Nuus > In die media > Sakeliga bekom hofuitspraak wat sakegemeenskappe landswyd miljoene kan bespaar

Op grond van “nuwe” en “bepalende” argumente aangevoer deur Sakeliga in die hoë hof in Pretoria kan plaaslike sakegemeenskappe waarskynlik miljoene rande se regskoste teen Eskom spaar. Dit is die implikasie van ‘n waterskeidingsuitspraak vandeesweek, in die saak tussen Resilient Properties en andere teen Eskom en die eMalahleni munisipaliteit, waaraan Sakeliga as vriend van die hof (amicus curiae) deelgeneem het om te keer dat Eskom plaaslike gemeenskappe se krag afskakel.

Ingevolge die uitspraak mag Eskom (as staatsentiteit) nie die elektrisiteit na ‘n wanbetalende munisipaliteit (ook ‘n staatsentiteit) onderbreek alvorens dit al sy remedies soos vervat in artikel 41 en 42 van die Intergovernmental Relations Framework Act, 13 van 2005 uitgeput het nie.

In haar uitspraak verwys regter Hughes na Sakeliga se bydraes as bepalend: “Besides the constitutional and statutory provisions relied upon by Sakeliga NPC which were also advanced by the applicants and the municipalities, in my view, they advanced a novel legal point, which the other parties had not introduced, that being, the Application of the Intergovernmental Relations Framework Act 13 of 2005 and the Guidelines, which I address later in this judgment. This in fact allows for a broader consideration of the facts before me and a very persuasive one at it.”

Sy vervolg: “In my view, the legal argument of the amici [Sakeliga] is dispositive to the constitutional challenge. Section 41(3) of the Constitution provides that an organ of state involved in an intergovernmental dispute must make every reasonable effort to settle the dispute by means of appropriate mechanisms and procedures provided and must exhaust all other remedies before the courts are approached to resolve the problems. The situation in this case is such an intergovernmental dispute.”

“Ons is verheug dat Sakeliga se argumente in hierdie kwessie deurslaggewend was. Ons doel was juis om die hof met goeie navorsing en insette by te staan om regspraak in die algemene belang te lewer,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Verreikende implikasies
Le Roux sê die uitspraak het verreikende implikasies vir plaaslike sakegemeenskappe en die publiek landswyd: “Eskom se eensydige kragonderbrekings oor dispute met munisipale owerhede was besig om plaaslike ekonomieë landswyd te vernietig. Betalende sakelui en ander gebruikers was as’t ware gyselaars in ‘n dispuut tussen twee wanfunksionerende arms van dieselfde staat: aan die een kant Eskom en aan die ander kant munisipaliteite. Dit het plaaslike sakegemeenskappe miljoene rande gekos om hofbevele te bekom om te keer dat Eskom hulle krag afsny, nadat hulle reeds vir die elektrisiteit betaal het, maar die plaaslike munisipaliteit dit nie aan Eskom oorbetaal het nie. Hierdie uitspraak plaas nou ‘n veel hoër drempel vir Eskom voordat hulle elektrisiteit na gemeenskappe mag afsny. Ons glo dit kan sakegemeenskappe landswyd miljoene aan regskoste bespaar.”

“Boonop kan die uitspraak ook op ander dispute tussen staatsorgane van toepassing gemaak word. So sou die uitspraak moontlik kon meebring dat ‘n staatsentiteit wat water verskaf, maar weens ‘n rekeninggeskil met ‘n munisipaliteit die toevoer daarvan na ‘n gebied wou onderbreek, dit ook nou nie meer sonder meer kan doen nie,” sê Le Roux.

Armand Greyling, regspraktisyn by Sakeliga, sê oor die essensie van die hofbeslissing: “Eskom mag nou nie meer kragtoevoer na munisipaliteite onderbreek alvorens dit al sy remedies soos vervat in artikel 41 en 42 van die Intergovernmental Relations Framework Act, 13 van 2005 uitgeput het nie.  Aangesien so ‘n besluit om krag te onderbreek neerkom op ‘n administratiewe besluit, is artikel 6(2)(e)(iii) van die Promotion of Administrative Justice Act, 3 van 2000 ook van toepassing. Dit bepaal dat Eskom en munisipaliteite in sulke geskille alle alternatiewe remedies moet uitput. As dit nie gedoen word nie is ‘n besluit van Eskom om kragtoevoer te onderbreek hersienbaar deur die hof.”

Agtergrond
Sakeliga het in Augustus 2018 aansoek gedoen om as ’n vriend van die hof gevoeg te word tot die die saak wat Resilient Properties en ander instansies teen Eskom en die eMalahleni Munisipaliteit ingestel het. Die applikante het die hof versoek om in te gryp en Eskom te verhoed om die plaaslike gemeenskap se elektrisiteitstoevoer te onderbreek. Die Emalahleni Munisipaliteit het Eskom destyds omtrent R1,6 miljard geskuld.

“Nadat Sakeliga verskeie regsaksies oorweeg het, het ons uiteindelik besluit dat die Resilient-saak een van die geskikte sake is vir ons om beginsels neer te lê om te Eskom verhoed om betalende elektrisiteitsverbruikers gyselaar te hou ten einde geld van munisipaliteite te verhaal,” sê Le Roux.

Le Roux vervolg: “Ons betreur Eskom se pogings die afgelope paar jaar om die tersaaklike dispuutbeslegtingsmeganismes tot sy beskikking, soos in die Intergovernmental Relations Framework Act bepaal, te omseil. Deur uit eie beweging elektrisiteitstoevoer na munisipaliteit af te skakel het Eskom nie alleen die howe probeer ontwyk nie, maar ook versuim om toepaslike dispuutbeslegtingsprosedures te volg. Iets wat die gees en doel van wetgewende bepalings ondermyn het het uiteindelik daartoe gelei dat betalende elektrisiteitsverbruikers landswyd teen groot koste hulp by die hof moes soek.”

Ander sake en regstrategie
Die uitspraak is Sakeliga se eerste in ‘n geding teen Eskom en munisipaliteite vanjaar.

In 2018 was Sakeliga suksesvol om ‘n tussentydse interdik te bekom om te verhoed dat Eskom elektrisiteit na die gemeenskap in Musina onderbreek. Ook in 2018 het Sakeliga finansiële bystand gelewer in ‘n saak waarin sakelui en bekommerde verbruikers in die Koster-omgewing ‘n tussentydse interdik teen die Kgetlengrivier plaaslike munisipaliteit en Eskom bekom het om te verhoed dat elektrisiteitstoevoer onderbreek word. Hierdie en verskeie ander sake sal nou heel moontlik op die gunstige bevindings oor Sakeliga se jongste argumente kan steun.

“Alhoewel hierdie nog maar net die begin van ons regstrategie is, is ons bly om nou al so ‘n groot verskil te kan maak. Ons het ‘n uitstekende regspan en werk reeds aan verdere sake, onder meer om wanbetalende munisipaliteite onder nuwe vorme van adminstrasie te plaas,” sê Le Roux.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF