Inisiatiewe > Ramptoestande, noodtoestande en die magte van die staat tydens krisis en nood

‘n Rampverklaring kragtens die Rampbestuurwet is steeds onderhewig aan die beginsels van ‘n regstaat en heerskappy van die reg. Die heersende rampverklaring – een van tussentydse aard – moet nie met ‘n noodtoestand verwar word waar grondwetlike regte sonder meer deur staatsbeamptes verontagsaam mag word nie. Die rol van die burgerlike samelewing in ‘n verklaring van ‘n ramptoestand is om te verseker dat die regering nie hul magte oorskry nie. As deel van Sakeliga se daaglikse webinaar-inisiatief oor ondernemings en COVID-19, analiseer Sakeliga HUB Piet le Roux en regsgeleerde Peter Wassenaar of die regering hul magte sou oorskry met die instelling van BEE-vereistes met die toekennings van noodfondse vanuit die gehuldigde KMMO-noodfonds.

 Klein, medium en mikro-grootte ondernemings (KMMO’s) sal deur middel van ‘n aansoekproses by smmesa.gov.za in aanmerking kan kom vir die beskikbaarstelling van noodfondse ten einde skulde te delg te midde van die verwoestende COVID-19-krisis. Dit is bemoedigend, maar dit het egter in ‘n konsepdokument van die departement van kleinsake-ontwikkeling aan die lig gekom dat rassevereistes ingespan sal word in die evaluasie van aansoeke vir beskikbaarstelling van noodfondse vir KMMO’s. Hierdie toedrag van sake het Sakeliga, deur middel van opdrag aan van Peter Wassenaar van Kriek, Wassenaar & Venter Ingelyf, genoop om ‘n aanmaning aan die Minister van kleinsake-ontwikkeling te stuur om haar te versoek om te bevestig of te ontken of rasseklassifikasie wel ‘n rol in die toekenning van noodfondse aan KMMO’s sal speel. Die aanmaning lui verder dat indien dit wel die geval is dat ras as kriteria gebruik word, dié kriterium onttrek moet word. 

Volgens Wassenaar is ‘n toedeling van noodfondse op grond van ras, ongrondwetlik. Boonop is dit “nie die bedoeling van die Rampbestuurwet” dat ras ‘n rol moet speel nie. Die Minister sou teen 16:00 gistermiddag haar departement se posisie aan Wassenaar, sowel as die publiek, moes bevestig. 

Die gesprek oor BEE en noodfondse kom teen die agtergrond van Wassenaar se uiteensetting van die onderskeid tussen ‘n ramptoestand en ‘n noodtoestand. “Hierdie is nie ‘n noodtoestand nie. Hierdie is ‘n rampsverklaring kragtens artikel 27 van die Rampbestuurwet”. Belangrik, is dat die staat se optrede onder ‘n ramptoestand, anders as wat die geval onder ‘n noodtoestand sou wees, steeds onderhewig is aan die beginsels van ‘n regstaat en heerskappy van die reg. Derhalwe mag die staat nie in die afwesigheid van ‘n algemeen geldende regsvoorskrif – soos ‘n parlementswet of ‘n regulasie ingevolge ‘n parlementswet uitgereik  grondwetlik beskermde regte inperk nie. Die staat mag wel byvoorbeeld alkoholgebruik en beweging inperk ingevolge ‘n regulasie in die Staatskoerant gepubliseer, aangesien die Rampbestuurwet juis spesifieke bepalings daaroor bevat. Omdat die hele land as ‘n rampgebied verklaar is, is die ramptoestand ten opsigte van die hele land van krag. Die ramptoestand kan vir drie maande op ‘n slag voortduur, waarna die Minister dit maand-tot-maand kag verleng. Op hierdie manier het die burgerlike samelewing ‘n meganisme om die voortduur van ‘n ramptoestand uit te daag deur die rasionaliteit van ‘n Minister se besluit om ‘n ramptoestand verleng, aan te veg. 

Volgens Wassenaar is die grootste probleem op die oomblik onsekerheid. Die kabinet het besluite aangekondig, maar daar is groot onsekerheid oor watter ondernemings byvoorbeeld mag deure oophou. Verskeie staatsdepartemente genereer tans verskeie dokumente in hierdie verband maar daar is “bitter min formele verklarings”. Die belangrikste is dat die burgerlike samelewing kragte saamspan om “seker te maak dat die regering aan hulle kant nie die rubicon oorskry nie” – dit wil sê, dat hulle nie die perke van hul mag oorskry nie.  

Sakeliga moedig ondernemings wat vir die rampfonds aansoek gedoen het aan om vir Sakeliga op hoogte te hou van die proses en uitkoms van die aansoek. Sodoende kan Sakeliga datapunte versamel om sinvolle afleidings oor patrone van toekennings te maak, en die geheelprentjie beter verstaan. Op hierdie manier is almal sterker saam. Diegene met voorstelle oor hoe ondernemings ‘n bydrae kan lewer in hierdie krisistyd word aangemoedig om hulle voorstelle aan diens@sakeliga.co.za te stuur.  

Die gesprek tussen Wassenaar en le Roux kan hier gekyk word: https://bit.ly/3bswE6H 

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF