Inisiatiewe > Regsuksesse > STAATSREDE – Sakeliga se advies vir ’n snelle ekonomiese ommeswaai in 2019

President Cyril Ramaphosa lewer Donderdag sy tweede Staatsrede – in ’n beleidsklimaat wat nie net onseker is nie maar ook teenproduktief. Pres. Ramaphosa het die moeilike taak om nie net internasionale en plaaslike beleggers te paai en ernstige plaaslike ekonomiese uitdagings die hoof te bied nie, maar ook om die strydlustige invloede in sy eie party aan bande te lê.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het ’n ander tipe Staatsrede broodnodig, een wat ekonomiese vooruitsigte feitlik onmiddellik sal verbeter. So ’n Staatsrede sal beleidsaankondigings soos die volgende moet insluit:

1.       Die impak van BSEB moet bepaal en die beleid moet hersien word

Die ANC se tipe swart ekonomiese bemagtiging is teenproduktief en skadelik vir die ekonomie. Dit kom neer op die oordrag van eienaarskap ten koste van werknemers, entrepreneurs en verbruikers in alle sfere van die samelewing. Boonop is die beleid nog nooit aan ’n deeglike koste-voordeel-ontleding onderwerp om die uitwerking daarvan op produktiwiteit, investering, rompslomp en algemene nakomingskoste te evalueer nie.

Die huidige toepassing van die beleid gee ook nie gehoor aan die redelike aanbevelings in die Final Recommendations of the International Panel on Growth in 2008 nie, wat op versoek van die destydse president Thabo Mbeki aangestel is onder voorsitterskap van professor Ricardo Hausmann. Prof Hausmann pleeg tans met die tesourie oorleg oor ekonomiese beleid. Aanbeveling 20 van die 2008-verslag vra die uitskakeling van die ekwiteitdeelname wat vir nuwe ondernemings vereis word.

Sakeliga wil graag aanvanklike beslissende stappe sien om BSEB af te skaal, beginnende met terugwerkende vrystelling van BSEB-ekwiteitvereistes van bona fide nuwe ondernemings wat sedert 2008 gestig is.

2.       Die risiko’s wat staatsbeheerde ondernemings vir die ekonomie inhou, moet verminder word

Staatsbeheerde ondernemings hou tans ’n duidelike risiko vir die Suid-Afrikaanse fiskus in. Vorige Staatsredes het baie beloftes bevat om die bestuur van hierdie instellings reg te ruk, maar hierdie pogings het weinig opgelewer. Trouens, dit blyk dat die situasie steeds vererger – met selfs die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se portefeulje van R2 duisend miljard wat by bewerings van korrupsie betrek word.

Staatskaping en korrupsie is net simptome van ’n veel ernstiger onderliggende situasie – die kaping van privaatsektorhulpbronne en -aktiwiteite deur die staat. As Ramaphosa ernstig is om die ekonomie beter te laat werk, kan hy gerus ’n padkaart bied vir die afskaling en privatisering van riskante staatsbeheerde entiteite soos Eskom.

3.       Die onafhanklikheid van die Reserwebank moet bo alle twyfel wees

Ten spyte van Ramaphosa se gerusstellings in Davos vroeër vanjaar is die ANC, te oordeel na sy verkiesingsmanifes, vasbeslote om politieke inmenging in die werking van die Suid-Afrikaanse Reserwebank te verskerp. As Ramaphosa ernstig is om investering in die Suid-Afrikaanse ekonomie te lok, moet hy sterk versekerings gee dat die geldeenheid nie onder onbehoorlike politieke invloede sal wees nie.

4.       Afskaling van regering

Suid-Afrika se kabinet, bestaande uit 70 ministers en adjunkministers benewens die President self, is baie groter as soortgelyke liggame in ander jurisdiksies. Hierdie tendens strek tot heel onder – en Suid-Afrika se loonrekening is veels te hoog, proporsioneel tot die BBP, op ongeveer 11,7%.

Hierdie poste is natuurlik nie kosteloos nie, want dit word deur die regering geskep en in stand gehou ten koste van poste in die privaat sektor – poste wat deurlopend bedreig word deur die ekonomiese gevolge van die regering se rampspoedige beleide.

Die privaat sektor het baie meer ruimte nodig om te groei en werkverskaffing te verhoog – en afskaling van die regering se betaalstaat (saam met gepaardgaande belastings en regulering) sal die privaat sektor genoeg geleentheid bied om dit te doen.

5.       Beveiliging van privaat eiendomsregte

Die diskoers oor grondhervorming en onteiening sonder vergoeding berokken die Suid-Afrikaanse ekonomie ernstige skade – en dit sal waarskynlik so voortgaan as die openbare diskoers op dieselfde grondslag voortgaan. Dit is noodsaaklik dat die President hom ondubbelsinnig verbind tot die bewaring en beskerming van eiendomsregte.

6.       Korrupsie moet behoorlik bekamp word

Die Suid-Afrikaanse publiek het meer as net ’n eindelose stroom kommissies van ondersoek nodig om korrupsie effektief te bekamp. Selfsugtige burokratiese hekwagters vir die ekonomie rig veel groter skade aan as wat bloot in die geldwaarde van omkopery en onvanpaste tenders gemeet kan word. Om vertroue en die oppergesag van die reg te herstel, moet daar onmiddellik stappe gedoen word om die geïmpliseerde persone te vervolg – maar op langer termyn moet geleenthede vir nastrewing van eie gewin en spesiale gunste deur amptenare en reguleerders uitgefaseer word.

 

 

Facebook
Twitter
Whatsapp
Email
TUIS     NUUS     KONTAK ONS

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe to our newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

SLUIT AAN