Sakeliga ondersteun Business for Ending Lockdown 

AfriSake_Mededingenswetsontwerp

Die sakegroep Sakeliga is trots om ‘n stigtersondertekenaar van die Business for Ending Lockdown-veldtog te wees. 

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die beëindiging van die grendelstaat is die enigste manier om te herstel van die ontvouende humanitêre ramp. “Eerstens, as besigheid wil ons nie ‘n verandering in vlakke, of meer kommissies, of meer uitsonderings hê nie. Ons wil ‘n volledige hervatting van ekonomiese aktiwiteit hê, met die vryheid om gesondheidsmaatreëls te tref op grond van ons eie oordeel en die eienskappe en vereistes van ons kliënte.” 

“Tweedens, selfs al staan ondernemings verenig oor die beëindiging van die grendelstaat, dring die boodskap nie na die regering toe deur via NEDLAC nie. Ons is nie tevrede met vandeesweek se reaksie deur die Presidensie en NEDLAC op die ontvouende ekonomiese krisis nie, naamlik om nog ‘n kommissie in te stel in plaas van om die grendelstaat op te hef. 

“Derdens dien die veldtog om ondernemings, besighede en individuele sakelui, wat bereid is om standpunt in te neem, te verbind en te koördineer. Dit gee besighede en die publiek die selfvertroue van gesamentlike optrede en versterk die spontane verwerping van die grendelstaat – en sy irrasionele en skadelike regulasies – wat reeds landswyd toeneem. 

Sakeliga moedig alle sake-organisasies aan om hul stem by die veldtog te voeg en sal sy lede ook vra om hul individuele ondersteuning te gee. Sakeliga verteenwoordig meer as 20 000 besighede en sakelui en verskeie sakekamers. 

Archives