Tyd vir buitengewone besigheid

JtVH5Khvihib7dBDFY9ZDR

Sakeliga hou webinaar vir besighede oor COVID-19  

“In belang van openbare gesondheid is dit nou tyd vir buitengewone besigheid. Sakeliga moedig sakeondernemings aan om redelike maatreëls te tref om die verspreiding van die COVID-19-siekte aan bande te lê en terselfdertyd kreatiewe maniere te kry om oop en ‘n lopende saak te bly.”

So sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakeorganisasie Sakeliga, na aanleiding van die regering se verklaring van ’n nasionale ramptoestand in Suid-Afrika.

Om lede en die sakegemeenskap in die algemeen by te staan, bied Sakeliga op Dinsdag 17 Maart ’n komplimentêre COVID-19-webinaar vir sakeondernemings aan. Die webinaar dek die makro-ekonomie, arbeidsbestuursopsies en operasionele aanpassingsmaatreëls. Dit word aangebied in samewerking met Dawie Roodt (Efficient Group), Christo Bester (LWO Werkgewersorganisasie) en Fergus Ferguson (Fergusmor Action Coach). Die webinaar sal op Sakeliga se Facebook-blad uitgesaai word.

“Op advies van kenners van aansteeklike siektes en in pas met internasionale tendense het die Suid-Afrikaanse regering Sondag verskeie openbare gesondheidsbeperkings aangekondig. Gesien die internasionale ontsteltenis en ’n plaaslike bevolking met relatief hoë risikovlakke is so ’n konserwatiewe benadering te verstane. Verdere maatreëls moet egter baie omsigtig benader word, aangesien dit die risiko inhou dat dit ’n potensiële aansteeklikesiekteramp kan vererger met ’n ekonomiese krisis wat die gesondheid en veiligheid van miljoene meer mense kan bedreig.”

Le Roux sluit af: “Ons doen dus ‘n beroep op openbare amptenare in Suid-Afrika om die gevolge van noodmaatreëls rakende COVID-19 deeglik te monitor en dit so gou doenlik weer af te skaf.”

Oor Sakeliga 

Met meer as 15 000 lede, ondersteuners en geaffilieerde kamers is Sakeliga een van die grootste sakeorganisasies in Suid-Afrika.

Oor die COVID-19-webinaar vir sakeondernemings 

Program

  • 13:00 – Sakeliga se kommentaar: Piet le Roux – Uitvoerende Hoof, Sakeliga
  • 13:10 – Die makro-ekonomiese omgewing: Dawie Roodt – Hoofekonoom, Efficient Groep
  • 13:40 – Arbeidbestuursopsies: Christo Bester, LWO Werkgewersorganisasie
  • 14:10 – Operasionele aanpassingsmaatreëls: Fergus Ferguson, Fergusmor Action Coach

Kry die regstreekse uitsending op Sakeliga se Facebook-blad.

Archives