Sakeliga wens Solidariteit alles van die beste toe met staking

Die sakebelange-organisasie Sakeliga wens hiermee die vakbond Solidariteit alles van die beste toe met die staking teen die personeelaandeleskema van Sasol wat op ras gebaseer is. Sakeliga het ook sy afkeur van en kommer oor rasgebaseerde regeringsbeleide uitgespreek wat in die eerste plek tot hierdie situasie aanleiding gegee het.

 

Piet le Roux, hoof- uitvoerende hoof van Sakeliga, sê: “Hierdie staking is nie die eerste een teen rassediskriminasie in Suid-Afrika nie. Dit is bloot die eerste staking waar die werknemers waarteen gediskrimineer word, almal wit is. Werkers in Suid-Afrika neem weereens standpunt in teen verdeling deur ʼn regering op grond van hul ras. Die werklikheid is dat die Suid-Afrikaanse regering voortgaan om wetgewing aan te moedig wat van ondernemings vereis om teen hul eie werknemers te diskrimineer op grond van ras. Sulke beleide dryf ʼn wig in tussen die werknemers van die verskillende groepe, en ook tussen die werknemers en korporatiewe bestuur. Dit is teenproduktief en ondermyn in werklikheid die morele weefsel van die land as ʼn nierassige konstitusionele demokrasie.”

ʼn Staking as meganisme om iets te bereik, moet altyd as die laaste uitweg beskou word, sê Le Roux. “Ons in Suid-Afrika het al gewoond geraak aan stakings van die ergste soort, waar die enigste doel is om te probeer om vir hoër lone te beding. Hoewel daar geen fout te vind is daarmee om hoër lone te vra nie, is stakings ʼn besonder swak meganisme om dit te bereik. Werknemers verloor uiteindelik bykans altyd meer deur die staking as wat hulle uiteindelik daardeur wen. In die proses ly die hele ekonomie skade.”

Sakeliga staan egter simpatiek teenoor Solidariteit se staking aangesien dit op ʼn beginselsaak van toepassing is, sê Le Roux. “ʼn Staking is net ʼn redelike opsie indien belangrike morele beginsels op die spel is; andersins is ʼn staking teenproduktief. Wanneer alle ander opsies egter misluk het en ʼn maatskappy volhard met ʼn moreel onverdedigbare plan van aksie, soos Sasol in hierdie geval doen, is dit begryplik dat werkers die opsie om te staak sal uitoefen. Soos altyd met ʼn staking die geval is, gaan die werknemers wat staak waarskynlik inkomste verloor, wat hul optrede des te meer prysenswaardig maak. Die regering se toenemend rasgebaseerde beleidsrigtings wat voor die voet in talle maatskappye in Suid-Afrika toegepas word, moet teengewerk word. Sodanige teenkantig is van wesenlike belang vir almal in die land.”

Archives