RESULTATE VAN SAKELIGA SE EERSTE COVID-19 ONDERMEMINGSIMPAKPEILING

calculator-calculation-insurance-finance-53621

NOTA: VOORLOPIGE RESULTATE SOOS TEEN 2 APRIL 2020

INLEIDING

Die nuus wat ons hieronder deel is nie goeie nuus nie, maar dit is beter om die moeilike werklikheid in die oë te kyk as om die uitdaging te onderskat.

Sakeliga se navorsingspan peil tans ons lede en ons netwerk oor die impak van die Covid-19 regulasies. Die prentjie wat dit skets is een van groot ontwrigting en bekommernis. Dit bevestig ook die tendens wat ons sien in die navrae en versoeke om hulp wat ons dienslyne daagliks bereik. Daar is ligpunte tussendeur, maar dit word deur die ontwrigting oorskadu.

Wat staan ondernemings nou te doen? Natuurlik is daar nie maklike antwoorde nie, maar ons glo dat die antwoorde op die krisis grootliks uit die sakesektor self moet kom. Ons hoofsaak is om soveel ondernemings moontlik se deure oop te hou en so gou as moontlik ‘n vrye ekonomie te herstel. Dit doen ons op verskeie maniere soos op ons Covid-19-blad aangedui word.

Sover is die aanduidings verder dat die hulp van die regering beperk gaan wees. Die realiteit is dat, soos ons vantevore genoem het, nou ’n tyd is vir buitengewone sake. Dit beteken nie net innoverende aanpassing aan eie sakebedrywighede nie, maar ook ‘n dramatiese uitbreiding van gunstige sakegemeenskappe wat saamwerk om waarde te skep, werke te beskerm en die markekonomie se ketting van diensbaarheid in stand te hou.

Piet le Roux, uitvoerende hoof: Sakeliga

OOR DIE PEILING

Sakeliga het onlangs ’n vraelys onder sy lede versprei om indrukke oor die impak van die Covid-19-uitbreking en die regulatoriese reaksie daarop te peil. Hierdie vraelys vorm deel van ’n deurlopende peiling wat op ’n gereelde grondslag tydens die Covid-19-krisis geneem sal word. Die volgende peiling sal in die week van 13 April 2020 afskop. Die eerste peiling het gepoog om insae te kry in die toekomsuitkyk van sakepersone in die lig van Covid-19 en die huidige noodmaatreëls.

Duidelik is die peiling se uitslae reeds groot rede tot kommer. Nie net maak die Covid-19-uitbreking en die regulatoriese reaksie daarop ’n enorme impak op korttermynsaketoestande nie, maar die persepsies in ondernemings dui daarop dat dit ’n aansienlike tydperk kan neem vir sakelui se sakevooruitsigte om te herstel. Die uitslae en kommentare dui sterk op ’n akute krisis vir baie ondernemings. Heelwat ondernemings meen dat dit moeilik sal wees om die Covid-19-krisis se uitwerking uiteindelik teen te werk.

Gevolgtrekking en opsomming

Sover kom ons tot die volgende gevolgtrekking uit die data:

  • Die Covid-19-uitbreking, maar veral die regulatoriese reaksie daarop, het duidelik ’n ernstige uitwerking op die plaaslike sake-omgewing.
  • Dié verswakking is natuurlik nie verbasend nie, maar ’n baie groot aantal besighede in ons peiling het ’n groot verswakking in hul korttermynsaketoestande aangedui.
  • Verder is die swak vooruitsigte, selfs ná afloop van die komende twaalf maande, aangedui. Groot onsekerheid oor toekomsvooruitsigte word aangedui.
  • Min ondernemings was van mening dat hulle die skade van Covid-19 en die reaksies daarop uiteindelik sal kan teenwerk.
  • Respondente het begrip vir die rampbestuurmaatreëls aangedui in oop kommentare, hoewel daar groot kommer was oor die impak op ondernemings.

In hierdie moeilike omstandighede dink ons dit is absoluut noodsaaklik dat die sakegemeenskap self innoverend en buitengewoon optree om die krisis teen te werk. Buiten regeringshulp is private inisiatiewe wat fokus op klein en medium sake-ondernemings uiters nodig. Dit is daarin wat Sakeliga ’n rol wil speel.

Ons hou hierdie verwikkelinge dop en hou u op hoogte.

Gerhard van Onselen, senior ontleder: Sakeliga

RESULTATE IN ‘N NEUTEDOP 

  • Sakeliga se onlangse ledepeiling toon dat die huidige toestande vir 86% van ondernemings wat aan die peiling deelgeneem het aansienlik weens die Covid-19-krisis versleg het. 70% het aangedui dat toestande baie versleg het en vir 16% het dinge ietwat versleg. ’n Akute impak op ondernemings staan uit. ’n Minderheid van die respondente verwag beter vooruitsigte oor 30 dae, 90 dae en selfs ná die afloop van 12 maande.
  • Die respondente was meesal uit Gauteng en die Weskaap, en die meeste se ondernemings, sowat 92%, het minder as 50 persone in diens.
  • Byna 80% van die respondente het aangedui dat hul 30 dae-vooruitsigte nou baie swakker (58%) of swakker (20%) is as vantevore.
  • Sowat 60% van die respondente het aangedui dat hul 90 dae-uitkyk ook swakker (17%) of baie swakker (43%) is as vantevore. Noemenswaardige onsekerheid oor die toekoms is aangedui en onsekerheid neem toe hoe dieper in die toekoms in gekyk word. 31% van die respondente was onseker oor hul 90 dae-vooruitsigte (14% was onseker by die vraag oor die 30 dae-tydperk).
  • Respondente is ook gevra oor hul vooruitsigte ná die afloop van 12 maande. Onsekerheid na die afloop van 12 maande het verder toegeneem, met 37% wat onsekerheid aangedui het. Steeds het 41% baie swakker (23%) of swakker (18%) vooruitsigte aangedui na die afloop van 12 maande. Diegene wat beter vooruitsigte aangedui het, het slegs 17% van die respondente uitgemaak.
  • Sowat 47% van die respondente was van mening dat hul ondernemings min kan doen om die skadelike uitwerking van Covid-19 uiteindelik grootliks teen te werk. 27% het gemeen dat dié skadelike uitwerking tot ’n beperkte mate teengewerk kan word. Slegs 8% het gemeen die skade sal uiteindelik teengewerk kan word.
  • In oop kommentare is begrip vir die noodsaak van maatreëls om Covid-19 te bekamp aangedui, hoewel daar kommer was oor die impak op besighede, frustrasie oor die onsekerheid van die regulasies en vraagtekens oor die hulp wat beskikbaar is.

Beskrywing van die opnamesteekproef

Uit ’n totaal van 231 respondente wat sover deelgeneem het, is Gauteng (38%) en die Weskaap (24%) die sterkste verteenwoordig. 31% van die respondente het aangedui dat hulle deel vorm van ’n bestaande sakekamer. Sowat 92% van die respondente het aangedui dat hul onderneming minder as 50 persone in diens het. Ondernemings met 10 persone of minder in diens het sowat 65% van die totale respondente uitgemaak. Die opname het gevolglik hoofsaaklik betrekking op ondernemings met minder as 50 persone in diens.  Die peiling is geneem vanaf 26 Maart tot 2 April 2020.

Toestande oor die kort termyn (afgelope 7 dae)

Soos wat verwag kon word, het ’n groot meerderheid van respondente aangedui dat toestande vir hul ondernemings oor ‘n voorafgaande sewe dae weens Covid-19 baie versleg (70%) of ietwat versleg (16%) het. Slegs sowat 15% van die respondente het aangedui dat toestande dieselfde gebly het (10%) of ietwat (2%) of baie verbeter (3%) het. Dit bevestig dat ’n groot aantal van die respondente ervaar het dat toestande aansienlik oor die kort termyn verswak het weens Covid-19 en die reaksie daarop.

Kort- en mediumtermynvooruitsigte

30 dae-vooruitsigte: Die meeste van die respondente, sowat 78%, verwag swakker (20%) of baie swakker (58%) vooruitsigte oor die volgende 30 dae. Slegs 2% het beter vooruitsigte aangedui (sowat 6% het dieselfde aangedui) en 14% was onseker.

90 dae-vooruitsigte: 60% van die respondente het swakker (17%) of baie swakker (43%) vooruitsigte vir die volgende 90 dae aangedui. 10% van die respondente het dieselfde (5%) of beter (4%) of baie beter (1%) vooruitsigte aangedui, terwyl 31% onseker was oor hul 90 dae-vooruitsigte.

Die respondente se vooruitsigte oor beide die 30 dae- en 90 dae-tydperke was hoofsaaklik negatief. Dit is wel gesien dat die onsekerheid wat die respondente aangedui het toeneem soos die toekomstydperk van die vooruitsigte verleng word.

 

Vooruitsigte ná 12 maande: Die respondente  is ook gevra oor hul ondernemings se vooruitsigte ná die afloop van die komende 12 maande teenoor vandag. Die proporsie van die respondente wat onseker aangedui het was hier 37%, terwyl 41% steeds swakker (18%) of baie swakker (23%) vooruitsigte aangedui het. Die groep wat beter (10%) of baie beter (7%) vooruitsigte verwag, het sowat 17% van die respondente uitgemaak en 5% het dieselfde aangedui.

Gevolglik blyk dit dat onsekerheid oor vooruitsigte en kommer oor swakker vooruitsigte sterk deel uitgemaak het van die respondente se belewenis van die krisis tydens die tyd wat die peiling geneem is.

Oor 30 dae, 90 dae en selfs na 12 maande het betreklik min respondente ’n verwagting van beter vooruitsigte aangedui.

Mate wat skade beperk kan word: Respondente is verder gevra tot watter mate hul ondernemings daartoe in staat is om die skade van Covid-19 uiteindelik teen te werk. ’n Aansienlike aantal van die respondente, 47%, het aangedui dat min gedoen kan word om die skadelike uitwerking op hul onderneming te beperk. 27% was van mening dat die skadelike uitwerking slegs tot ’n beperkte mate teengewerk kan word. Slegs sowat 8% van die respondente verwag dat die skade uiteindelik grootliks teengewerk sal kan word en 15% was onseker hieroor (3% het ander terugvoer gegee).

Oop kommentare: Die respondente is ook die geleentheid gegun om oop kommentaar te lewer. Hoewel heelwat van die respondente begrip getoon het vir die nodigheid van noodmaatreëls om Covid-19 te bekamp, was daar aansienlike kommer oor die impak daarvan op ondernemings. Verder is aansienlike onsekerheid oor die huidige toepassing van regulasies aangedui, met bykomende onsekerheid oor die hulp wat aan ondernemings beskikbaar is. Sommige het ook die werkbaarheid van die inperkingsmaatreëls bevraagteken.

Einde.

 

 

Archives