Nuus > In die media > Sakeliga gaan ‘AirBnB’-wetsontwerp teenstaan

Die sakeorganisasie Sakeliga het sy regspan opdrag gegee om beswaar aan te teken teen ’n nuwe wetsontwerp wat baie nadelig kan wees vir die kleinskaalse, korttermyn huisverhuringsbedryf in Suid-Afrika wat deur aanlyn platforms soos AirBnB moontlik gemaak word.

Sakeliga se optrede kom na die publikasie verlede Vrydag van die Wysigingswetsontwerp op Toerisme (2019) en uitlatings deur Blessing Manale, hoofdirekteur van kommunikasie in die Departement van Toerisme. Mnr Manale het na berigte erken dat die departement sy oog het op huiseienaars wat hulle eiendom op ‘n klein skaal, vir kort tydperke verhuur met behulp van dienste soos AirBnB.

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, sê: “Die wetsontwerp is oënskynlik gemik op die bevordering van die toerismebedryf, maar in werklikheid gaan die wetsontwerp oor ingryping in die bedryf van kleinskaalse verhuring en die dienste wat deur maatskappye soos AirBnB gelewer word. Die Minister gaan nie die toerismebedryf bevorder nie, hy gaan pryse kunsmatig opjaag en inmeng in ’n bedryf wat homself baie beter reguleer as wat die regering kan.”

“’n Groter voorraad korttermyn-huureenhede lei tot gesonde mededinging. Innoverende markprosesse raak van swak diensverskaffers ontslae. Ten beste is die regering besig om die wiel te herontwerp – en ten slegste blaas hy die toerismebedryf se bande af.”

Sakeliga se regsontleder, Daniel du Plessis, verduidelik: “Die wetsontwerp beoog om artikel 7 van die Wet op Toerisme te wysig ten einde die Minister se reguleringsbevoegdhede uit te brei om ook ’n aantal beperkings en drempels in te sluit wat op korttermynverhuurders geplaas word. Afgesien van die potensiële inbreuk wat hierdie drempels op eiendomsreg maak, is dit heeltemal oorbodig.”

“In die eerste plek is dit nie heeltemal duidelik dat sodanige regulering in hierdie sektor nodig is nie. Markinnovasie bring self oplossings voort vir kwellings oor substandaard-korttermynhuurakkommodasie. Innovasie in onderlinge gradering verskaf aan huurverbruikers oorgenoeg inligting oor aanbiedinge. Verder word korttermynhuurverskaffers en kliënte ook gegradeer, wat tot groter vertroue in die mark lei,” sê Van Onselen.

Volgens Sakeliga kan hierdie regulasies se gevolge uitkring na die res van die Suid-Afrikaanse toerismebedryf. Die regering moet die impak daarvan deeglik oorweeg voordat hy dit implementeer.

“Dit is belangrik om te onthou dat akkommodasie net een deel van toerisme in Suid-Afrika is. As die regering per abuis die mark vir akkommodasie belemmer of vertraag, kan dit lei tot hoër koste vir ander instellings, wat ’n afname in kliënte en besoekers kan meebring. Die onlangse teenproduktiewe visumvereistes was ’n duur les vir die regering – en die toerismebedryf moes vir die gelag betaal. Laat ons nie die bedryf weer kortwiek nie,” sê Du Plessis.

Sakeliga se standpunt is dat die regering eers moet kyk hoe tegnologie nou die rol speel wat statutêre reëls en sentrale graderingstelsels tipies in die verlede gespeel het. ’n Bietjie vertroue in nuwe markinnovasie sal waarskynlik groot dividende vir die sektor oplewer.

“In die lig van die kommerwekkende stand van Suid-Afrika se fiskus en staatsbeheerde instellings is dit baie duidelik dat die publiek dit nie kan bekostig om belastinggeld op die bou van onnodige burokrasieë en funksies van die staat te vermors nie. As die regering hierdie regulasies wil hê, moet hy eers ’n tasbare behoefte daaraan en die waarskynlike voordele daarvan toon, vergeleke met die koste,” sê Van Onselen.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
TEKEN IN OP ONS NUUSBRIEF