Inisiatiewe > Funksies > Sakeliga stel sakekamerplan bekend, pak krisis in plaaslike ekonomieë

Te midde van talle krisisse in plaaslike ekonomieë landswyd stel die sakeorganisasie Sakeliga op 11 November ‘n strategie vir die herlewing van sakekamers bekend.

“Sterk sakekamers staan tussen die sukses of mislukking van ‘n dorp of stad. Ons nuwe affiliasieprogram help sakekamers om hul plaaslike ekonomieë weer sterk te maak, as deel van die grootste netwerk van sakekamers wat die land nog gesien het. Minder politiek, meer besigheid is wat ons nodig het,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Plaaslike ekonomieë in Suid-Afrika is in krisis,” sê Le Roux. “Verlede jaar het slegs 19% van munisipaliteite skoon oudits ontvang, tekenend van korrupsie, onvermoë en algemene staatsverval. Om die krisis op plaaslike munisipale vlak op te los sal selfstandige sakegemeenskappe nodig wees, wat vir hulself en alle gemeenskappe waar hulle sake doen waarde skep en wins maak.”

Sakeliga se affiliasieprogram vir sakekamers bied nie net ‘n nuwe sakekamerbestuurstelsel nie, maar bring kostes af, verhoog inkomste, skep sterker netwerke, vermeerder lede, vergemaklik kommunikasie, bied regshulp, en baie meer.

Die affiliasieprogram vir sakekamers is die jongste in ‘n reeks uitbreidings by Sakeliga. Dit volg onder meer op die bekendstelling in Oktober van Sakeliga se nuwe digitale sakeplatform, Sakeplein, waar lede met mekaar besigheid kan doen. Met reeds meer as 12 000 lede plaas die jongste uitbreiding Sakeliga en sy affiliate op koers om die grootste sakeorganisasie in Suid-Afrika te word.

Strategie van aanvulling
Sakeliga se affiliasieprogram is gegrond op ‘n gedeelde waarderaamwerk en ontwerp om aanvullend te wees tot enige ander sakekamer-affiliasieprogram. Dit stel geen vereistes van eksklusiewe affiliasie nie. Le Roux vervolg: “Ons affiliasieprogram respekteer die onafhanklikheid en selfstandigheid van plaaslike sakekamers. Ons doel is om ‘n sterk netwerk te bou, ondersteuning te bied, en sinergie te vind, nie om op plaaslike vlak by sakekamerbestuur betrokke te raak nie. Ons fokus is sistemies, nasionaal en internasionaal.”

Internasionale netwerk
“Ons affiliasieprogram begin in Suid-Afrika, maar eindig nie hier nie. Daar is vandag derduisende Afrikaanse en Suid-Afrikaanse sakelui met ‘n gedeelde waarderaamwerk versprei oor die wêreld. Die affiliasieprogram behels dus ook om sakekamers in ‘n nasionale en internasionale netwerk in te skakel, sodat hul welvaartskepping, toegang tot markte en kapitaal, en bedingingskrag vermenigvuldig,” sê Le Roux.

Internasionale handelseminaar
In samewerking met die Vlaamse agentskap vir internasionale handel, Flanders International Trade, bied Sakeliga na afloop van die sakekamerprogram se bekendstelling ‘n internasionale handelseminaar aan. Tydens die seminaar kan sakelui meer te wete kom van sakenetwerke in Vlaandere en België, asook kwessies soos aansporings, belastingtoegewings en visumopsies vir sakelui. Die seminaar volg op Sakeliga se eerste internasionale skakeltoer, in September 2019.

Die gebeure kan Maandag vanaf 09:30 regstreeks op Sakeliga se Facebook-blad gevolg word.

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF