Sakeliga verwelkom gedeeltelike afwysing van BEE-regulasies 

pppfa-regulations-afribusiness-launches-application-for-review

Die sakeorganisasie Sakeliga verwelkom die gedeeltelike afwysing in sommige regeringskringe van BEE-vereistes voordat hulp aan klein en middelslag ondernemings (KMMO) toegestaan word. Die organisasie bly egter besorg dat nie alle staatsdepartemente aan boord is nie.

Sakeliga maak daarom vanaand op www.sakeliga.co.za ‘n platform vir sakelui beskikbaar, waar hulle Sakeliga op hoogte kan hou van hul hulpaansoeke en uitkomste.

“Ons verwelkom die departement van kleinsakeontwikkeling se openbare afwysing van die gelekte konsep BEE-kriteria vir KMMO-verligting. Die Covid-19-krisis is nie die tyd vir BEE nie. Ons wag die finale kriteria af, wat ons aandring BEE-vry moet wees,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Gelukkig beteken die openbare verontwaardiging en reaksie deur sakeleiers dat die aanvanklike KMMO-verligtingsfondsregulasies nou waarskynlik teruggehou en aangepas sal word. Nietemin, ons sal wakende oog hou oor die departement se aktiwiteite en seker maak BEE glip nie in by ‘n agterdeur nie. Dit is teleurstellend dat ‘n amptenaar dit as gepas beskou het om in hierdie moeilike tyd slegte ideologiese gewoontes voort te sit, konsep of te nie,” vervolg Le Roux.

Sakeliga wag intussen skriftelike bevestiging deur die departement af. In ‘n skrywe vanoggend aan die departement versoek Sakeliga die plegtige onderneming deur die departement dat BEE nie ‘n rol sal speel by KMMO-verligting nie.

“Terselfdertyd neem ons met kommer kennis van uitsprake vandag deur die minister van toerisme dat BEE wél toegepas sal word by die kleiner verligtingsfonds in daardie departement. Ons skryf ook aan haar met dieselfde aanmanings,” sê Le Roux.

Gedurende ‘n mediakonferensie vanoggend het die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane gesê dat hulle “rassekategorieë gaan insluit” in die bepaling van voordele en dat dit “baseer sal wees op BEE-kriteria, soos per die gewysigde kodes wat die sektor aanvaar het.”

“Sou ons vind dat BEE ‘n rol speel in die toekenning van verligting aan KMMO’s sal ons sterk stappe neem, insluitende regsaksie. Enige sakeonderneming wat voel dat dit oor die hoof gesien is met verligting vanweë sy BEE-status word genooi om ons te kontak,” sluit Le Roux af.

Video’s oor Covid-19-BEE
Minister van Toerisme
Minister van Kleinsake

Oor Sakeliga  

Met meer as 15 000 lede, ondersteuners en geaffilieerde kamers is Sakeliga een van die grootste sakeorganisasies in Suid-Afrika.

Archives