Sakeliga sal nie rassisme teen KMMO’s duld nie 

art-chess-color-209651

Die sakeorganisasie Sakeliga het vandag rasbaseerde kriteria vir Covid-19 finansiële bystand aan klein besighede verwerp.

“Ons merk met kommer dat die nuut-gestigte hulpfonds vir klein en medium sakeondernemings van aansoekers vereis om die ras van aandeelhouers en werknemers aan te dui. Die Covid-19 krisis is allesbehalwe die tyd vir die regering om BEE-kriteria toe pas. Dit is tyd vir ‘n buitengewone ophef van oorbodige ideologiese ingrepe sodat die klein- en medium-grootte besighede van hierdie land ons kan ophef uit die ekonomiese put wat ons nou gaan binnegaan,” se Piet le Roux, Sakeliga HUB.

Sakeliga nader tans die Departement van Kleinsake-ontwikkeling vir duidelikheid oor hierdie aangeleentheid en is van plan om enige en alle nodige maatreëls te tref om te verseker dat bystand aan KMMO’s beskikbaar is ongeag ras.

“Ons verwelkom die merkwaardige bystand deur die Oppenheimer- en Rupert-families, wat sowat R1 miljard elk beloop – veral aangesien daardie bystand BEE-vry en beskikbaar aan almal is,” sê Le Roux. ‘n Twiet op die twitter-rekening wat aan Mnr Johann Rupert verbind is (@cutmaker) het dit duidelik gemaak dat “[sy] bystand beskikbaar sal wees vir ALLE Suid-Afrikaanse besighede”.

Le Roux vervolg: “Om BEE ten tyde van ‘n pandemie toe te pas is onaanvaarbaar – veral in lig van die feit dat dit in die eerste plek die regering se besluit was om die inperkings toe te pas. Alle besighede dra by tot die ekonomie – en ‘n sterk privaatsektor is onontbeerlik as ons enige ekonomiese herstel wil sien nadat die pandemie verby is. Dit is noodsaaklik dat die Regering dieselfde bystand aan alle besighede bied – en nie die krisis misbruik om sy ideologiese doelstellings te behaal nie.”

“Hierdie hulppakette se oogmerk is om KMMO’s te vergoed vir finansiële skade wat gely is deur die loop van die Covid-19 pandemie en die daaropvolgende inperking van beweging – skade wat gely sal word ongeag die ras van die eienaar. Hierdie skade sal weer, op sy beurt, gely word deur daardie KMMO se werknemers, kliënte en klante – ook ongeag ras,” sê Le Roux.

Sakeliga doen ‘n beroep op alle dele van die samelewing om hierdie beleide met die nodige vasberadenheid te verwerp.

Sakeliga en sy regspan nader tans die tersaaklike regeringsdepartemente vir duidelikheid en bevestiging. “Ons sal ook die howe nader, indien nodig – en so ook op ‘n internasionale vlak, aangesien die regering in stryd sou optree met, onder andere, die bepalings van die Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorms van Rassisme.”

Archives