Sakelui moet individuele regsadvies bekom alvorens hulle regulasies konfronteer 

custom_resized_f7462fea-3265-4f3d-8229-fbe669a26500

Sakeliga beveel sterk aan dat sakelui en ander lede van die publiek behoorlike regsadvies vir hul unieke situasies bekom alvorens hulle gapings of onwettighede in die grendelstaatregulasies probeer konfronteer. 

“Niemand behoort ‘n regmatige regulasie te verbreek nie. Die realiteit is dat die onduidelikhede in die regulasies, hofuitsprake, teenstrydige ministeriële uitsprake en ekonomiese nood mense dwing tot optrede waarin hul regsposisie onduidelik is, of waarmee hulle selfs probeer om die regulasies direk te konfronteer. Sakeliga beklemtoon egter: kry behoorlike regsadvies alvorens jy die grendelstaatregulasies probeer uitdaag of voordelig interpreteer, sodat jy die risiko’s van jou optrede vir jou persoon, personeel en klante en kliënte begryp.”  

So sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, in die lig van ekonomiese nood en die geloofwaardigheidskrisis van die regulasies, die gebrekkige kommunikasie vanaf die regering, en die voortslepende regsonduidelikhede daaroor. 

“’n Voorbeeld van regulatoriese verwarring is byvoorbeeld die implikasies van die Liberty Fighters Network-saak (LFN-saak). Dit is korrek dat die hofuitsprake hieroor beteken dat die regering slegs tot 14 Julie 2020 het om sekere regulasies reg te stel, insluitende onregmatige kriminaliseringsklousules. Een interpretasie van die uitspraak – waarvan ons regsadvies lui dat dit nie korrek is nie – sou wees dat die kriminalisering van sekere alkohol- en sigaretverkope nou nie tot vervolging kan lei nie. Sakeliga waarsku teen hierdie interpretasie. Ons is van regsadvies voorsien dat enige optrede in stryd met die regulasies – of dit krimineel is of nie – wel regsgevolge kan hê, insluitende arrestasie indien iemand sou weier om instruksies van die polisie daaroor uit te voer.” 

Sakeliga het op 7 Julie 2020 aan Minister Nkosazana Dlamini-Zuma en Minister Bheki Cele geskryf en hulle versoek om die onduidelikheid in die lig van die LFN-saak reg te stel. Sakeliga het versoek dat hulle 1) aan die SAPS instruksie gee dat geen arrestasies vir oortredings van bepaalde grendelstaatregulasies relevant tot die LFN-saak mag plaasvind nie, en 2) daardie nuwe staande instruksies openbaar maak, sodat daar vir publieke duidelikheid daaroor kan wees. 

“Ons beklemtoon: baie van die grendelstaatregulasies is onkonstitusioneel en onredelik. Die optrede van sommige ministers in hierdie Covid-19-tydperk was selfs skadelik, skandelik en kleinlik, nieteenstaande sommige pogings om in goeie trou openbare gesondheid te beskerm. Die onnodige ekonomiese skade van die grendelstaat, wat baie anders aangepak kon gewees het, skep akute nood vir mense om kos op die tafel te sit. Dit is alles faktore wat dit verstaanbaar maak dat mense die regulasies sou wou uitdaag, maar dit behoort nie sonder deeglike oorweging van persoonlike regsposisies en met persoonlike regsadvies te geskied nie.” 

Sakeliga doen nogmaals ‘n beroep op Ministers Dlamini-Zuma en Cele om duidelikheid te gee oor hul staande instruksies aan die SAPS, sowel as op die regstel van die verskeie grendelstaatregulasies wat ongrondwetlik bevind is. 

Archives