Nuus > In die media > Sakeliga versoek opskorting van ras-voorvereistes by Eskom hangende hofuitspraak

Die sakeorganisasie, Sakeliga kondig vandag regsaksie aan om ras-voorvereistes vir kontrakteurs by staatsondernemings uit te daag. Die organisasie sal ook Eskom, die Minister van Finansies en die Minister van Openbare Ondernemings versoek om rasgebaseerde voorvereistes by Eskom op te skort hangende die uitkoms van Sakeliga se regsaksie.

Sakeliga se besluit om die saak in die hof voort te sit – en die wettigheid van staatsondernemings se vooraf-diskwalifisering van kontrakteurs op grond van ras uit te daag – kom veral in die lig van die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika. Sakeliga doen ‘n beroep op gemeenskappe in die algemeen, maar sakelui in die besonder, om ‘n memorandum hieroor te onderteken by www.kiesmykrag.co.za.

Die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux, sê Eskom se rasgebaseerde uitskakeling van kontrakteurs beperk op ‘n onredelike wyse die poel waaruit dit veronderstel is om kundigheid te moes lok: “Dit het onder ons aandag gekom dat Eskom toenemend rasgebaseerde voorvereistes in sy tenderdokumente stel. Vandag word ondernemings wat nie ten misnte 51% in swart besit is nie gereeld by voorbaat gediskwalifiseer om vir ‘n tender in aanmerking te kom. Deur kontrakteurs op grond van ras te diskwalifiseer ontneem Eskom nou – op ‘n kritieke tydstip vir die ekonomie en samelewing – elektrisiteitsverbruikers in Suid-Afrika van die volle omvang van koste-effektiewe kundigheid beskikbaar op die mark. Ek sal daarom aan Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, Tito Mboweni, minister van finansies en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings skryf en hulle versoek om rasgebaseerde voorvereistes by Eskom op te skort hangende die uitkoms van Sakeliga se hofsaak.”

Le Roux brei uit oor Sakeliga se regsaksie: “Staatsondernemings stel hierdie voorvereistes vir kontrakteurs met verwysing na regulasies uitgevaardig ingevolge die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkryging (Preferential Procurement Policy Framework Act, oftewel PPPFA, Wet 5 van 2000). Die regulasies is in 2017 uitgevaardig onder Pravin Gordhan, die toenmalige minister van finansies. Sakeliga het destyds teen die regulasies beswaar gemaak en dit uiteindelik na promulgasie in die hof uitgedaag. Alhoewel die Gautengse Hoë Hof die saak aanvanklik in November 2018 verwerp het, het Sakeliga, op advies van verskeie regslui insluitende twee senior advokate, besluit om te appelleer.”

Sakeliga voer onder andere aan dat die PPPFA-regulasies van 2017 ultra vires en ongrondwetlik is, omdat dit staatsondernemings toelaat om tender-voorvereistes te stel buiten waarvoor die PPPFA voorsiening maak. Die PPPFA in artikel 2(1)(d) saamgelees met artikel 2(1)(b) laat nie toe dat die BBBEE-status van ‘n tender ‘n voorvereiste mag word sodanig dat ‘n kontrakteur of subkontrakteur 51% in swart besit moet wees nie. In sy promulgasie van die regulasies het Pravin Gordhan as die toenmalige minister van finansies opgetree buite die raamwerk wat die PPPFA vir hom daargestel het, en sodoende wetmaking gepleeg in stryd met die Grondwet se voorskrifte vir die skeiding van magte.

Le Roux sê Sakeliga se hofsaak het implikasies vir alle staatsondernemings en hul kontrakteurs: “
Eskom is nie die enigste staatsonderneming in krisis nie. Elektrisiteitsvoorsiening is nie die enigste diens waartoe die publiek nie koste-effektiewe toegang het nie omdat sommige rasgroepe by voorbaat daarvan gediskwalifiseer word om ‘n bydrae te lewer nie. Ons hofsaak is ‘n poging om alle spelers by die tafel toe te laat, in stede daarvan om sommige vanuit die staanspoor op grond van hul ras uit te sluit.

Geskiedenis van die saak

  • 2016: Sakeliga lewer kommentaar op die voorgestelde PPPFA-regulasies.
  • Mei 2017: Sakeliga stel regsaksies teen die minister van finansies in, met die versoek dat die regulasies ultra vires verklaar word.
  • Junie 2018: Saak word aangehoor in die Gautengse Hoë Hof.
  • 28 November 2018: Uitspraak gelewer; Sakeliga se versoek word verwerp.
  • Desember 2018: Sakeliga gee kennis van aansoek om verlof tot appèl.
  • Desember tot Maart 2019: Sakeliga bekom verdere regsadvies; ontvang klagtes deur verskeie lede dat hulle op grond van hul ras by voorbaat van tenders by Eskom uitgesluit word.
  • April 2019: Sakeliga sal Eskom versoek om rasgebaseerde voorvereistes vir kontrakteurs wat aan Eskom wil tender op te skort hangende die uitkoms van Sakeliga se regsaksie. Publieke deelname word aangemoedig by www.kiesmykrag.co.za.
  • Mei – Junie 2019 (verwagting): Sakeliga se aansoek om verlof tot appèl word aangehoor.

 

Sluit vandag aan by Sakeliga. Maak hofsake soos hierdie moontlik.

 

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN