Sleutel is balans tussen bekamping van virus en beskerming van ekonomie

Suid-Afrikaners moet die Corona-virus baie ernstig opneem, maar terselfdertyd kreatief wees, gesond te werk gaan, en bestaande tegnologieë gebruik om die ekonomie te ondersteun, meen Flip Buys – uitvoerende hoof van die Solidariteit-beweging.

 ‘n Paar uur voordat President Cyril Ramaphosa gister ernstige maatreëls ter bekamping van die Corona-virus aangekondig het – onder andere dat Suid-Afrikaners vir 21 dae moet tuisbly – het Piet le Roux, hoof-uitvoerende beampte van Sakeliga, met Flip Buys gesels oor Solidariteit se self-doen planne. Hierdie gesprek kom as deel van Sakeliga se inisiatief om op elke weeksdag om 13:00 op Sakeliga se Facebook-blad wenke vir ondernemings te deel om hulself teen die impak van die Corona-virus te buffer.

Buys – merkbaar optimisties oor die potensiaal van tegnologie om produktiwiteit te onderhou in tye van krisis – is van mening dat die krisis rondom die verspreiding van die Corona-virus in die wêreld lei tot die versnelling van gebeurtenisse wat in normale omstandighede stadiger plaasvind. Die krisis help ons oor die bultjie om die tegnologieë waarvan ons van bewus is, maar nie benut nie, te benut ten einde produktiwiteit te red. Trouens, meen Buys, is tegnologie verantwoordelik vir 70-80% van produktiwiteitverbetering. Solidariteit se huidige werksaamhede is geen uitsondering op daardie verskynsel nie: ongeveer 1000 Solidariteit-werkers gebruik tans moderne tegnologieë om klokslag te werk om die polisie, skole, kleuterskole, en ander te help om aan die gang te bly te midde van die grootste mediese krisis en waarskynlik die vooraand van die grootste ekonomiese krisis in Suid-Afrika se moderne geskiedenis. Solidariteit – ‘n vriend van Sakeliga – se primêre uitgangspunt is om sover as moontlik vennootskappe met almal te vestig, en voort te bou op bestaande vennootskappe ten einde die virus hok te slaan en terselfdertyd die ekonomie te ondersteun. Daarom werk AfriForum – deel van die Solidariteit Beweging – saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens om misdaad in gemeenskappe onder beheer te hou. Welwillende werkers van Solidariteit Helpende Hand lewer daagliks 8000-kospakkies vir kleuterskoolgaande kinders by die huis af, terwyl Solidariteit se aanlyn-skoleondersteuningsnetwerk, SOS, reeds ‘n geweldige klomp werkkaarte as deel van ‘n e-leerstelsel aanlyn beskikbaar gestel het. 12 000 leerders het landswyd reeds geregistreer op hierdie aanlyn e-leerstelsel wat tot einde Junie gratis vir skoolkinders beskikbaar gestel word. Buys moedig ouers aan om hul kinders by SOS te registreer sodat hulle by die huis kan aanhou leer. Solidariteit het selfs op hul leerplatform, S-leer, materiaal beskikbaar gestel om gebruikers te bemagtig met kennis oor die Covid-19-virus. Daarbenewens maak Buys ook melding van Solidariteit se nasionale krisiskomitee, asook hul webblad, www.corona.org.za, wat ten doel het om Suid-Afrikaners te bemagtig met betroubare kennis en wenke oor die virus.

Die reeks inisiatiewe wat Solidariteit in ‘n oënskynlik kort tydperk op die been gebring het om by te dra tot die bekamping van die virus en ondersteuning van die ekonomie, is egter die produk van dekades se werk en beplanning. Die ontplooiing van Solidariteit se inisiatiewe vind baat by die operasionalisering van moderne tegnologie in ‘n globaliserende wêreld waarin nuwe tegnologieë gebruik word om produktiwiteit regoor grense te verbeter. Almal by Solidariteit wat van die huis af kan werk, doen dit – te danke aan tegnologiese toepassings.

Buys prys die privaatsektor vir hul rol in die ondersteuning van die staat. “Geen staat kan alles op sy eie doen nie”, meen hy. Sy deernis lê veral by klein ondernemings, werkers en dokters en hy bewonder die voortsetting van produksie en logistieke reëlings. Ten opsigte van die staat se optrede en regulasies, soos dié op 15 Maart deur President Cyril Ramaphosa aangekondig, is Buys van mening dat dit natuurlik moontlik is dat die staat, selfs met goeie bedoelings, drakoniese maatreëls sal aankondig. Buys benadruk dat niemand nou kleinlike politieke punte moet aanteken nie. Maar tog is monitering van maatreëls belangrik. Op ‘n vraag van ene Dawie Roodt oor die moontlikheid dat die staat se maatreëls, wat vryhede inperk, permanent word noem Buys dat die uiteindelike afskaffing van inperkende maatreëls na afloop van die krisis fyn gemoniteer moet word.

Die breër neiging van ‘n stelselmatig verbrokkelde staatsbestuur gaan gepaard met die meer prominente rol van die privaatsektor, en terwyl die staat ‘n belangrike funksie vervul om te verseker dat staatswerkers hul werk doen, sal dit die privaatsektor wees wat die ekonomie red – en verstewig. Vanuit ‘n vakbond-perspektief sou dit “misdadig” wees as mense nou wou staak, meen Buys.

Met ‘n kalm en gerekende toon doen Buys aan die hand dat die groot kuns daarin lê om ‘n balans te handhaaf tussen enersyds aandag skenk aan die reeds verbrokkelende ekonomie, en andersyds die pandemie hok te slaan. Elke mens en maatskappy het ‘n besondere persoonlike verantwoordelikheid om gesondheid voorop te stel, maar ook tegnologie in te span om die ekonomie aan te hou ondersteun. Buys se grootste beroep op mense is om menslikheid te laat seëvier. “As jy jou volle inkomste ontvang, betaal jou huiswerker en tuinwerker. Daar gaan oral nood wees, so as jy in posisie is waar jy kan help, help”.

Die gesprek tussen Flip Buys en Piet le Roux kan hier gekyk word: https://bit.ly/2Jm6CpL

Sedert hierdie onderhoud het President Ramaphosa aangekondig dat Suid-Afrikaners vanaf middernag van Donderdag 26 Maart vir drie weke sal moet tuisbly, en dat alle produksie gestaak sal word met die uitsondering van die produksie van voedsel en ander noodsaaklike produkte.

Archives