Regering aanvaar verskeie Sakeliga-voorstelle aan inperkingsregulasies 

Sakelui en hul werknemers mag nou van die huis af werk. Dít en verdere verslappings en regstellings is vervat in regulasies wat die regering vanoggend gepubliseer het, soos die afgelope vier dae dringend en in verskeie regsbriewe deur Sakeliga versoek. 

Verdere regstellings en verslappings sluit in dat kritieke onderhoud nou ook uitdruklik as noodsaaklike dienste geklassifiseer word. Ook is sakelui en die publiek se reg op skadevergoedingseise teen verkeerde wetstoepassing nou duidelik herstel.

“Sakeliga verwelkom die aanvaarding van hierdie wysigings. Ons is steeds in kommunikasie met verskeie staatsdepartemente oor aangekondigde regulasies en hoop om ook dáár verbeterings en spoedige regstelling van foute te kry.”

Die regulasiewysigings is vanoggend in die staatskoerant (kennisgewing 419) gepubliseer deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Sakeliga wys veral op die belang van die volgende wysigings in die betrokke regulasiekennisgewing:

  • Regulasie 11B(1)(b): ondernemings en hul werknemers is nou welkom om besigheid vanuit hul plekke van inperking of vanuit die buiteland voort te sit.
  • Regulasie 11B(4A)(a): werkplekke moet maatreëls vir sorg en onderhoud in plek hê, en die werk wat hiervoor gedoen word is van ‘n noodsaaklike aard. Waar die kabinetsministers vir handel en nywerheid regulasies daaroor uitreik, moet dit op daardie voorwaardes geskied.
  • Regulasie 11E: Dié bepaling, wat sakelui en die publiek se reg op skadevergoeding in die geval van bona fide-optrede of versuim deur wetstoepassers weggeneem het, is geskrap. Die skrapping is in pas met Sakeliga se skrywes aan die minister dat sakelui se remedie van konstitusionele skadevergoedingseise nie sonder meer ingeperk kan word nie en dat die regulasies aan rasionaliteit en legaliteit moet voldoen.
  • Bylaag B: Die lys van noodsaaklike dienste is uitgebrei, en sluit nou byvoorbeeld in alle “kritieke onderhoudsdienste wat nie vir meer as 21 dae uitgestel kan word nie en wat noodsaaklik is vir die hervatting van bedryfsaktiwiteite na die inperkingstyd”. Ook sekere oproepsentrums, oes- en ander landbouaktiwiteite, sekere finansiële dienste, en verskeie ander besigheidsaktiwiteite is nou toelaatbaar.
  • Bylaag D: Restaurante is nou ingesluit in Bylaag D van die regulasies, wat bepaal dat dit vir die publiek gesluit is. Hierdie is ‘n gulde geleentheid vir die regering om, soos selfs in China die geval was, restaurante toe te laat om kos vir aflewering te maak. Dit sou in pas wees met die regering se oogmerk om groot samekomste te vermy, sou mense help om tuis kos te bekom, en sou talle klein besighede soos restaurante en afleweringsdienste ondersteun.

 “Ons verwag verdere verslappings en uitbreidings aan die definisie van noodsaaklike dienste in die komende dae en weke. ‘n Ekonomie is ‘n wonderlike, geïntegreerde verskynsel, wat nie sonder meer in noodsaaklik- en nie-noodsaaklik opgedeel kan word nie. Ons weet en kan in die wysigings sien dat ook verskeie ander sake- en industriegroepe se insette in ag geneem is, wat ‘n bemoedigende teken oor die veerkragtigheid van die sakesektor in Suid-Afrika is,” sê Le Roux.

“Sakeliga is een van die grootste sakeorganisasies in Suid-Afrika, met ‘n netwerk en lidmaatskap van meer as 15 000 uit hoofsaaklik klein- en mediumgrootte ondernemings. Ons is bly om die stem van hierdie ondernemings ver te kan uitdra en sal Sakeliga verdere voorstelle bly doen en ferm optree waar nodig. Die regulasies moet die ekonomie help om so gou as moontlik te kan hervat en herstel, in belang van die welsyn van almal in Suid-Afrika en almal in die wêreld wat op produksie uit die plaaslike ekonomie steun,” sluit Le Roux af.

Kliek hier om die oorspronklike dokument te lees.

Archives