Nuus > In die media > SA politieke risiko vandag erger as onder Zuma; Sakeliga onderneem internasionale toer

Politieke risiko in Suid-Afrika is vandag erger as onder president Jacob Zuma drie jaar tevore. Diversifisering internasionaal om teen plaaslike politieke risiko te verskans word die norm. Dit, te oordeel aan ‘n peiling onder Sakeliga-lede en intekenare in Augustus 2019.

Sakeliga se peiling onder lede en intekenare kom in aanloop tot dié organisasie se eersdaagse toer na verskeie sakebestemmings in Europa. Hoogtepunte uit die peiling sluit in:

  1. 84% van respondente beskou politieke risiko in Suid-Afrika as erger as drie jaar gelede
  2. 25% van respondente het al bepaalde internasionalisering van hul bedryfsaktiwiteite afgehandel of reeds begin. ‘n Verdere 24% van respondente beoog om hul bedryfsaktiwiteite internasionaal te diversifiseer binne die volgende drie jaar
  3. 21% van respondente het die registrasie van hul ondernemings in buitelandse jurisdiksies al afgehandel of reeds begin. ‘n Verdere 25% beplan om dit binne die volgende drie jaar te doen.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die internasionalisering van Suid-Afrikaanse ondernemings is, gegewe omstandighede, te verwelkom: “Verskansing teen politieke risiko in Suid-Afrika is sinvol. ‘Staatsbestande’ ondernemings is beter toegerus om plaaslike bedryfsaktiwiteite in riskante omstandighede voort te sit en die ekonomie teen politieke storms te beskerm. Daarsonder sou die Suid-Afrikaanse ekonomie eersdaags in ‘n veel slegter toestand wees.”

“Dit is waar dat sommige ondernemings en uitvoerende personeel Suid-Afrika geheel-en-al verlaat. Ons vind in ledeterugvoering en -tendense egter nie aanduidings van ‘n volslae uittog nie. Ons indruk is dat ondernemings eerder tans daarop fokus om ‘n gesonde verskansingstrategie teen politieke risiko in plek te stel.”

Le Roux sê dat, nieteenstaande baie hoop, planne en retoriek, die Cyril Ramaphosa-presidensie nie presteer nie: “Die telbord sê president Ramaphosa se termyn word gekenmerk deur toenemende maatskaplike onstabiliteit, onluste en ontwrigting, verslegtende saketoestande, verswakkende eiendomsreg, verskerping van rasdiskriminerende beleide soos Swart Ekonomiese Bemagtiging, voortgesette fiskale verkwisting, en ‘n verskeidenheid van ander skadelike intervensies. Dit is daarom nie verbasend nie dat sakelui besluit om hul blootstelling aan politieke risiko te verminder, eerder as om te wag op onbetaalde beloftes van beter saketoestande.”

“Om ‘n ekonomie se enjins van groei uit die hande van politici te hou is nie net goeie besigheid nie, maar – mees belangrik – ‘n openbare weldaad,” sê Le Roux. “As sulks verwelkom ons die toenemende internasionalisering van ondernemings in Suid-Afrika as iets wat plaaslike ekonomiese toestande verbeter, gegewe die stand van politieke risiko. Ongetwyfeld sal die tendens omkeer sou president Ramaphosa sy belofte van ‘n nuwe daeraad nakom en verskansing minder nodig is. Tot dan sal ondernemings in Suid-Afrika die verantwoordelike ding doen en hulself, hul werknemers en verbruikers teen politieke risiko beskerm.”

Die peiling het 261 respondente gehad. Vir meer besonderhede oor die peiling, klik hier.

Sakeliga se internasionale toer
Van 13 tot 20 September 2019 besoek Sakeliga ondernemings, ontleders en organisasies in verskeie Europese stede. Die doel van die toer is om Sakeliga internasionaal bekend te stel, gunstige internasionaliseringsgeleenthede vir sakelui wat vanuit Suid-Afrika besigheid doen te identifiseer, en om netwerke met die groeiende aantal eks-Suid-Afrikaners in die buiteland in stand te hou. Stede wat besoek word sluit onder meer in Londen, Antwerpen en Den Haag.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF