Nuus > In die media > Só raak nuwe toerismewet AirBnB-, hotel- en toerismebedryf in SA

Sakeliga stel inligting- en kommentaarplatform vir akkommodasie-eienaars bekend

Die nuwe wysigingswetsontwerp op toerisme, die sogenaamde AirBnB-wet, lyk dalk op die oog af nie omvattend nie, maar het verreikende gevolge vir korttermynverhuur-entrepreneurs, het die sakeorganisasie Sakeliga vandag gesê. Die wetsontwerp gee die minister onder meer die mag om voor te skryf hoeveel gaste deur AirBnB-eienaars gehuisves mag word in ’n spesifieke area, hoeveel nagte gaste onthaal mag word en selfs watter tariewe gehef mag word.

Volgens Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, is dié organisasie op ekonomiese en regsgronde skepties oor die meriete van hierdie inmenging in die toerismebedryf. Dit is ook moontlik dat korttermynverhuur-entrepreneurs nie oor die nodige inligting of middelle beskik om aan die amptelike kommentaarproses op die wetsontwerp deel te neem nie. “Daarom hou Sakeliga op 16 en 23 Mei insetkonferensies in onderskeidelik Kaapstad en Pretoria om korttermynverhuurders toe te lig oor die inhoud en omvang van die wetsontwerp. Ons het ook ’n inligting- en kommentaarplatform bekendgestel waar rolspelers in die bedryf hul insette kan lewer. Uiteindelik sal Sakeliga namens korttermynverhuurd-entrepreneurs en ander rolspelers in die bedryf omvattende kommentaar op die wetsontwerp indien.” Kommentaar op die wetsontwerp moet voor 11 Junie 2019 by die toepaslike minister ingehandig word.

Van Onselen sê dat verdere toenames in die regering se reguleringvoldoeningslas in Suid-Afrika, insluitende op kleinsake-eienaars in die korttermyn-verblyfverhuringsmark, nie raadsaam is nie. “Suid-Afrika se ekonomie gaan reeds gebuk onder swaar en duur staatsinmenging in verskeie sektore. Duur en onnodige voldoeningslaste lei uiteindelik tot minder ekonomiese geleenthede vir almal.

Van Onselen is nie oortuig van die argument dat die Toerismewysigingswetsontwerp veronderstel is om die speelveld tussen bestaande en nuwe spelers in die gasvryheidsbedryf gelyk te maak nie: “Die staat behoort nie ‘n speelveld gelyk te maak deur dit vir almal ewe moeilik te maak nie, maar liewer ewe maklik. Om meer twyfelagtige regulasies en rompslomp te genereer is nie aangewese nie. Dit sou indruis teen die tipe deregulasie en markvrystelling wat dringend in hierdie land nodig is. Indien die regulatoriese las vir bestaande spelers ‘n probleem is, dan behoort ons dit te herbesoek en nie instinktief die las vir klein entrepreneurs wat hul boeke moet laat klop verhoog nie.

“Hierdie bepalings van die Toerismewysigingswetsontwerp is wydlopend en delegeer te veel arbitrêre reguleringsgesag aan die minister. Uit ‘n oppergesag-van-die-wetoogpunt ondermyn dit die legaliteitsbeginsel. Boonop plaas dit die regering op ‘n pad wat industrie knel juis wanneer daardie industrie besig is om groot spronge in tegnologiese innovasie te maak, soos die ontwikkeling van markbegronde, verbruikerskant-gehaltebeheer.”

Die regulasies wat uiteindelik uit die Wetsontwerp kan voortvloei sal die koste van AirBnb-tipe akkommodasie verhoog en dempend wees vir die inkomstepotensiaal van eiendomseienaars in die korttermynverhuringsbedryf. Hierdie eiendomseienaars is dikwels mense wat reeds juis sukkel om kop bo water te hou. Die regering behoort nie die behoeftes van een groep sake-eienaars bo dié van ander op hierdie wyse prioritiseer net omdat een groep reeds gevestig is nie.

Die wetsontwerp raak nie net korttermynverhuurders nie maar ook verbruikers
Oormatige regulering sal uiteindelik vir die verbruiker die meeste skade berokken. Tans bied korttermyn-huisverhuringsdienste ’n gerieflike en goedkoop moontlikheid vir diegene wat ’n behoefte aan akkommodasie het. “Selfs vir mense wat nié van hierdie tipe akkommodasie gebruik maak nie, is dit ook voordelig, omdat dit lei tot gesonde mededinging dwarsdeur die hele sektor wat prys en kliëntediens betref. Kortom – as hierdie wetswysiging aanvaar word, sal dit heel waarskynlik lei tot duurder en minder aangename akkommodasie,” sê Van Onselen.

Korttermynvoordele vir groter rolspelers is minder as die langtermynskade
Hoewel dit met die eerste oogopslag dalk kan voorkom asof hierdie wetswysiging groter besighede in die bedryf kan bevoordeel, is daar goeie rede om te glo dat dit, op den duur, tot almal se nadeel sal wees. “As korttermyn-verhuringsdienste die geleentheid gegun word om selfregulering toe te pas, sal dit ’n presedent skep wat uiteindelik ook gebruik kan word om ontoepaslike regulering van ander dele van die akkommodasiebedryf te hersien. Die teenkant is egter ook waar – indien hierdie ingrypende ministeriële inmenging in dié geval toegelaat word, sal dit die regering se hand versterk vir verdere inmenging in die bestaande gasvryheidsbedryf in ‘n tyd wanneer bestaande regulasie juis heroorweeg behoort te word,” sluit Van Onselen af.

Rolspelers in die toerismebedryf en die media word uitgenooi om die insetkonferensies by te woon.
Bevestig bywoning vir die konferensie in:
Kaapstad
Pretoria

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN
NUUSBRIEF