Ongekategoriseerde > Sakeliga kyk terug op die ekonomie in 2018

Nota: Hierdie stuk is aanvanklik op Maroela Media gepubliseer. 

DEEL 1: 2018 IN ‘N PAAR GRAFIEKE

Die 2018-jaar was ‘n moeilike jaar vol van verreikende politieke gebeurtenisse. Vanweë omstrede beleidsverwikkelinge gaan dié jaar nog lank sy stempel op Suid-Afrika se ekonomie afdruk.

Hierdie artikel bekyk die ekonomie in 2018 vanuit ‘n paar hoeke deur middel van ‘n paar grafieke en kommentare. Die fokus val op die aanvanklike Ramaphosa-euforie (oftewel Ramaforie) wat deur Zuma se bedanking en Ramaphosa se aanstelling ontlok is. Daarna, in gedeelte 2, word  die denkbare impak van president Ramaphosa se klaarblyklike projek om die ANC-regering se geloofwaardigheid te herstel, beskou.

Groot verandering

2018 het die val van beleërde voormalige president Zuma gesien en die opkoms van president Ramaphosa. Vanweë jare en jare van die Zuma-era se skandes, is dit natuurlik baie verstaanbaar dat die Ramaphosa-aanstelling met ‘n vloedgolf van sogenaamde Ramaforie (Ramaphosa-euforie) verwelkom is.

Ná jare van bykans ongebreidelde gunsbejag, korrupsie en regimeonsekerheid, was daar ‘n groot slaak van verligting toe iemand soos Ramaphosa oorgeneem het. Veral gegewe dat dit, immers, Ramaphosa “die sakeman” was – maar hoe diep strek die impak van Ramaforie werklik?

Die verandering van ‘n skandalige Zuma-regime na ‘n Ramaphosa-administrasie wat hard werk om ‘n beter beeld vir die ANC-regering te skep is ook belangrik om van kennis te neem. Die uiteinde daarvan is waarskynlik dat, indien Ramaphosa in sy projek slaag, diegene wat nie saamstem met ANC se ekonomiese en ander beleide nie, meer gesofistikeerd sal moet wees in hul kritiek. Meer hieroor in Deel II van dié artikel.

2018 – op die keper beskou

Op die keper beskou kan 2018 gesien word as ‘n stryd is tussen die harde werklikhede van skadelike beleidsvoorstelle en oorregulering – soos voorgestel en voortgesit – wat nou behoorlik wortel skiet teenoor die Ramaphosa-administrasie se veldtog om die Staat in die ANC se beeld te herstel en uit te bou.

In dié opsig was daar waarskynlik niemand beter as Ramaphosa om die projek te dryf nie. Hoewel baie dinge natuurlik ‘n rol speel by wisselkoersbewegings, het die rand op sigself het goed in aanloop tot Zuma se bedanking en Ramaphosa se aanstelling gereageer.

Die volgende grafiek illustreer die hupstoot wat die rand laat in 2017 tot vroeg 2018 gekry het. Ná die staatsrede het dinge natuurlik minder rand-rooskleurig geraak.

Verbruikersvertroue skiet die hoogtes in

Buiten die by rand, word Ramaforie waarskynlik die heel beste in die eerste kwartaal se syfers oor verbruikersvertroue gesien. Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se indeks hieronder wys duidelik hoe verbruikersvertroue in die eerste kwartaal van 2018 die hoogte in geskiet het – selfs hoër as die vorige post-1994 hoogtepunt in 2007 voor die groot finansiële krisis!

Sedertdien het die vlak van verbruikersvertroue weer teruggesak, maar bly steeds in die indeks se positiewe terrein. Ramaphosa het duidelik aan die begin van sy termyn  groot vertroue ingeboesem.

… en handelstoestande

Verbruikersvertroue is ongelukkig nooit die volledige prentjie nie. Ander maatstawwe, soos byvoorbeeld ETM Macro Advisors se indeks van handelstoestande, wat breër as verbruikersvertroue peil, dui daarop dat die Ramaforie-oplewing oor 2018 nie sterk genoeg volhou is ten opsigte van sakevertroue en indekse oor aankopebestuurders (PMIs)  nie.

Ten spyte van Ramaforie, volgens ETM se indeks hieronder, is SA nog nie naastenby op koers vir soortgelyke sterk handelstoestande van voor 2008 nie – trouens, die verbeterende toestande vroeg in 2018 is nie volhou nie.

Hierdie toedrag van sake is miskien ‘n goeie prentjie van die breër tendens in 2018, waar toestande effe beter voorkom as vantevore, maar nog geensins genoeg versterk om die huidige ekonomiese krisis om te keer nie. Om dit dit doen, moet sulke indekse eintlik deur die neutraal breek (5 in die grafiek hieronder) en daarna aanhou versterk vir ‘n hele aantal kwartale.

BBP

Die groei in bruto binnelandse produk was traag in K1 en K2 van 2018 waar ‘n  “tegniese resessie” waargeneem is. In K3 het die groeikoers versterk, maar, gemeet selfs aan die koerse van net voor 2015, is die groeikoers nog baie benard.

In die breë gesien, was die BBP-resessie van 2018 eintlik maar ‘n kleiner storie in die groter prentjie van die afgelope jare se ekonomiese agteruitgang, veral wanneer dinge soos BBP-groei per capita, werkloosheid en indiensnemings beskou word.

Baie meer moet op die BBP-front gebeur om die ekonomie by ‘n gesonde plek te bring.

Werkloosheid en indiensneming

Die data oor die arbeidsmark wat Sakeliga dophou dui daarop dat Ramaforie ook nog nie werklik vir werkers gebaat het nie.

Werkloosheidsyfers staan steeds hemelhoog, terwyl ETM Macro Advisors se omvattende saamgestelde arbeidsmarkindeks se laaste meting die swakste syfer sedert die finansiële krisis van 2007/08 aandui.

Hierdie toedrag van sake word ook deur die swak groei in indiensneming bevestig.

Ramaforie-boodskap, nog nie privaat vaste belegging bereik nie ..

Vaste investering in die privaat sektor, ‘n maatstaf wat Sakeliga as een van die beste maatstawwe vir die ekonomie se werklike gesondheid beskou, bly nog uiters traag. Privaat vaste belegging boer volgens die voorlopige BBP-syfers eintlik, ondanks Ramaforie, agteruit in K2 en K3 van 2018.

Deel 1 – Slotsom

Na Ramaphosa se aanstelling vroeg in 2018, het die publiek op beter gehoop. Dit is duidelik weerspieël in die rand se aanvanklike bewegings en die uitsonderlike versterking in verbruikersvertroue. Hierdie vertroue het nie sterk deurgevloei na verskeie “harder” ekonomiese metings nie.

Deur 2018 het die Ramaphosa-administrasie hard daaraan gewerk om die ANC-regering se geloofwaardigheid te poets, maar daarby is roekelose en ingrypende beleidsvoorstelle, veral oor onteiening sonder vergoeding, gemaak.

Die volgende gedeelte beskou Ramaphosa se 2018-herstelprogram in meer besonderhede.

DEEL 2: REGERINGSHERSTEL – DIE ANC SE GROTER 2018-PROJEK

Gedurende 2018 het die Ramaphosa-administrasie ‘n ooglopende poging aangewend om die staat se geloofwaardigheid te herstel. Byvoorbeeld is omvangryke kommissies van ondersoek van stapel gestuur, soos die ondersoek oor “staatskaping” en die ondersoek oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Verder is ‘n klompie ‘gerespekteerde’ aanstellings, so die van Tito Mboweni, as minister van finansies, en die onlangse aanstelling van die nuwe NVG-hoof gemaak.  Omstrede figure soos Tom Moyane, voormalige hoof van die SAID, is afgedank. Malusi Gigaba het ook bedank, waarskynlik onder druk van die Ramaphosa-kabinet ná die Fireblade-saga.

Selfs voordat Ramaphosa die leisels as president oorgeneem het, is Eskom se raad onder Ramaphosa se leiding verander. Vuyani Jarana, voorheen van Vodacom, is as uitvoerende hoof van die SAL aangestel. Verder was daar ook projekte, soos die Oktober-beraad om beleggings aan te moedig, wat ‘n goeie indruk geskep het.

Sulke besluite het goeie opslae in 2018 gemaak en dit was positief vir Ramaphosa se groter projek en die ANC-regering se beeld. In woord en (soms twyfelagtige) daad, blyk dit dat die Ramaphosa-administrasie duidelik poog om die chaos van die Zuma-era te beteuel.

Sou Ramaphosa inderdaad daarin slaag om die ANC-regering se beeld te poets, is ‘n  oplewing in sekere beleggings, BBP-groei, en ‘n buitelandse vertroue heel waarskynlik.

Hoe lank so ‘n oplewing te midde van die ANC se stewig gevestigde inmengingsbeleide en volharding in Radikale Ekonomiese Transformasie, hoewel a la die Ramaphosa-administrasie,  volhou kan word is ‘n oop vraag vir nou.

Die feit is dat die Ramaphosa-era in vorm met die Zuma-era kan verskil.

‘n Nuwe speelveld?

Prakties gesproke, lyk dit sover of die Ramaphosa-era op ‘n nuwe speelveld gaan afspeel as wat tydens die Zuma-era beleef is. Daar is makliker gronde van kritiek op die ANC-regering, soos onder meer korrupsie en growwe wanadministrasie van regeringsinstellings, wat moontlik nie meer so skrynend ná 2018/19 op die tafel sal wees nie. Dit maak dinge baie moeiliker vir daardie drukgroepe wat op hierdie ooglopende probleme gefokus het.

