Nuus > In die media > Sakeliga gaan BLF-hofkostes gebruik om Grondgryp911-platform te finansier om besettings te stuit

Meer as R68 000 – dít is die bedrag wat die sakeorganisasie Sakeliga vandag ingevolge ‘n kostebevel van Black First Land First (BLF) terugeis. Sakeliga beoog om die gelde aan te wend ter finansiering van Sakeliga se Grondgryp911-platform, wat vandag bekendgestel word.

Kostebevel 

Die kostebevel teen die BLF spruit uit ‘n interdik wat in Sakeliga se guns toegestaan is, toe die hooggeregshof in Pretoria die BLF en sy leiers Andile Mngxitama en Zanele Lwana verlede jaar verbied het om die publiek tot grondgrype aan te hits.

“Organisasies soos die BLF, wat onwettige en onverantwoordelike uitlatings en gedrag teenoor die publiek openbaar, moet besef daar is gevolge vir hulle dade.  Soos onlangs weer is dit duidelik dat die BLF en Mngxitama geen agting vir eiendom, die integriteit en waardigheid van ander mense, of selfs die regsorde self het nie. Daarom sal ons die gelde wat ons van hulle verhaal, terugploeg in die beskerming van eiendomsregte en ‘n konstitusionele orde,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van Sakeliga.

In Sakeliga se skrywe aan BLF vereis die sakeorganisasie dat die BLF die getakseerde kostebevel ten bedrae van R68,303.45 binne veertien dae betaal. Indien die BLF sou weier of nalaat om die nodige fondse aan Sakeliga oor te betaal, sal die organisasie oorgaan om beslaglegging op bates te laat doen. Indien geen sodanige bates beskikbaar is nie, sal Sakeliga beslag laat lê op fondse van die organisasie en sy leierskorps.

Bekendstelling: Grondgryp911 

Grondgryp911 is ‘n platform om grondbesettings te help stuit. Sakeliga stel die platform vandag vir openbare gebruik beskikbaar, by www.grondgryp911.co.za.

Grondgryp911 bemagtig grondeienaars met inligting, regshulp, en eiendomsrekords vanaf die landmeter-generaal, ten einde voor te berei of op te tree teen onwettige grondbesetters.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die organisasie wil sakelui en gemeenskappe bystaan om sélf teen grondgrype op te tree, omdat die regering in gebreke bly om dit te stop.

“Eiendomsreg in Suid-Afrika is onder druk. Die ANC en EFF se pogings om die Grondwet te wysig om “wettige” onteiening sonder vergoeding moontlik te maak skep onredelike verwagtinge en derhalwe ‘n teelaarde vir onwettige optrede. Boonop moedig Julius Malema en ander radikale en randfigure soos Andile Mngxitama van die BLF sommer openlik onwettige grondbesettings aan. Nieteenstaande herhaaldelike versekeringe deur President Ramaphosa – dat die regering nie onwettige grondbesettings, oftewel grondgrype sal toelaat nie – het dit in 2018 gereeld gebeur. Daar is ongelukkig rede om te vermoed dat grondgrype in 2019 sal toeneem, tensy sakelui en gemeenskappe ‘n stokkie daarvoor steek,” sê Le Roux.

Le Roux sê die probleem met grondgrype is dat dit aansteeklik is: “Onwettige grondbesettings is nie beperk tot landbougrond nie, maar vind dikwels juis in stedelike gebiede, insluitende sakegebiede, plaas. As grondgrype op een plek in die land gebeur, en nie afgeweer word nie, moedig dit grondgrype en wetteloosheid in ander dele van die land ook aan. Daarom is dit in die openbare belang om grondgrype, waar ook al dit plaasvind, in die kiem te smoor. So kan die regsorde beskerm word, en kan gekeer word dat die beperkte hulpbronne van die polisie en privaat sekuriteit op te veel plekke gelyk ontplooi moet word.”

Gebruikers van die platform kry boonop toegang tot die dienste van Hurter Spies Prokureurs, met wie Sakeliga skakel om grondgrype te stuit. Ter beskerming van die regsorde het Hurter Spies Prokureurs aangedui dat hulle slagoffers van grondbesettings wat bereid is om ‘n skenking van R300 per maand of meer aan Sakeliga te doen – en sodoende ‘n lid van Sakeliga te word – met regskoste tegemoet te kom. Na verwagting sal dringende interdikte teen grondbesetters in sulke gevalle teen sowat R30 000, advokatekoste ingesluit, bekom kan word, eerder as die R50 000 of meer wat dit normaalweg sou beloop.

Sluit aan by Sakeliga. Klik hier.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN