat die reguleringsfokus verskuif weg van bepalings oor wat toegelaat word, na bepalings oor wat nie toegelaat word nie.

Sakeliga se meningspeiling na aankondiging van regulering

In ’n meningsopname wat tussen een en vier uur na vandag se aankondiging van die verlengde inperking se regulasies gedoen is, het 66% van sakeondernemings aangedui dat hulle nou ‘n 25% en meer daling in hul 2020-omset verwag. Boonop het 40% aangedui dat hulle nie sien hoe hulle vir verliese sal kan opmaak nie. 400 ondernemings het aan die opname deelgeneem.

Van ondernemings wat as “noodsaaklik” beskou word, het 83% aangedui dat hulle dit moeiliker vind om insette van primêre verskaffers te bekom, en 55% vind dit baie moeilik. Dít is ’n aanduiding van die diep-geïntegreerde aard van ons moderne ekonomie, waar alle ondernemings deel van ’n groot waardeketting is wat kos op mense se tafels plaas. Probleme in “nie-noodsaaklike ondernemings” het ’n ernstige uitwerking ook op “noodsaaklike ondernemings”.

Probleme met die onderskeid tussen noodsaaklik en nie-noodsaaklik

Die huidige onderskeid tussen noodsaaklike en nie-noodsaaklike ondernemings is een van baie maniere om die openbare gesondheidsrisiko te hanteer. Hoewel dit vanuit ’n beleidsperspektief intuïtief mag wees, is die praktiese gevolge daarvan nou duidelik: pogings om te definieer wat noodsaaklik is en wat nie, skep ’n doolhof van onsekerheid en vertragings, wat verdere openbare gesondheidsgevolge meebring.

Feitlik elke sakebedrywigheid wat nie uitdruklik toegelaat word nie, is in hierdie stadium verbode. So-iets is egter nie ’n kenmerk van ’n samelewing wat sy sakeondernemings en ander organisasies vertrou om innoverende maniere te vind om tot gemeenskaplike welstand by te dra nie. Dit beperk ons maatskaplike potensiaal tot dié van gesentraliseerde besluitneming soos in ’n bevelsekonomie in ’n tyd wanneer ons eerder alle bydraes behoort te verwelkom.

Daar is vandag geen gebrek aan welwillendheid onder sakeondernemings om vrywillig aan versoeke en riglyne te voldoen nie, maar pleks daarvan kry hulle te make met ’n steeds veranderende, onduidelike en skynbaar halfpermanente nuwe reguleringsraamwerk vir die ekonomie, hoe goed die bedoelings ook al is. Dit is ’n berg wat veral klein en medium ondernemings nie sal kan uitklim nie. Dit sal duisende ondernemings, wie se bedrywighede geen bykomende gesondheidsrisiko inhou nie, belas met verbodsbepalings, dokumentasievereistes en beleidsvertragings.

Alternatiewe

Verskeie organisasies en toonaangewende denkers het die afgelope tyd reeds alternatiewe benaderings en reguleringswyses aan die hand gedoen. Vele daarvan is verdienstelik.

Een besonder aantreklike alternatief is om ’n onderskeid te begin tref tussen hoërisiko- en laerisiko-sakebedrywighede. Volgens so ’n benadering sal alle sakeondernemings kan voortgaan solank hulle seker maak dat hul bedrywighede aangepas is vir gesondheidsrisiko’s. Reguleerders kan dan fokus op die identifisering en definiëring van riskante bedrywighede wat verander moet word, pleks van ondernemings te identifiseer wat oop of toe moet wees.

Die aantreklikheid van hierdie benadering is dat dit sowel openbare gesondheid as maatskaplike en ekonomiese stabiliteit sal versterk. Dit sal ook baie makliker wees om te verstaan en te steun, omdat die reguleringsfokus val op definiëring van wat nie toegelaat word nie, pleks van te definieer wat wél toegelaat word – soos wat dit in ’n vrye samelewing behoort te gebeur.

Oor Sakeliga

Sakeliga is een van die grootste sakegroepe in Suid-Afrika en verteenwoordig tans meer as 16 000 sakeondernemings, sakelui en sakekamers. Besoek gerus www.sakeliga.co.za/en/covid19 vir meer inligting.