Ramaphosa hoop duidelik om die uitspattige gunsbejag soos die Gupta-staatplundering en  ongebreidelde korrupsie te beteuel.  Indien so ‘n herstel in vertroue en minder openlike regeringsgedrewe chaos realiseer, sal die ANC-regering tyd wen om hul groter projek weer op dreef te kry. Maar hoe lyk daardie projek? En wat is die denkbare uiteindelike nadraai daarvan?

Is ‘n drastiese trajekverandering deur die ANC-regering om beleide (soos BEE, inmenging, en uitermatige burokratiese bevel af te skaal) ‘n redelike verwagting?  Nie volgens die beskikbare gegewens nie.  Ook nie in Sakeliga se ervaring nie.

Die moontlike verskil is dat die Ramaphosa-administrasie, minstens vir die begin van sy termyn – anders as ten tye van die Zuma-jare – met ‘n baie beter politieke handelsmerk kan woeker.

Inmenging word voortgesit

Daar is baie aanduidings dat die ANC se geur van inmenging voortgesit sal word. Selfs tydens die hoogtepunte van “Ramaforie”  is daar talle wette en regulasies deur die regering se hande wat uiteindelik ekonomiese vooruitgang in die wiele sal ry. Trouens, met die aanpor van een van die bewysbare rampspoedigste regeringsbeleide – onteiening sonder vergoeding – het die Ramaphosa-administrasie verder as hul voorgangers gegaan.

Hoewel onteiening ‘n kerntema van 2018 was, is dit nie die enigste skadelike beleidsvoorstel wat in 2018 die lig gesien het nie. Die Nasionale Minimumloonwet is een voorbeeld van ‘n beleid wat sterk deur Ramaphosa aangevoer is. Dit is ‘n beleid wat Sakeliga om verskeie redes nie as ekonomies bevorderlik beskou nie.

Verder beteken ingrypende voorgestelde wysigings in 2018, onder meer op die Wet op Mededinging, die Wet op Gelyke Indiensneming en die Maatskappyewet, dat die ANC-regering blyk om ‘n nuwe fase van verskerpte ras-en-tel-beleid op die ekonomie af te dwing. Dit beteken, selfs op die mees optimistiese lees van die situasie, dat die ANC-regering nie van plan is  om weg te keer van skadelike sosialisties geïnspireerde inmenging by die ekonomie nie.

Hiermee saam moet ons ook die BTW-verhoging in April, die eerste sedert 1993, tesame met die nuwe belasting op suikerverbruiker in ag neem. Die BTW-koersverhoging raak natuurlik meeste verbruikers se sakke, maar ook besighede wat nie dié belasting op verbruikers kan afwentel nie. Op sy beurt het die suikerbelasting ‘n hele bedryf volgens berigte onder reuse druk geplaas. Duidelik word belasting nie ligter nie.

Ramaphosa verander die regering se beeld maar nie ANC-beleid nie

Die ANC sien steeds die oplossing vir SA se probleme in ‘n (te) groot staat, (te) groot burokratiese bevel, en (te) groot regeringsbesteding. Hierdie druis in teen vrye ondernemerskap en die werking van markte. Daarom sal ANC-beleid sal aanhou om die ekonomie op ‘n groot skaal terug te hou – wat op sy beurt rykdom- en welvaartskepping sal skaad.

Ramaphosa se ANC is sover ten beste ‘n skynvriend van markvryheid – en beslis ‘n vyand van  standvastige privaat eiendomsreg, deregulering en privaat ondernemerskap. 2019 bied dus ‘n gevaarlike moontlikheid: ‘n ANC-regering met ‘n beter handelsmerk wat steeds in die breë volhard met selfs skadeliker beleid as vantevore.

Daar is ‘n kans dat indien sterker vertroue geskep word dit verbeteringe kan voortbring, maar tot watter mate? En hoe  sal dit presteer teenoor vergelykbare lande of streke, of selfs die regering se eie mikpunte (soos die 6% groeiteiken in die Nasionale Ontwikkelingsplan)?

‘n Wêreld waarin die ANC steeds sy breër beleid voortsit, maar met ‘n blinker gepoetste openbare beeld handel, verg ‘n ander benadering as die blote korrupsiebeswering tydens die Zuma-jare waarop baie burgerlike instellings hulself berus het.

Die uiteindelike vraag wat dinkskrums en ontleders nou moet oorweeg is of ‘n Suid-Afrika, geskoei deur ‘n oënskynlik beter bestuurde, minder korrupte ANC, maar wat steeds volgens sosialistiese ekonomiese en maatskaplike beleidsvoorstelle handel, sal kan werk.

Met dank aan Russell Lamberti van ETM Macro Advisors vir sy insette tot hierdie artikel.

 

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN