Sakeliga skryf aan President oor KMMO voorsiening van noodsaaklike goedere en dienste 

custom_resized_f7462fea-3265-4f3d-8229-fbe669a26500

Die sakeorganisasie Sakeliga het president Cyril Ramaphosa se dringende bystand met die verlening van noodsaaklike goedere en dienste deur klein, mikro en mediumgrootte ondernemings (KMMO’s) versoek.

Sakeliga se brief aan die president volg op onbeantwoorde dringende skrywes aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DTIC). In briewe aan die DTIC het Sakeliga die dringende herroeping van die DTIC se onwettige en onmoontlike instruksie versoek, wat van alle ondernemings wat noodsaaklike goedere en dienste wil voorsien vereis om ‘n sertifikaat by die CIPC te bekom.

“’n Belemmerende, onnodige en ultra vires-instruksie deur die DTIC verhoed tans duisende mikro, klein en medium-grootte ondernemings om noodsaaklike goedere en dienste aan die publiek te lewer. Dwarsoor die land is wetstoepassers besig om ondernemings wat noodsaaklike werk verrig toe te maak en om hul eienaars en werknemers te dreig. Dit gebeur omdat die wetstoepassers onder die wanindruk verkeer dat ondernemings sertifisering by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) vereis alvorens hulle met noodsaaklike werk mag voortgaan,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Welwillendheid en wydverspreide impak 

Meeste ondernemings in Suid-Afrika bedryf hul ondernemings as eenmansake, familie-ondernemings, vennootskappe en selfs trusts en beskik daarom nie oor ‘n CIPC-registrasienommer nie. Die CIPC-stelsel erken slegs entiteite wat ingevolge die Wet op Maatskappye of die Wet op Beslote Korporasies geregistreer is. Sonder ’n CIPC-registrasienommer is dit onmoontlik om aansoek te doen vir die DTIC se vereiste CIPC-sertifikaat vir noodsaaklike produkte en dienste.

“Die CIPC-vereiste bedreig die vermoë van SMMEs om hul deel te doen in die voorsiening van noodsaaklike goedere en dienste. En dit ondermyn die welwillendheid wat daar onder sakelui en die publiek teenoor die president se maatreëls bestaan,” sê Le Roux.

“Sowel formele as informele ondernemings en al hul klante en kliënte word geraak. Hulle is versprei oor townships, voorstede, landelike gebiede en stadskerne. Hulle geledere word opgemaak uit alle rasgroepe en uit alle gemeenskappe in Suid-Afrika. Die kwessie is kritiek omdat die belemmering van die voorsiening van noodsaaklike goedere en dienste besig is om groeiende skade aan openbare gesondheid, maatskaplike stabiliteit en selfs die vooruitsig van uiteindelike ekonomiese herstel aan te rig,” sê Le Roux.

Ooglopende gesondheidsrisiko’s 

“Om KMMOs toe te maak gaan met ooglopende gesondheidsrisiko’s gepaard. Dit dwing jonk en oud, gesond en siek, om die risiko van besmetting te loop wanneer hulle toustaan en in groot getalle saamtrek by ‘n betreklik klein aantal winkels wat aan groot kleinhandelgroepe gekoppel is,” wys Le Roux uit.

Advies by senior advokate 

Senior advokate het Sakeliga geadviseer dat die DTIC se vereiste van CIPC-sertifisering ultra vires en in konflik is met die regulasies soos gepromulgeer deur die minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake. Senior advokate het verder geadviseer dat die DTIC se instruksies vatbaar vir dringende hersiening in ‘n hof is. Sakeliga se brief aan die president, sowel as die skrywes aan die betrokke ministers (sien skakels aan einde van verklaring) belig die probleme met die regulasies in besonderhede.

’n Gees van samewerking 

“Sakeliga se brief aan die president is in ‘n gees van samewerking geskryf, om ‘n akute en eskalerende probleem, wat die voorsiening van noodsaaklike goedere en dienste in Suid-Afrika bedreig, op te los. Dit is ‘n aangeleentheid wat vinnig reggestel kan word, waarmee die risiko van dringende regsaksie en/of skadevergoedingseise teen die staat deur KMMO’s nadat die ramptoestand opgehef word ook voorkom kan word,” sê Le Roux.

Klik hier vir Sakeliga se brief aan die president

Klik hier vir Sakeliga se brief aan minister Ebrahim Patel, gedateer 31 Maart 2020

Klik hier vir Sakeliga se brief aan dr Nkosazana Dlamini-Zuma, gedateer 31 Maart 2020

Archives