Sakeliga opponeer EFF in Grondwethof

Die sakeorganisasie, Sakeliga sal môre in die Grondwethof die regsraamwerk teen grondbesettings verdedig teen ‘n aansoek deur die EFF en mnr Julius Malema. Sakeliga sal argumenteer teen die applikante se poging om belangrike dele van die Wet op Oproerige Byeenkomste en die Wet op Betreding ongeldig te laat verklaar, wat hulle vrypas sal gee om hul volgelinge tot onwettige grondbesettings aan te hits.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê: “As amicus curiae sal Sakeliga die hof bystaan om die regsraamwerk in stand te hou wat mnr Malema verbied om sy volgelinge tot die misdaad van betreding en onwettige grondbesettings aan te hits. Ons beskou hierdie saak as van uiterste belang om eiendomsreg en openbare orde te handhaaf. Aanhitsing tot misdaad is nie, soos mnr Malema skynbaar glo, iets wat as vryheid van spraak beskerm kan word nie.”

Die saak spruit uit die applikante se pogings deur die loop van verskeie jare om vervolging vir die misdaad van aanhitsing te ontsnap. Soos aangedui in hofstukke is daar verskeie soortgelyke klagtes teen mnr Malema hangend, naamlik dat hy “onregmatig en doelbewus sy Ekonomiese Vryheidsvegter-volgelinge en/of ander aangehits, opgesteek, beveel, of ingespan het om ‘n misdaad te pleeg, in besonder: betreding … deur onwettig enige oop grond te beset …”.

Mettertyd het die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) besluit om mnr Malema te vervolg. Nadat hy van die vervolging in kennis gestel is het mnr Malema en die EFF probeer om skuldigbevinding vry te spring deur die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste en die Wet op Betreding te bevraagteken.

Mnr Malema en die EFF het beperkte sukses in die Hoë Hof in Gauteng gehad. Beperk soos dit was, moes hulle nietemin die Grondwethof vir ‘n bevestigende bevel nader.

Le Roux vervolg: “In môre se verrigting sal Sakeliga die Grondwethof probeer bystaan om die aansoek deur mnr Malema en die EFF te verwerp, op sowel prosedurele as inhoudelike gronde. Dit is ondenkbaar dat mnr Malema en sy party daarin sou moes slaag om die misdaad van aanhitsing as vryheid van spraak beskerm te kry, en dat hulle vry sou moes wees om hul volgelinge te beveel om op andere se grond te betree.”

Sakeliga ondersteun die NDOV se besluit om mnr Malema te vervolg en is bly om, deur ons optrede in die Grondwethof, by te dra tot wat ons verwag sy uiteindelike skuldigbevinding sal wees.

Archives